Skrifberyming 26

Skrifberyming 26

1.  My siel herdink met sidderbewe
hoe God, met majesteit beklee,
deur wolke en donkerheid omswewe,
sy wet op Horeb het gegee:

2.  Ek is die HEER, jou God en Koning,
wat uit Egipte jou bevry;
jou uitlei uit jou slaafse woning:
dien dan geen gode buiten My.

3.  Ek tog, Ek ywer teen my haters;
maak dan geen beeld om die te aanbid; 
Ek straf hul streng, die wetverlaters,
tot in die derde en vierde lid.

4.  Maar Ek bewys barmhartighede
en bly aan duisende getrou,
wat tot My kom met hul gebede
en wat my wette onderhou.

5.  Misbruik die Naam van God die HEER nie,
en bly altyd jou eed getrou,
want hulle wat sy Naam nie eer nie,
sal God geensins onskuldig hou.

6.  Gedenk die sabbat: in ses dae
het God die wêreld toeberei;
maar Hy het, na sy welbehae
die rusdag aan sy diens gewy.

7.  Gee eer aan vader en aan moeder,
want God regeer ons deur hul hand;
dan sal die HEER, die troue hoeder,
ons seën in ons vaderland.

8.  Jy mag nie doodslaan, jou nie wreek nie,
maar liefde moet jou steunsel wees.
Jy mag die heil'ge eg nie breek nie,
maar, kuis van hart, die HERE vrees.

9.  Laat nooit jou voet die weg betree nie
van hom wat roof nog diefstal vrees.
Jy mag geen vals getuig'nis gee nie,
maar laat jou woorde waarheid wees.

10.  Daar mag nooit in jou hart meer kom nie
die minste lus teen Gods gebod.
Maar wie se mond sal nie verstom nie
as U beveel, o heil'ge God!

11.  Ons het, o HEER, u wet weerstrewe,
genade is al waar ons op pleit;
gee ons in Christus nuwe lewe,
om dit te doen uit dankbaarheid.