Psalm 130

Psalm 130 (beryming 1)

1.  Uit dieptes, gans verlore,
van redding ver vandaan,
waar hoop se laaste spore
in wan hoop my vergaan;
uit diep van donker nagte
roep ek, o HERE, hoor,
en laat my jammerklagte
tog opklim in u oor!

2.  As U, o HEER, die sonde
na reg wou gadeslaan,
wie sou een enk'le stonde
voor U, o HEER, bestaan?
Maar nee, daar is vergewing
altyd by U gewees;
daarom word U met bewing
reg kinderlik gevrees.

3.  Soos een wat op die mure
as wagter uitgestel,
gedurigdeur die ure
met sy gedagte tel -
so wag my siel, en sterker,
gedurig op die HEER,
tot Hy, die Ligbewerker,
die nag in daagraad keer.

4.  Hoop, Isr'el in jou klagte;
vertrou, o volk, wat treur;
sy guns verduur die nagte,
sy heil breek eind'lik deur.
Dan skyn 'n soete vrede:
gans Israel word vry
van ongeregtighede.
HEER, doen ook so aan my!

Psalm 130 (beryming 2)

1.  Uit dieptes van my sonde,
waar wanhoop my verteer,
roep ek in hierdie stonde
tot U, my God en HEER!
Wil na my smeekstem luister,
let op my pyn en smart;
laat in u ore fluister 
die weeklag van my hart.

2.  Sou U as regter handel,
o HEER, en gadeslaan
ons goddelose wandel,
ag, wie sou dan bestaan?
Maar nee, daar is vergewing
altyd by U gewees:
So word U, HEER, met bewing
reg kinderlik gevrees.

3.  Ek hoop steeds op die HERE,
my siel wag ongestoord,
ek pleit soos ander kere
op sy onfeilbaar woord...
Soos brandwag deur die nagte
na rooidag-môre smag,
so bly ek in my klagte
op sy verlossing wag.

4.  Hoop, Isr'el, op die HERE
in bitter nood en stryd:
verlossing tot sy ere
kom ook vir jou op tyd.
Hy maak op hul gebede
eens al sy kinders vry
van ongeregtighede:
O God, doen so met my.