Sondag 31: Die Kerklike Tug

DIE KERKLIKE TUG (SONDAG 31)

SONDAG 31

83.  Vraag: Wat is die sleutels van die koninkryk van die hemel?

Antwoord: Die verkondiging van die heilige evangelie en die Christelike tug. Met albei hierdie handelinge word die koninkryk van die hemel vir die gelowiges oopgesluit en vir die ongelowiges toegesluit.
 

84.  Vraag: Hoe word die koninkryk van die hemel deur die verkondiging van die heilige evangelie oop- en toegesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word aan die gelowiges gesamentlik en afsonderlik verkondig en openlik betuig dat al hulle sondes hulle waarlik deur God ter wille van die verdienste van Christus vergewe is so dikwels as wat hulle die belofte van die evangelie met 'n ware geloof aanneem. Daarenteen word aan al die ongelowiges en huigelaars verkondig dat die toorn van God en die ewige verdoemenis op hulle rus solank hulle hulle nie bekeer nie (a). Volgens hierdie getuienis van die evangelie sal God sowel in hierdie as in die toekomstige lewe oordeel.

    (a)Joh 20:21-23; Matt 16:19.
 

85.  Vraag: Hoe word die koninkryk deur die Christelike tug toe- en oopgesluit?

Antwoord: Volgens die bevel van Christus word die wat die naam Christen dra en tog 'n onchristelike leer huldig of hulle onchristelik gedra eers herhaalde kere broederlik vermaan. As hulle egter nie van hulle dwalinge of skandelike lewe wil afsien nie, moet dit aan die gemeente of aan die wat deur die gemeente daarvoor aangewys is, gesê word. As hulle hulle ook nie aan laasgenoemde se vermaninge steur nie, word hulle nie langer tot die heilige sakramente toegelaat nie en uit die Christelike gemeente en deur God self uit die ryk van Christus uitgesluit. Hulle word weer as lede van Christus en sy gemeente aangeneem wanneer hulle werklike verbetering beloof en bewys (a).

    (a)Matt 18:15-17; 1 Kor 5:4, 5, 11; 2 Kor 2:6-8.