Skrifberyming 41

Skrifberyming 41

1.  Die Seun van God, die hoogste Heer,
Hy send sy magbevele neer!
Sy oog is soos 'n vlam van vuur,
sy voet soos koper, blink geskuur

2.  Ek ken jou ywer, ongedoof,
jou liefde en diens en jou geloof,
jou lydsaamheid, nog onverkort,
en dat jou werke al skoner word.

3.  Maar daar is een wat strikke weef:
Isebel het by jou herleef;
sy wat die offermaaltyd sprei,
my volk tot sinnediens verlei.

4.  Aan hulle wat my woord bewaak,
die Satansdieptes nie genaak,
aan die getroues gee Ek las:
kleef enkel aan my woorde vas.

5.  Aan wie oorwin, onwankelbaar
my werke tot die end bewaar:
hy sal oor nasies triomfeer,
met ysterstaf sal hy regeer;

6.  soos kruike, so te pletter slaan
die leërs teen hom opgestaan.
Dis afglans van die heerskappy
wat Hy, die Vader, gee aan My.

7.  Boodskapper van die dag wat kom,
die môrester, gee Ek aan hom.
Ontwaak dan, slapers van die nag,
gee op die Gees se roepstem ag!