Skrifberyming 44

Skrifberyming 44

1.  Dis die woord van Hom, die Amen,
die Getuie, trou en waar,
die Begin van God se skepping,
sterke Skeppingsmiddelaar.
Al jou werke sien en ken Ek:
daar's by jou geen koue of gloed.
En daar rys vir jou 'n walging
uit die grond van my gemoed.

2.  "Ek is ryk, verryk, " so roem jy.
En jy ken nie jou gebrek,
dat jy, arm en blind, ellendig,
niks het om jou toe te dek.
Koop van My dan goud, gelouterd,
wat die ware rykdom gee.
Koop van My die wit gewade
wat jou, naakte, kan omklee.

3.  Koop van My die fyne mengsel
wat as oogsalf jou kan dien,
en bestryk daarmee jou oë,
dat jy, blinde, weer kan sien.
Ek bestraf al wie Ek liefhet,
en Ek tugtig in my trou.
Wees dan yw'rig tot bekering,
vurig om my Woord te hou.

4.  Wagtend staan Ek voor die deur al,
waar Ek aanklop, lank en luid.
Hoor dan een my roepstem buite,
word vir My die deur ontsluit,
dan sal'k tot sy woning ingaan.
Na die maaltyd heengelei,
sal'k in vriendskap met hom aansit,
hy sal aansit saam met My.

5.  Ek sal gee aan die oorwinnaar,
in my hoë heerskappy,
dat hy sit as wêreldheerser
op my rykstroon saam met My,
net soos Ek ook met my Vader
triomfeer die wêreld oor.
Dis die Gees se laaste roepstem -
wie 'n oor het, laat hom hoor!