Psalm 65

Psalm 65

1.  Na bange tyd van somerdroogte
is daar die uitkoms weer!
Nou pas dit ons op Sionshoogte
U lof te sing, o HEER!
Nou sal hul aankom uit die stamme;
geloftes word betaal,
die offerdier rook in die vlamme,
uit verste veld en kraal.

2.  Dis waar, 'n donker skuldverlede
leef in ons heugenis;
maar al ons ongeregtighede
word deur U uitgewis.
Welsalig wie in skuld verlore,
versoeningswoord hoor ruis;
vir wie U uitkies, lank tevore,
'n woonplek in u huis.

3.  Ons sal ons in u huis versadig
met hoogste gunsbewys:
met heil'ge goed wat U milddadig
laat stroom uit u paleis.
U antwoord ons in reddingsdade:
gedug is U in mag
Ons prys die blyk van u genade;
die vyand toon ontsag.

4.  U is tot in die verste lande,
oor velde grenseloos,
tot by die allerverste strande
die mens se hoop en troos.
Die berge 't U van oue tye
gegrondves deur u mag;
U is omring van alle sye
met wonderbare krag.

5.  U demp die bruising van die bare
in donker storme-weer;
die woeling van die volkeskare
lê U met een woord neer.
U almag ken geen paal of perke,
geen grens het u gesag; 
die verste volk vrees vir u werke
as tekens van u mag.

6.  U laat die uitgang van die morge
en van die awend juig;
en wil dat ons vir al u sorge
ootmoedig dank betuig.
Die land besoek U met u seën,
en deur U droog gemaak,
verryk U dit met milde reën
wat tot die wortel raak.

7.  Die stroom van God wat neergestraal het
deur volle hemelsluis;
die voor waarin die graan gedaal het,
waar nou die koring ruis;
die druppels wat die halm verkwik het;
die weekheid van die kluit -
dis alles soos die HEER beskik het,
Hy seën en - dit spruit!

8.  U kroon die jaar met ryke vrugte -
wie kan u seen belet?
U wolkewa trek deur die lugte,
sy spore drup van vet.
Die veld vang nou die reëndruppel,
die weiding bly nie droog;
die heuwels, in hul blydskap, huppel
in groen gewaad omhoog.

9.  Ons sien die kleinvee langs die hange
wat juigend veld toe gaan;
ons hoor omlaag die windgesange
van hooggehalmde graan;
omlaag die dale, omhoog die rante,
ja, alles jubel weer;
dit sing en roem van alle kante
die goedheid van die HEER.