Psalm 12

Psalm 12

1.  Red, red, en hoor, o HEER,
geen vrome is daar meer;
getrouheid, in die land reeds klein,
het nou daaruit verdwyn.

2.  Die mens spreek onopreg,
'n woord met leu'ns deurvleg;
die taal wat van hul lippe gly,
is enkel vleiery.

3.  Mag God die lip uitroei
waarvan die vleitaal vloei,
die tong wat vry en onbewaak
vermetel is van spraak.

4.  Hul sê: "Ons tong is sterk,
in slimheid onbeperk,
Ons lippe is aan ons getrou;
wie kan ons dan weerhou?"

5.  "Oor wie verkwyn in druk
en sug in ongeluk,
sal Ek nou opstaan in verweer,
hul uitred, " sê die HEER.

6.  Die woorde van die HEER
is rein, gelouterd meer
as allersuiwerste metaal,
gereinig sewe maal.

7.  Die HEER sal in gevaar
sy volk altyd bewaar;
as lis en laagheid triomfeer
dan waak en sorg die HEER.