Skrifberyming 46

Skrifberyming 46

1.  Bo die kimme van verdwyning
rys die marmerwit verskyning -
oordeelstroon van God die Heer.
Aarde en hemel, skrikbewoë,
weggevlug het van sy oë; 
daar's geen plek vir hulle meer.

2.  Voor die regterstoel ontbode,
klein en groot staan daar die dode,
en die boeke't oopgegaan,
ook die Lewensboek met wisse,
eewge naamgeheimenisse
wat daarin geskrywe staan

3.  Alles deur die mens bedrywe,
's in dié boeke neergeskrywe
van die skeppingsdag af aan.
Alles - eeue word nou ure! -
doem dan op uit dié Skrifture:
dis waaroor die vonnis gaan.

4.  Langs hul diep, verborge weë
gee die wêreldwye seë
hulle dode almal weer.
Dood en doderyk aan bewe,
gee hul dode en oor hul lewe
stryk die laaste vonnis neer.

5.  En die dood, die strawwe koning,
met die doderyk, sy woning,
stort dan in hul vlammegraf;
en wie dan nie staan geskrewe
in die Grootboek van die Lewe,
stort met hul die steiltes af.