Psalm 149

Psalm 149

1.  Sing tot Gods eer met lof en dank 
'n nuwe lied met nuwe klank,
o al sy gunstelinge!
Laat Isr'el voor sy Maker juig,
laat Sion voor sy Koning buig,
die HEER van alle dinge!

2.  Hul moet sy Naam en roem laat hoor
in feesgesang en sangerskoor,
met harp en trommelslae!
Die HEER 't sy volk weer guns betoon,
sagmoediges met heil gekroon
uit vrye welbehae.

3.  Laat hulle juig in staat van eer,
juig op die bed waar hul weleer
die lydensug geslaak het!
Gods lofverheffing in hul stem,
die slagswaard in hul hand geklem,
wat tot die straf ontwaak het!

4.  Selfs konings moet in kettings gaan,
en eedles, in die boei geslaan,
is magt'loos krygsgevange.
Die eeue-oue oordeel word voltrek;
die HEER 't sy volk met roem oordek.
Loof Hom, my jubelsange!