Psalm 33

Psalm 33

1.  Sing vrolik, hef die stem na bowe;
regverdiges, verhef die HEER!
Dit pas opregtes God te lowe
en uit te jubel tot sy eer.
Laat die psalmgesange - stem van sterk verlange
om die HEER te dank -
by die smeltend-skone harp- en sitertone,
liefde en lof verklank!

2.  Sing nuwe sange, nuutgebore
uit aandrif van die skoonste kuns;
trompetgeklank deur tempelkore
moet danksê vir Gods nuwe guns.
Wat ons toegeseg is / in Gods Woord wat reg is,
het ons hart verbly;
en Gods almagsmerke / sien ons op sy werke -
waar en reg soos Hy.

3.  Hy min die reg in alle dinge,
want enkel waar en reg is Hy;
tot by die aard' se verste kringe
sien ons sy goedheid uitgesprei.
In sy alvermoë / het Hy hemelboë
deur sy woord gestig;
deur sy Gees 'n ganse / leërskaar van glanse
skitt'rend aan laat lig

4.  Hy laat die wilde wêreldseë
geweldig aanswel tot 'n hoop;
in voorraadskuur, omlaag geleë,
stuit Hy die waters in hul loop.
Voor Hom, Skepper-HERE van die see en mere,
van wat is en leef,
moet die verste strande, volke in al die lande
skrikverslae beef.

5.  Die HEER se woord is skeppingsmagtig
wat lewe uit die dood gebied.
Hy spreek - dit staan daar lewenskragtig,
Hy roep net en dit het geskied.
Nasies en tiranne / smee verniet hul planne
in die vlam van haat.
Hy wat groot van mag is, / weet wat daar bedag is
en verbreek hul raad.

6.  Die HEER se raad word nooit gekeer nie;
dit sal bestaan in ewigheid.
Teen sy besluit is geen verweer nie;
bestendig duur dit vir altyd.
Salig wie tevore / deur Hom is verkore
as sy erf en lot;
wie so hoog geëer is, / dat dié HEER húl HEER is
en dié God húl God.

7.  Die HEER wat bo die wentelkringe
van son en maan sy rykstroon stig,
aanskou die mense en alle dinge -
daar's niks bedek voor sy gesig.
Uit sy vaste woning / waar Hy heers as Koning,
sien Hy, Skepper-HEER,
uit oneindig hoë / blou-deurglansde boë
op sy skepsel neer.

8.  Die HEER skou uit die hoë hemel
en sien die mensekinders aan;
Hy ken hul hart, oor hul gewemel
laat Hy sy heil'ge oë gaan.
Magtige oorlogsvolke, / boë, skilde, dolke,
blinkende oorlog-staal -
duisende uitgestelde / manne, stryders, helde
baring geen seëpraal.

9.  Die oorlogsperd kan nie behou nie,
hoe hy ook aanstorm met geweld;
hy red nie met sy ysterklou nie
wat grimmig neerdreun op die veld.
Maar die HEER se oë / straal met mededoë
op wie, klein van krag,
voor Hom stilverslae / in hul donker dae
op sy goedheid wag.

10.  Sy arm ontbloot Hy uit die hoogte
en red hul siele van die dood.
Hy sorg vir hul by somerdroogte,
in sware tyd en hongersnood.
In die grootste smarte / bly nogtans ons harte
op die HEER vertrou.
Hy, ons skild, Hy wyk nie, / en ons hulp beswyk nie
waar ons hart op bou.

11.  In God, dié God wat ons beveilig,
voel nou ons hart opnuut verblyd;
en op sy Naam, ontsaglik heilig,
vertrou ons tot in ewigheid.
Goedertieren Vader, / hoor ons as ons nader
met 'n diep ontsag; 
slaan ons gunstig gade, / skenk ons u genade
as ons op U wag!