Sondag 20-22 GOD DIE HEILIGE GEES EN ONS HEILIGMAKING

GOD DIE HEILIGE GEES EN ONS HEILIGMAKING (SONDAG 20-22)

SONDAG 20

53.  Vraag: Wat glo jy van die Heilige Gees?

Antwoord: Ten eerste is Hy saam met die Vader en die Seun ware en ewige God (a). Ten tweede is Hy ook aan my gegee (b) sodat Hy my deur 'n ware geloof deel laat kry aan Christus en al sy weldade, (c) my troos (d) en ewig by my bly (e).

    (a)1 Joh 5:7; Gen 1:2; Jes 48:16;1 Kor 3:16; 6:19; Hand 5:3, 4. (b) Gal 4:6; Matt 28:19, 20; 2 Kor 1:22 ; Ef 1:13. (c) Gal 3:14;1 Pet 1:2;1 Kor 6:17. (d) Joh 15:26; Hand 9:31. (e) Joh 14:16;1 Pet 4:14.
 

 

SONDAG 21

54.  Vraag: Wat glo jy van die heilige, algemene, Christelike kerk?

Antwoord: Dat die Seun van God (a) uit die hele menslike geslag (b) vir Hom 'n gemeente wat tot die ewige lewe uitverkies is (c), deur sy Gees en Woord (d) in die eenheid van die ware geloof (e) van die begin van die wêreld af tot die einde toe (f) vergader, beskerm en onderhou (g) en dat ek daarvan 'n lewende lid is (h) en ewig sal bly (i).

    (a)Ef 5:26; Joh 10:11; Hand 20:28; Ef 4:11-13. (b) Gen 26:4; Op 5:9. (c) Rom 8:29; Ef 1:10-13. (d) Jes 59:21; Rom 1:16; 10:14-l7; Ef 5:26. (e) Hand 2:42, Ef4:3-5. (f) Ps 71:17, 18; Jes 59:21; 1 Kor 11:26. (g) Matt 16:18; Joh 10:28-30; Ps 129:1-5. (h) 1 Joh 3:I4, 19-21; 2 Kor 13:5; Rom 8:l0. (i) Ps 23:6; 1 Kor 1:8, 9; Joh 10:28; 1 Joh 2:19; 1 Pet 1:5.
 

55.  Vraag: Wat verstaan jy onder die gemeenskap van die heiliges?

Antwoord: Ten eerste dat die gelowiges, almal saam en elkeen afsonderlik, as lede met die Here Christus gemeenskap en aan al sy skatte en gawes deel het (a). Ten tweede dat elkeen verplig is om sy gawes gewillig en met vreugde tot nut en saligheid van die ander lede aan te wend (b).

    (a)1 Joh 1:3; Rom 8:32; 1 Kor 12:12, I3; 1 Kor 6:17. (b) 1 Kor 12:21; 13:1, 5; Fil 2:4-8.
 

56.  Vraag: Wat glo jy van die vergewing van die sondes?

Antwoord:. Dat God, op grond van die voldoening van Christus, aan al my sondes en ook my sondige aard waarteen ek my lewe lank moet stry nooit meer (a) wil dink nie. Uit genade wil Hy aan my die geregtigheid van Christus skenk (b) sodat ek nooit in die strafgerig van God sal kom nie (c).

    (a)1 Joh 2:2; 1:7; 2 Kor 5:19. (b) Rom 7:23-25; Jer 31:34; Miga 7:19; Ps 103:3, 10, 12. (c) Joh 3:18; 5:24.
 

 

SONDAG 22

57.  Vraag: Watter troos gee die opstanding van die liggaam aan jou?

Antwoord: Dat nie alleen my siel na hierdie lewe dadelik tot Christus, sy Hoof, opgeneem sal word nie (a), maar ook hierdie selfde liggaam van my, deur die krag van Christus opgewek, weer met my siel verenig en aan die heerlike liggaam van Christus gelykvormig sal word (b).

    (a)Luk 16:22; 23:43; Fil 1:21, 23. (b) Job 19:25, 26; 1 Joh 3:2; Fil 3:21.
 

58.  Vraag: Watter troos skep jy uit die artikel van die ewige lewe?

Antwoord: Dat, aangesien ek nou alreeds die begin van die ewige vreugde in my hart ervaar (a), ek na hierdie lewe volkome saligheid sal besit - 'n saligheid wat geen oog gesien, geen oor gehoor en in die hart van geen mens ooit opgekom het nie - om God daarin ewig te prys (b).

    (a)2 Kor 5:2, 3. (b) 1 Kor 2:9.