Psalm 146

Psalm 146

1.  Prys die HEER met blye galme,
o my siel, daar 's ryke stof!
'k Sal, solank ek leef, my psalme
vrolik toewy aan sy lof
en Hom, wat sy guns my bied,
altyd groot maak in my lied.

2.  Moet op prinse nie vertrou nie,
by wie niemand heil kan vind -
op die mens jou hoop nie bou nie;
want as God hul gees ontbind,
keer hul na die aarde weer
en hul raadslag stort terneer.

3.  Salig hy wat in die lewe,
sonder hulp en sonder raad,
as hom alles wil begewe,
vlug tot God, sy toeverlaat;
en ook in die swartste nag
op die HERE alleen bly wag.

4.  Dis die HEER wat aarde en hemel,
die getuies van sy mag,
met die see en wat daar wemel,
voortgebring het deur sy krag;
wat, onwrikbaar in sy trou,
altyd sy beloftes hou.

5.  Dis die HEER wat aan die arme
in sy druk laat reg geskied,
wat uit liefderyke erbarme
hongeriges spyse bied;
wat gevang'nes vryheid skenk
en hul in hul smart gedenk.

6.  Dis die HEER se mededoë
wat die blinde oog verlig;
wie in stof lê neergeboë,
word deur Hom weer opgerig.
Hy bemin die wat opreg
wandel in sy woord en weg.

7.  Dis die HEER wat vreemdelinge
met 'n wakende oog aanskou,
weduwees in twisgedinge,
met hul wese, staande hou.
Maar sy arm, hul steun en hoop,
stuit die bose in sy loop.

8.  Dis die God der leërmagte,
troue Bondsgod van weleer,
God van wordende geslagte,
tot in ewigheid die HEER.
Sion, sing die God ter eer,
prys sy grootheid, loof die HEER!