Psalm 128

Psalm 128

1.  Wie deur Gods vrees bewoë,
trou op die weg wil gaan,
waar hom Gods wil voor oë
en klaar getekend staan -
die arbeid van sy hande
sal hy met vreug geniet
wanneer die koringlande
met seen hul opbrings bied.

2.  Soos ons met welgevalle
die wingerdstok aanskou,
en tel die trossetalle
wat ons die blare ontvou
so sal sy in jou lewe,
die huisvrou van jou jeug,
aan jou die volheid gewe
van huiselike vreug.

3.  Soos jong olyfboomplante,
wat uitspruit sterk en fris,
so bloei aan alle kante
jou kinders om jou dis.
O wie van die getal is,
hy wat die HERE vrees,
vir wie God een en al is -
hy sal geseënd wees.

4.  Mag ryke seëninge
uit Sion jou bedou;
mag jy dié goeie dinge
van Sionstad aanskou!
mag jy nog, op jou bede,
'n nakroosseen verkry!
En, God van alle vrede,
mag Isr'els vrede bly!