Psalm 66

Psalm 66

1.  Juig, aarde, juig met blye galme,
laat jubels opstyg uit die stof!
Sing tot Gods eer jul dankb're psalme,
en maak Hom heerlik in jul lof.
Sy grootheid ken geen maat of perke,
geen grens is daar vir sy gesag;
die vyand sien met skrik sy werke
en buig hom kruipend voor sy mag.

2.  Die aardryk met sy verste lande
moet biddend voor die HERE buig;
die volke van die verste strande
moet met hul lofstem voor Hom juig.
Kom en aanskou Gods wonderdade,
wat is sy werking hoog gedug.
Smeek Hom, o volke, om genade,
want niemand kan sy hand ontvlug.

3.  Die HEER het deur die woeste seë
en wilde strome 'n pad gebaan;
soos wand'laars op gebaande weë
het Hy sy volk daardeur laat gaan.
Vir ewig heers Hy uit die hoë
en straal sy glans op aarde af;
oor al die volke gaan sy oë
om die oortreders streng te straf.

4.  Laat, aardse volke en wêreldmagte,
vir Isr'els God jul lofsang hoor;
want Hy het nie in lydensnagte
ons voet laat uitgly uit sy spoor.
U het ons in vergange tye,
o HEER, getugtig en bedroef,
en ons gelouter deur die lye
nes silwer deur die vuur beproef.

5.  U het, o HEER, deur vyandshande
ons in die vangnet ingevoer;
U het rondom met enge bande
in diensbaarheid ons ingesnoer;
die oorlogsperd en sy beryder
het ons vertrap; deur vloed en vuur
het ons gegaan - maar ons Bevryder
het sy verkwikking ons gestuur.

6.  Ek sal, verlos uit doodsgevare,
nou dat ek weer kan asemhaal,
my offers bring op u altare
en my geloftes U betaal.
Ek sal laat opgaan in die vlamme
die vetste vee uit veld en wei;
ek sal by rookwerk van die ramme
ook beeste en bokke toeberei.

7.  Kom luister toe, o Godgesinde!
Kom, almal wat die HERE vrees!
Ek sal vertel aan al sy vrinde
wat Hy gedoen het aan my gees.
Ek het geroep, God het geluister
toe alles nag was om my heen;
en voor die lig skyn deur die duister,
was God my lof, net Hy alleen.

8.  Was ek deur ongeregtighede
en hul aanloklikheid bekoor,
dan het die HEER na my gebede
en jammerklagte nie gehoor.
Maar Hom, die kenner van die harte,
was ook my diepste wens bekend;
Hy get gehoor, en in my smarte
die oor na my gebed gewend.

9.  Lof sy Gods goedertierenhede,
sy Naam sy ewig lof en prys!
Hy het gehoor na my gebede,
my onverhoord nooit afgewys.