Sb 24

Skrifberyming 24

1.  Geseënd sy bo alle dinge
die eewge God en Vader! Hy
het in die hemel seëninge
vir ons in Christus toeberei.
Na die besluit, uit Hom gebore
en ewig in sy wese vas,
het Hy in Christus ons verkore
voordat daar tyd of wêreld was.

2.  Hy het deur eie wil bewoë,
dat niks ons ooit weer sou vervreem,
om Christus wil, uit mededoë,
ons as sy kinders aangeneem;
dat ons, by guns so vry gegewe,
in hart en wandel onbevlek, 
sou leef voor Hom, in liefde lewe,
wat lewe in dooie harte wek.

3.  Tot roem en prys van Gods genade,
die grond van ons behoudenis,
sing ons nou van sy reddingsdade
in Hom wat die Geliefde is.
Uit Hom in wie ons nou weer vry is
van skuld, deur sy verlossingsbloed,
in Hom, in wie die heil berei is,
kom seënstroom ons tegemoet.

4.  Die bron wat God vir ons bevry het,
wat mild'lik aanloop deur die tyd -
dis wysheid wat die stroom gelei het
en loutere bedagsaamheid.
Geheimenis eers diep en bondig
gevestig in Gods diepe wil,
sy welbehae word verkondig,
die ewigheid is nie meer stil.

5.  Nou bring die tyd in volheidskringe
die vrug van Gods geheimenis -
tot Christus Hoof van alle dinge
op aarde en in die hemel is.
In hom is dit dat ons verkry het
die erfdeel ons verordineer,
wat God se wil ons voorberei het,
die wil wat alles hier regeer.

6.  Gods werk, eers eind'loos hoog verhewe,
daal op 'n aarde in sonde oud,
sodat nou uit ons donker lewe
sy lof kan opstyg duisendvoud.
In toebereide harte en ore,
van volk tot volk, van oord tot oord,
ruis nou - 'n mensheid word herbore! -
die nuwe reddingsboodskap voort.

7.  Ons sal, in lewe en in sterwe,
Gods eiendom vir altyd wees;
ons sal wat Hy beloof het, erwe,
verseël deur die Heil'ge Gees.
Hy is die waarborg ons gegewe,
die eerst'ling van die volle som;
ons sal die reddingsdag belewe -
die gloriedag van God, wat kom.