Psalm 35

Psalm 35

1.  Verdedig tog my regsaak, HEER,
en laat u hand my vyand keer!
Gryp áán die wapens van die stryder:
die skild en spies, o my Bevryder!
Belet hul optog, tree vooruit
om my vervolgers plots te stuit.
Sê aan my siel wat op U wag:
"Ek is jou heil en veil'ge krag."

2.  Beskaam hul in hul trotse waan,
wat wreed my na die lewe staan!
Laat hulle wyk in onvermoë
wat net my onheil het voor oë!
Laat hul soos kaf word voor die wind!
Die Engel Gods, laat Hy hul vind,
verstrooi, verjaag op donker pad.
En maak dit voor hul voete glad!

3.  Want sonder oorsaak het hul my
'n kuil gegraaf, 'n net gesprei.
Laat onheil gou die bose manne
beskaamd maak met hul onheilsplanne!
Laat hulle struikel in hul gang;
die net vir my gespan, húl vang;
en laat, terwyl ék dan bly staan,
húl daarin val en ondergaan!

4.  My siel sal in die HERE juig
en Hom, vir hulp, my dank betuig;
my beend're saam spreek tot u ere
en sê: "Wie is soos U, o HERE,
wat die ellendiges bevry
van dié wat sterker is as hy?
Die arme - dat hy U mag loof -
verlos van dié wat hom beroof?"

5.  Boosaardig kom met vrae aan
getuies wat my teëstaan,
my wil verskrik - die tongehelde
wat enkel kwaad vir goed vergelde
en - vir my siel, verlatenheid.
Toe hulle siek was, al die tyd,
het my 'n rougewaad omknel,
ek het my siel met vas gekwel.

6.  Ook my gebed het altyd weer
my in die boesem t'ruggekeer.
Soos oor 'n vriend, soos oor 'n broeder,
soos een wat weeklaag oor sy moeder,
het ek getreur, in rou gebuk.
Maak as ek struikel in my druk, 
dan kom hul vrolik bymekaar
en span hul saam, die ganse skaar.

7.  Daar 's tafelspotters, roekeloos,
en lae mense, slinks en boos,
wat almal breek deur wet en bande,
en teen my kners hul met hul tande.
Hoe lank sal U dit sien, o God?
Vergun my siel 'n beter lot;
verlos my deur u sterke hand
uit hierdie leeus se klou en tand!

8.  Nou sal in die teenwoordigheid
van wie U ken, u majesteit
my liefde en lofsang weer gewy wees.
Laat hul maar net nie oor my bly wees
wat sonder oorsaak met my twis
en sonder grond my vyand is.
Laat hul nie juig wat in hul waan
die oë skimpend op my slaan.

9.  Hul mond spreek nie van vrede, nee;
hul hart, wat diep sy planne smee,
bedink die fynste listighede
teen stille minnaars van die vrede.
Hul blaf my aan met ope mond;
hul skimptaal wat my diep deurwond,
bespot my leed; hul is verheug
oor al my smart en ongeneug.

10.  U sien dit aan. Ag, swyg nie stil;
beslis, o HEER, tog my geskil;
ontwaak, tree op tot my beskerming,
en toon my nou u groot ontferming!
Doen reg aan my in hierdie stryd,
o HEER, na u geregtigheid;
en laat die spotters, dag aan dag,
nie juig nie oor my treurgeklag!

11.  Laat hul nie sê wat my bestry:
"Ha, nou het ons ons wens verkry!"
Laat my dié smaad nie ondervind nie
dat hul kan sê: "Ons 't hom verslind" nie!
Laat hul veeleer beskaamd daar staan
oor al die kwaad my aangedaan,
sodat my trotse teenparty
hom nooit kan groot hou teenoor my.

12.  Laat hulle juig en blydskap smaak
wat bly is oor my goeie saak.
Laat hul, by elke vreugdedaling,
weer aanstem met 'n vreugdherhaling:
"Die HEER is groot en goed daarby,
wat vrede vir sy kneg berei."
Dan meld my tong met stil ontsag
u reg, u lof die ganse dag.