Psalm 140

Psalm 140

1.  O HEER, verlos my van die man
wat heil soek in geweld en kwaad,
wat hart en hand laat samespan
tot stryd en goddelose daad.

2.  Hul maak hul tong skerp soos 'n slang,
vol gif van adders is hul mond.
Help my, dat manne my nie vang
wat my wil neerwerp teen die grond.

3.  Die trotsaard loer al op my gang:
digby my voet, daar lê sy net!
Ek moet daarin, ek word gevang
as U, o God, dit nie belet.

4.  Ek het toe tot die HEER gespreek:
U is my God, wat my verhoor.
Ag, luister dan wanneer ek smeek,
en neig tot my geroep u oor!

5.  O HEER, in wie my heil sy stut,
my lewe sy gewisheid het -
U is dit wat my hoog beskut
en in die stryd my val belet.

6.  Laat dit die bose nie geluk,
maar stuit sy hand voor hy my tref;
verhinder tog sy gruwelstuk,
sodat hy hom nie trots verhef.

7.  Aanstigters van die leuenwerk,
wat steun op lis en slinkse taal -
mag die vergelding, vol en sterk,
nou op hul hoofde neer kom daal.

8.  Werp vuurge kole op hul af,
laat vlamme om hul lende slaan;;
'n diepe kuil - maak dit hul graf
waaruit hul nooit weer op sal staan!

9.  Die trouelose nietigheid
van leuenaars hou nimmer stand;
geweldenaars het korte tyd
en onheil jaag die dwingeland.

10.  Die HEER al, dis wat ek weet,
die regsaak van die arme rig;
in druk sal Hy hom nie vergeet,
maar hom die lydenslas verlig.

11.  Gewis, regverdiges sal, vry
van smaad, U loof op hoë toon,
opregtes nie meer onreg ly,
maar veilig voor u aanskyn woon.