Psalm 142

Psalm 142

1.  Ek roep tot God met groot geluid;
ek stort my klag soos water uit;
ek klaag my node in Gods oor,
want Hy sal my gebed verhoor.

2.  Wanneer my gees van druk versmag,
ken U my pad in lydensnag.
Hul het hul vangnet, HEER, vir my
arglistig op my weg gesprei.

3.  Na regs wend ek my oë - en
daar's niemand wat my nou wil ken;
daar's nou vir my geen toevlug meer,
en niemand sorg vir my, o HEER!

4.  Wat dan? Ek wend my tot U heen;
U is my skuilplek, U alleen.
U is, so lank ek leef, my deel,
dié God aan wie ek my beveel.

5.  Hoor in die nood my roepstem, HEER,
want ek is swak en uitgeteer;
maak my van my vervolgers vry,
want hul getal oorweldig my.

6.  Voer my uit die gevangenis
waarin my siel gekerker is;
dan sal 'n skare my omring
en vrolik van u weldaad sing.