Psalm 29

Psalm 29

1.  Eng'lemagte, loof die HEER,
gee die HERE sterkte en eer!
Al die duisende tesaam -
sing die ere van sy Naam!
Eng'le, trone, heerskappye -
laat dit opklink uit jul rye!
Dien God, groot deur almagsdade,
in die skoonste feesgewade!

2.  Dis sy stem wat, hooggedug,
rol en ratel deur die lug
as die onweerstorme woed
bo die donker watervloed;
en dit klink met groot vermoë majesteitlik deur die boë;
alles beef en staan verwonder
as die God der ere donder.

3.  Dis die HEER se stem wat spreek
as die trotse seders breek;
as hul spring soos kalwers op
Libanon se hoë top.
Berge kom saam in beroering:
Sirjon spring van skrikvervoering,
Libanon, met sederbosse,
huppel soos die wilde osse.

4.  Dis die HEER se stem wat vuur
uit die donderwolke stuur;
bliksempyle skiet Hy neer,
Kades bewe van dié weer.
Bosse word ontbloot, en reë
word oorval deur skrik en weë.
In die tempel van sy ere
sê hul almal: Dis die HERE!

5.  Onweerstorms het uitgewoed.
God sit bo die watervloed;
soos die kleur'ge reenboogkrans
sweef daarbo sy vredeglans;
en die grote wêreldstigter,
Hy, die sterke onweersrigter,
Hy laat op sy erf benede
druppels daal van seen en vrede.