Skrifberyming 49

Skrifberyming 49

1.  Barmhartige en getroue God,
Beskikker van ons deel en lot,
ons dank U vir die troue wag
ons weer betoon in hierdie nag.

2.  Verleen ons, na die soete rus,
opnuut gesondheid, krag en lus,
wanneer ons, deur die slaap verkwik,
ons willig tot die arbeid skik.

3.  Laat ons ons amp en plig, o Heer,
getrou behartig tot u eer;
en laat u guns ons werk bekroon,
u Gees ons lei en in ons woon!

4.  Sien op ons in genade neer,
en maak ons werk voorspoedig weer;
skeld ons, na u barmhartigheid,
o HEER, ons skuld en misdaad kwyt.

5.  Verlig ons hart wat duister is;
laat ons, na u getuienis,
die duiwel en sy werk weerstaan
en yw'rig in u weë gaan.

6.  Gee ons 'n seën by u Woord;
plant self die Kerk van Christus voort;
sterk leraars, sterk alle aardse mag
wat U beklee met u gesag.

7.  Troos almal wat deur smart getref,
hul hart vol angs tot U verhef:
maak ons in teëspoede stil;
hoor ons, o God, om Jesus wil.