Sondag 7

20.  Vraag: Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?

Antwoord: Nee; (a); maar slegs die wat deur 'n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem (b).

    (a)Matt 7:14; 22:14. (b) Mark 16:16; Joh 1:12; 3:16, 18, 36; Jes 53:11; Ps 2:12; Rom 11:20; 3:22; Heb 4:3; 5:9; 10:39; 11:6.
 

21.  Vraag: Wat is 'n ware geloof?

Antwoord: 'n Ware geloof is nie alleen 'n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het (a) vir waar aanvaar nie, maar ook 'n vaste vertroue (b) wat die Heilige Gees (c) deur die evangelie in my hart werk (d), naamlik dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus (e), vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid (f) geskenk het.

    (a)Jak 2:19. (b) Heb 11:1, 7; Rom 4:18-21; 10:10; Ef 3:12; Heb 4:16; Jak 1:6. (c) Gal 5:22; Matt 16:17; 2 Kor 4:13; Joh 6:29; Ef 2:8; Fil 1:19; Hand 16:14. (d) Rom 1:16; 10:17; 1 Kor 1:21; Hand 10:44; 16:14. (e) Ef 2:8; Rom 3:24; 5:19; Luk 1:77, 78. (f) Rom 1:17; Gal 3:11; Heb 10:10, 38; Gal 2:16.
 

22.  Vraag: Wat moet 'n Christen glo?

Antwoord: Alles wat in die evangelie aan ons beloof word (a) en wat die artikels van ons algemene en ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer.

    (a)Joh 20:31; Matt 28:19; Mark 1:15.
 

23.  Vraag: Hoe lui die artikels?

Antwoord: (1) Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde. (2) En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here; (3) wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria; (4) wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en neergedaal het na die hel; (5) wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; (6) opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, (7) waarvandaan Hy sal kom om die lewendes en die dooies te oordeel. (8) Ek glo in die Heilige Gees. (9) Ek glo aan 'n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; (10) die vergewing van sondes; (I1) die opstanding van die liggaam (12) en 'n ewige lewe.