Psalm 50

Psalm 50

 
1.  Die grote God, die HERE spreek!
Hy roep, Hy daag die aard', van waar
die son in goudglans uit kom breek
tot waar hy sterwend neer sal vaar.
Uit Sion, sonder voorbeeld skoon,
sprei God sy ligglans ver ten toon.

2.  God kan nie swyg. Hy kom, Hy kom
met vuur wat voor Hom heen verteer!
Geweldig storm dit rondom Hom:
Aartsregter daal op aarde neer
en roep die aarde en hemel aan
om, as Hy straf, Hom by te staan.

3.  "Daag hier my volk, roep almal by
wat mét hul offers altyd weer
verbonde maak van trou aan My."
Gerig begin!... Die heemle eer
Gods reg en gee getuienis
dat Hy alleen regverdig is.

4.  "Kom, Isr'el, luister na my spraak:
Ek is jou God, my vok is jy!
Ek sal jou geen verwyte maak
oor offers aan My toegewy:
jou offerbloed en offergeur
is voor My altyd, altyddeur.

5.  "Geen stier hoef 'k uit jou huis te lei
of offerdiere uit jou kraal"
die diere wat in wildheid wei,
kan Ek van duisend berge haal.
Die voëls op die berge vry,
al wat beweeg - dit hoort aan My.

6.  "Dus sal 'k, o mens, na jóú nie kom,
en het Ek honger, jóú nie vra:
die aarde is my eiendom
en al die volheid wat hy dra.
Sou Ek op stierevleis dan wag,
op bloed van bokke, vars geslag?

7.  "Kom, offer Gode dank en prys!
Geloftes aan die HEER gedaan,
betaal dit Hom met eerbewys!
En roep in tyd van nood My aan.
Ek sal jou uithelp, sê die HEER;
en dankbaar-bly sal jy My eer."

8.  Aan wie sy wet verwerp, sê God:
"Wat meld jy nog van my verbond?
En spreek jy nog van my gebod?
My heilighede in jóú mond! -
terwyl jy tog my roede haat,
my woord verwerp om My te smaad.

9.  "As jy 'n dief sien, voel jy bly;
aan ontug is jou hart verknog.
Jou mond laat jy in boosheid vry,
jou tong die vleg 'n string bedrog.
Jou broer bejeën jy met kwaad,
terwyl jy skimpend van hom praat.

10.  "Die dinge doen jy... sou Ek swyg?
Ek kom en sal my oordeel vel.
Ek sal jou nie met strawwe dreig,
maar alles jou voor oë stel.
O Godvergeters, vrees my wet,
waar Ek verskeur, kan niemand red!

11.  "Hy wat sy dank My offer met
'n hart gestem tot lof en prys,
wat op sy weg en wandel let -
hy is dit wat My eer bewys.
En, daar hy op my guns vertrou,
sal hy met vreug my heil aanskou."