Skrifberyming 43

Skrifberyming 43

1.  Hy wat heilig en waaragtig
en omkleed is met gesag,
wat die sleutel dra van Dawid,
hoogheidsteken van sy mag -
daar is niks wat Hom kan hinder,
wat sy magsvermoë stuit,
wat kan sluit as Hy wil open,
wat kan open as Hy sluit.

2.  Al jou werke sien en ken Ek,
in hul skoonheid blink hul uit.
En Ek het 'n deur gegewe
wat geeneen vir jou kan sluit.
Dat jou krag gering is, weet Ek,
maar jy eer my Woord as skat,
en jy 't nie my Naam verloën
wat die kennis vol omvat.

3.  Oë-dienaars, trotse pralers
uit die huis van Israel,
is 'n satansinagoge
wat jou met verdrukking kwel.
Maar uit hul sal Ek laat aankom
wat hul voor jou voet sal buig;
en dat Ek jou liefgehad het, 
sal hul bly voor jou getuig.

4.  Omdat jy die Woord bewaar het
van my lyde en lydsaamheid,
is Ek jou ook 'n Bewaarder
in die uur van sware stryd
as die tye van besoeking
(elke mond sal dan verstom!)
oor die aarde en sy bewoners
in die felste smarte kom.

5.  Ek kom gou! Hou dan bestendig
wat my mond aan jou beloof.
Wees net waaksaam, en laat niemand
jou die eerkroon ooit ontroof.
Wie oorwin, hom sal'k bevestig:
as 'n suil sal hy verrys,
om daar nooit weer uit te gaan nie,
in my God se pragpaleis.

6.  Op hom sal'k die Godsnaam skrywe,
onuitwisbaar sal dit straal,
met die naam ook van die Godstad
wat van God op aarde daal.
Daar skryf Ek my nuwe Naam ook,
waar hy draer van sal wees.
Laat wie ore het, dan luister
na die roepstem van die Gees.