Sb 17

Skrifberyming 17

1.  Wees nie besorgd nie oor jul lewe,
oor wat die harte neerwaarts trek:
"Wat sal ons eet, waar vind ons laafnis?
Wie skaf die kleed wat ons moet dek?"
Is lewe en liggaam dan nie meer nie
as alles wat net kommer wek?

2.  Aanskou die voëls van die hemel,
dat hul nie saai of maai of swoeg.
Tog voed die Hemelvader hulle.
Het Hy vir jul dan nie genoeg?
En wie kan ooit in sy besorgdheid
een el maar by sy lengte voeg?

3.  En wat is jul besorgd oor kleding?
Let op die lelies, hoe hul leef,
hoedat hul opbloei uit die velde,
dat hul nie swoeg of spin of weef.
En Salomo in al sy glorie
was nie deur soveel skoons omgeef.

4.  As God die gras, in duur kortstondig, -
wat hede in die veld nog groei,
maar môre aan dorheid oorgegewe,
verskrompeld in die vuurvlam gloei -
also beklee, hoe meer dan julle
wat julle in kleingeloof vermoei?

5.  Vra dan nie meer: "Hoe sal ons lewe?
Waar is die kleed wat ons moet dra?"
Want hierdie dinge jaag die heid'ne
met kwelling en besorgdheid na.
Maar julle Vader in die hemel,
Hy ken jul nooddruf voor jul vra.

6.  Soek eers die koninkryk der heemle
en Gods geregtigheid; dan laat
Hy seën druppel uit die hemel -
vir elke dag die dag se maat.
Want elke dag dra self die sorge
vir elke dag se nuwe kwaad.