Psalm 17

Psalm 17

1.  0 HEER, verleen my tog gehoor;
my saak - U weet dit - is regverdig.
En wil my smeking nou verwerdig
dat dit kan opklim in u oor.
Alleen deur waarheidsdrang bewoë
beef van my lippe die gebed:
ag, as U maar my saak wou red,
U wat geen onreg wil gedoë.

2.  U weet wat in my hart is nou,
want dikwels in die stille nagte
het U my hart en my gedagte
tot in my diepste grond deurskou.
My oog, verhelderd deur u rede,
staar nou die mens se doen verby;
deur U geleer, sal ek vermy
die paaie van ongodd'likhede.

3.  My treë hou vas aan u spoor,
en dat my voet nie weg sou gly nie,
is my geen helper so naby nie!
Ek roep; ag, wil my tog verhoor.
U is my redder - niemand anders!
Verleen my guns en onderstand,
wanneer ek wegskuil by u hand
vir alte sluwe teëstanders.

4.  Net soos die appel van die oog,
bewaar my so, Getroue-en Sterke!
Oordek my met u eewge vlerke,
met u bewaring van omhoog;
sodat die skaar wat my omring het,
vergeefs na my sal soek, o God,
vergeefs sal jubel oor my lot
as hul al amper my bespring het.

5.  Niks wat hul meegevoel meer wek,
en niks weerhou hul trotse rede.
Alreeds omsingel hul ons skrede
en wil hul op die grond ons strek.
Geen leeu is slimmer in sy planne
as hul wat op my lê en wag;
geen ondier, vinnig op die jag,
is sluwer as die sluwe manne.

6.  Staan op, o HEER, en wil hul stuit!
Verlos my van die goddelose;
u hand, u swaard, laat dit die bose
terneer werp; manne wie se buit
as toornskat nie met hul sal sterwe,
maar wat dit as 'n sondesaad
weer aan hul kinders agterlaat,
wat dit húl kinders weer laat erwe.

7.  'n Beter lot is dan my deel:
as ek ontwaak, ná my benouing,
sal ek U sien in klare-aanskouing,
versadig met u beeld geheel.