Sb 13

Skrifberyming 13

1.  Toe kom daar haastig 'n geluid
wat aanblaas uit die hemel uit:
'n rukwind wat met stormgedruis
daarheen vaar, vul die ganse huis

2.  Hul sien - dit was 'n wonderuur -
verdeelde tonge soos van vuur,
deurgloeid en wonderbaar deurstraal,
wat glansend op hul hoof kom daal.

3.  Toe was dit, op die dag van fees,
dat hul vervul is met die Gees.
In loftaal het hul uitgebreek
net soos die Gees dit uit laat spreek.

4.  Dit is die saak wat die profeet
aan ons verkondig en laat weet:
"Die laaste tyd, dan sal dit wees
dat Ek sal uitgiet van my Gees.

5.  "Dan stort Ek met 'n groot geluid
die Gees se reënstrale uit,
jul seuns en dogters, dan nie meer
van spraak ontbloot, sal profeteer.

6.  "Jul kinders, uitsiend op die wag,
sal vergesigte sien by dag;
jul grysaards, in hul krag al loom,
die allerskoonste drome droom.

7.  "Ook op die knegte en maagde, vry
om My hul dienswerk toe te wy,
stort Ek my Gees in mildheid neer,
en almal sal hul profeteer.

8.  "'k Sal wonders in die hemel gee,
op aarde tekens van die wee
wat oor die mensheid heen sal kom:
bloedplas en vuur en rookkolom."

9.  Die dag sal kom, deurlugtig-groot,
maar elkeen wat in sielenood
Hom aanroep wat die Redder is,
vind in sy Naam behoudenis