Artikel 36 - DIE BURGERLIKE OWERHEID

Ons glo dat ons goeie God vanweë die verdorwenheid van die menslike geslag konings, vorste en owerhede aangestel het. Dit is immers sy wil dat die wêreld deur middel van wette en regerings geregeer moet word, sodat die losbandigheid van die mense in bedwang gehou kan word en alles onder die mense ordelik kan verloop. Vir dié doel het Hy die owerheid die swaard in die hand gegee om die kwaaddoeners te straf (Rom 13:4) en die deugsames te beskerm. En dit is nie alleen hulle taak om aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie maar ook om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord en die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel.
Verder is elkeen verplig, van watter hoedanigheid, rang of stand hy ook al mag wees, om hom aan die owerhede te onderwerp, belasting te betaal, aan hulle eer en onderdanigheid te bewys, hulle te gehoorsaam in alles wat nie met die Woord van God in stryd is nie en vir hulle voorbidding te doen dat die Here hulle in al hulle handelinge mag bestuur, sodat ons in alle godsvrug en eerbaarheid 'n rustige en stil lewe kan lei (1 Tim 2:2). Hierin verfoei ons die Wederdopers en ander oproerige mense en in die algemeen almal wat die owerheidsgesag en die regeerders wil verwerp en die regsorde omver wil stoot, terwyl hulle die gemeenskaplike besit van goedere invoer en die eerbaarheid wat God onder mense ingestel het, versteur.

Eks. 18:20; Rom. 13:1; Spr. 8:15; Jer. 22:3; Ps. 82; Deut. 1:16; 16:19; 17:16; 2 Kor. 10:6; Ps. 101; Jer. 21:12; Rig. 21:25; Jer. 22:3; Dan. 2:21,22; (5:8); Jes. 49:23; 2 Kron. 23; 1 Kron. 15:12; Rom. 13:1; Luk. 22:1; 1 Pet. 2:17; Tit. 3; Matt. 17:27; Hand. 4:17-19; Hand. 2, 5; Hos. 5:11; Jer. 27:5,2; 2 Pet. 2:10; Jud. 1:10; 1 Tim. 2:2.