Psalm 43

Psalm 43

1.  HEER, doen my reg, hoor my gebede,
en twis my twissaak tog vir my!
Want waar ek heengaan, skrede op skrede,
beleër my 'n bose en wrede,
'n huigelende teenparty
wat my my saak bestry.

2.  My God, ek steun op u vermoë,
U is die sterkte van my hart.
Waarom gaan ek dan neergeboë -
verstoteling van voor u oë,
my siel bekommerd en benard -
gedurigdeur in swart?

3.  Send, HEER, uit hemelse geweste
u lig en waarheid neer op my!
Laat dié my bring na Sions veste,
want daar is 't my die allerbeste,
waar ek, u woning ingelei,
my in u diens verbly.

4.  Dan gaan ek in na Gods altare,
tot God, my God, my vreugd en lied;
dan speel ek met die harpenare,
dan ruis vir U my blye snare -
vir U wat my, ná kort verdriet,
'n eewge vreugde bied.

5.  My siel, wat treur jy nog verslae
en is onrustig in jou lot?
Berus slegs in Gods welbehae;
strek uit jou hoop na beter dae.
Verrys, herleef op sy gebod -
my redder is my God!