Psalm 72

Psalm 72

1.  Gee aan die Koning, HEER, u regte
en u geregtigheid
aan Koningskind, dat Hy u knegte
kan rig met wys beleid.
Dan vind u volk weer 'n beskermer,
een wat hul saak besleg,
ellendiges weer 'n ontfermer
wat oordeel volgens reg.

2.  O saalge ryk waar enkel vrede
oor berge en heuwels sweef;
die Vors na Gods geregtighede
sal heers oor wat daar leef;
waar Hy in strenge strafgedinge,
sy swaard die skede ontruk,
die arme ophef en geringe,
maar neerslaan wie verdruk.

3.  So lank die son se flonkervure
'n lig by dag sal wees,
die maan 'n lamp by donker ure -
so lank sal hul Hom vrees.
Hy sal so mild wees so die reën
wat neerdaal op die gras;
soos druppels wat met volle seën
besproei die veldgewas.

4.  Dan kom die tyd van welbehae,
wanneer die vrede bloei;
regverdiges sal in sy dae
in volle wasdom groei.
Van see tot see - geen grensomlyning,
orals gebied sy staf,
totdat die maan, die bleek verskyning,
val van die hemel af.

5.  Hul kniel, uit lande vergeleë;
sy vyand lek die stof;
en Tarsis voer, oor verre seë,
geskenke na sy hof.
Die konings van die verste strande
bring almal gifte mee;
en Skeba, met die ver weg lande,
stuur goud en vredesbee.

6.  Ek sien al vorste, ryk en magtig,
wat buigend voor Hom staan,
en al die nasies wat eendragtig
Hom dien as onderdaan.
Want Hy sal die verstotelinge,
die wat geen helper het -
die stilverloorne en geringe -
sal Hy verhoor en red.

7.  Hul roep: dit is vir Hom die tyding:
sy arm is al gereed;
vir hul is daar by Hom bevryding
uit alle nood en leed,
Dreig daar geweld van alle sye,
al gaan dit nog so hoog,
hul bloed, hul trane en hul lye
is dierbaar in sy oog.

8.  Mag Hy, die Koning, altyd lewe!
Mag hul uit Skeba goud
met onbekrompe hand Hom gewe
met heilbee duisendvoud.
Mag koring, selfs langs hoë hange
van berge uitgesaai,
soos Libanon laat hoor sy sange
wanneer die bergwind waar

9.  Mag die bewoners van die stede
daar's geen ellende meer -
soos plante groei by volle vrede
en sing die Vors se eer.
Mag nooit sy Naam en grootheid kwyn nie
dit is 'n voorspoedsuur! -
geen sonneglans so helder skyn nie
of langer wees van duur!

10.  Laat al die volke uit wydste kringe
aan Hom hul dank bewys
vir matelose seëninge,
en Hom gelukkig prys.
Klim op, my lof, na hoër sfere!
Van bowe kom die seen;
want Isr'els God - aan Hom die ere! -
doen wonder, Hy alleen.

11.  Sy Naam, bo alle naam verhewe,
sy uit eerbiedenis
die volle roem en eer gegewe
so lank daar wêreld is!
En laat so ver die sonlig bewe,
so ver die sonpyl skiet,
sy heerlikheid die aarde oorswewe!
En "Amen" sê my lied!