Psalm 84

Psalm 84

1.  Hoe lieflik is u wonings, HEER
der leërskare! Hoe begeer
my siel en hunker van verlange
om na Gods woning op te gaan
en in u tempelpoort te staan
met jubelende lofgesange.
My hart en vlees, o God, roep luid
tot U wat leef, verlangend uit.

2.  Die mossie vind 'n huis, o HEER,
die swaeltjies lê in nessies neer;
en ek vind rus by u altare,
waar U vir my 'n woning maak
en U, my Koning, my bewaak.
Gedugte HEER der leërskare,
welsalig wie in u paleis
U altyddeur mag loof en prys!

3.  Welsalig is die mensekind
wat al sy sterkte in U mag vind,
en op mag gaan na Sions hoogte.
Wanneer hul haas van dors verkwyn,
dan is die HEER self hul fontein
waar dorsland smag van somerdroogte.
Ook sal 'n reën hul daar oordek
wat hul tot nuwe lewe wek.

4.  Hul sal van krag tot krag steeds gaan
totdat hul voet in Sion staan:
geeneen wat daar nie sal verskyn nie.
Let, HEER der leërskare, let
op my geroep, hoor my gebed,
en laat my nie in druk verkwyn nie.
Leen my 'n toegeneë oor;
o Jakobs God, gee my gehoor!

5.  O God, ons skild, ons teëweer,
sien tog op u gesalfde neer,
skenk hulp en heil aan Sions koning!
Een dag is in u huis my meer
as duisend waar ek U ontbeer;
veel liewer is ek in u woning
'n drumpelwagter, as gewend
aan yd'le vreugde in sondaarstent.

6.  'n Son en skild is onse HEER;
Hy sal genade gee en eer,
want Hy word nooit sy woord ontrou nie:
Hy sal aan almal wat opreg
Hom dien en wandel in sy weg,
die goeie nimmermeer onthou nie.
Welsalig, HEER, wie op U bou,
aan U geheel hom toevertrou.