Geskiedenis

Die amptelike naam van die kerke is die Vrye Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (VGKSA).

Ons erken Jesus Christus as Heer van die kerk. Ons glo ons is deel van die een, heilige, katolieke Christelike kerk wat Christus besig is om in hierdie wêreld te versamel.

Die woord “Gereformeerd” dui daarop dat hierdie kerke beïnvloed is deur die Reformasie van die 16de eeu. Die Reformasie was ‘n invloedryke beweging wat ‘n genesende uitwerking op die Christendom in Europa gehad het. Vooraanstaande figure was mans soos Luther, Calvyn en Zwingli. Danksy die Reformasie is oppervlakkigheid in die kerk en die absolute gesag van tradisies vervang deur die gesag van die Bybel vir persoonlike lewe, die kerk en die gemeenskap. Die invloed van die Reformasie het ook in onlangse eeue na Suid-Afrika versprei.

Die VGKSA is nie dieselfde as die Gereformeede Kerke van Suid-Afrika nie. Ons gebruik die woord “Vrye” om ons van hierdie kerkverband te onderskei.

Waarvan is die woord “Vrye” afgelei?

Die eerste Vrye Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika is in 1950 deur Nederlandse immigrante gestig. Die byvoeging Vrye kan dalk beter verstaan word as ‘vrygemaak’, wat beteken ons glo elke individuele gemeente funksioneer as die liggaam van Christus en dat die plaaslike kerkraad die hoogste gesag is, nie die sinode nie. Hierdie onderskeid beklemtoon die feit dat gemeentes en gemeentelede slegs deur die Woord van God aan mekaar verbind is, en dat ‘n sinode nie kan voorskryf hoe die Bybel geïnterpreteer moet word nie. Die sinode neem besluite slegs oor sake wat die plaaslike gemeentes in gemeen het, en selfs dan moet die plaaslike kerkraad die besluite goedkeur. Dit onderskei ons van ander kerke, byvoorbeeld die Rooms-Katolieke Kerk.

Die plaaslike kerke het gekies om in ‘n kerkverband te verenig wat die Vrye Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika genoem word.

Latere Ontwikkelings

Daar was jare lank slegs drie kerke in die VGKSA, naamlik in Pretoria, Johannesburg en Kaapstad, waar lidmate hoofsaaklik uit Nederlandse immigrante bestaan het. Vandag is die kerklandskap egter multikultureel.

Die kerkverband het uitgebrei met die stigting van die VGK Pretoria-Maranata nadat die VGK Pretoria te groot geword het en ‘n tweede gemeente wenslik geag is. In die 2000’s het verdere uitbreiding plaasgevind toe drie kerke as gevolg van sendingwerk in Mamelodi en Soshanguve-Noord in Gauteng, asook in Belhar naby Kaapstad gestig is. Sedertdien het deurlopende sendingwerk vrug opgelewer en nog ‘n kerk is in Oktober 2019 in Wesbank, Kaapstad gestig.

Ondanks verskille in ras, taal en kultuur, ervaar ons ‘n sterk eenheid in Christus en sy Woord.

Onlangse Ontwikkelings

Sedert 1976 is deurlopende samesprekings met die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika gehou met die oog op moontlik eenwording. Dit het veel groter samewerking tussen die kerkverbande tot gevolg gehad en is ‘n belowende ontwikkeling in sowel Gauteng as die Wes-Kaap.

Kenmerke van die VGKSA

Die VGKSA aanvaar alles wat in die Bybel geskryf staan as die Woord van God. Dit beteken onder meer die volgende: in die kerke is daar respek vir die betroubaarheid van die Bybel, wat op sy beurt beteken dat persoonlike gedagtes en gevoelens deurlopend getoets word aan dit wat in die Woord geskryf staan. Dit beteken ook dat die Bybel aanvaar word as riglyn vir die daaglikse lewe.

Ander noemenswaardige kenmerke van die VGKSA is:

  • net soos enige gemeente bestaan hulle uit sondige mense wat deurlopend na God teruggeroep moet word en aan sy Woord herinner moet word;
  • hulle begeerte is om getrou aan die gereformeerde belydenisse te bly, wat ‘n opsomming van die Skrif is;
  • hulle streef na goeie optrede in die kerklewe soos uiteengesit in die kerkorde wat deur die algemene sinode van die kerkverband aanvaar is;
  • hulle voel verantwoordelik vir die samelewing;
  • hulle word opgeroep om die Goeie Nuus van Jesus Christus deur sending- en evangelisasie-aktiwiteite aan ander mense te versprei; en
  • hulle wens opreg om na eenheid te streef met ander kerke en kerklidmate wat graag die Here ???? volgens sy Woord wil dien.