Psalm 24

Psalm 24

1.  Die ganse aarde, land en meer
met al wat leef, is uwe, HEER!
U het die waters in hul woede
beteuel in die skeppingstond
en het die aarde vas gegrond
op wye seë-en watervloede.

2.  Wie sal die Godsberg op kan gaan,
en wie sal op sy top kan staan,
omskitter deur Gods heilighede?
Die man wat rein van hart en weg,
sy siel aan nietigheid nie heg,
en trou is aan sy woord en ede.

3.  Geregtigheid daal op hom neer;
'n seën verkry hy van die HEER,
wat stil Hom volg op al sy skrede.
Dit is die ware Israel,
die volk wat vra na Gods bestel,
en wat Hom soek in hul gebede.

4.  Verhoog, o poorte, nou die boog;
rys, eewge deure, rys omhoog,
want Hy klop aan, die Erekoning!
Wie is die Vors, vol majesteit?
Die HEER, geweldig in die stryd -
dis Hy wat opstrek na sy woning.

5.  Rys op, o poorte-en deure! Rys!
Wie is die Vors wat dit kom eis?
Hy, wat oordek met roem en ere,
sy tien en tien maal duisend tel
as Hy sy leërorde stel -
Hy is die Vors, die HEER der here!