Psalm 19

Psalm 19

1.  Die hoë hemelrond vertel met blye mond
Gods heerlikheid en eer,
en, wonderbaar deurglans, / vermeld die wye trans
die werke van die HEER.
Die dag roep orals luid / en duisendstemmig uit
dié loffelike sprake;
die nag se stille stap / meld kunde-en wetenskap
deur al sy donker wake.

2.  Hoe goddelik en skoon / en wonderbaar die toon
wat deur die skepping gaan!
Geen volk so onbegaaf, / geen oor so onbeskaaf,
wat nie dié taal verstaan.
Die prag van hemellyn / wat deur die wydtes skyn,
spreek daar so luid en kragtig
dat nêrens hart of oor / dié skeppingstaal nie hoor -
tot roem van God almagtig.

3.  Hy 't in die wonderbou / van eewge hemelblou
die son se tent gestig.
Dié 's soos 'n bruidegom / wat uit sy slaaptent kom
met glansende gesig.
Hy wandel soos 'n held / blymoedig in die veld
van hoë hemeltranse,
en het sy swaai en spoor / die ganse wêreld oor
wat blink van gloed en glanse.

4.  Die HEER se heil'ge wet / is rein en onbesmet,
en sal die hart bekeer;
sy woorde sal gewis / aan wie eenvoudig is,
die ware wysheid leer.
Sy regte heerskappy / dié sal ons hart verbly en onreg nooit gedoë;
en wat sy wet berig / is suiwer soos die lig
wat afstraal op die oë.

5.  Die HEER se vrees is rein, / dit open 'n fontein
van heil wat ewig bly.
Die wette van die HEER / is waarheid immermeer,
regverdig net soos Hy.
Hul's soos die fynste goud - / ja, fyner duisendvoud -
geen glans wat so kan straal nie;
geen heuning is so goed, / geen heuningdrup so soet -
daar's niks wat daarby haal nie.

6.  Hoe word, deur U vermaan, / my weg 'n helder baan,
en my verwagting skoon!
Hy wat u wet bemin, / die vind, o HEER, daarin
'n groot genadeloon.
Wie kan van voor af aan / sy dwalinge verstaan
en al wat hom ontbreek het?
HEER, reinig U my tog / van sondes wat daar nog
diep in my hart bly steek het.

7.  Bewaar my vir die kwaad / dat ek met trotse daad
u heil'ge wil weerstreef;
laat nie die sonde my / oorheers, dan sal ek vry
van groot oortreding leef.
Laat tog my tong en mond, / my hart se diepste grond,
o HEER, op wie 'k vertrou het,
U welbehaaglik wees / wat in my hart kan lees -
my Rots, op wie 'k gebou het.