Artikel 7 - Die volkomenheid van die Heilige Skrif

Ons glo dat hierdie Heilige Skrif die wil van God volkome bevat en dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word. Aangesien die hele wyse waarop God deur ons gedien moet word, daarin breedvoerig beskrywe word, mag ook niemand, selfs nie die apostels nie, anders leer as wat ons reeds deur die Heilige Skrif geleer word nie - ja, al was daar ook 'n engel uit die hemel, soos die apostel Paulus sê (Gal 1:8). En aangesien dit verbode is om iets by die Woord van God by te voeg of daarvan weg te laat (Deut 12:32), blyk dit duidelik dat die leer daarvan heeltemal volmaak en in alle opsigte volkome is. Ons mag ook geen geskrifte van mense, hoe heilig die mense ook al was, met die Goddelike Skrif gelykstel nie; ook mag ons nie die gewoonte of die groot getalle of oudheid of opvolging van tye of van persone of kerkvergaderings, verordeninge of besluite met dié waarheid van God gelykstel nie, want die waarheid is bo alles. Alle mense is immers uit hulleself leuenaars en nietiger as die nietigheid self (Ps 62:10). Ons verwerp daarom met ons hele hart alles wat nie met hierdie onfeilbare reël ooreenkom nie, soos die apostels ons leer as hulle sê: '...maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is' (1 Joh 4:1), en: 'As iemand na julle kom en hierdie leer nie bring nie, ontvang hom nie in die huis nie...' (2 Joh :10).

2 Tim. 3:17; 1 Pet. 1:11, 12; Spr. 30:6; Gal. 3:15; Op. 22:18; 1 Tim. 1:3; Gal. 1:8,11; 1 Kor. 15:2; Hand. 26:22; Rom. 15:4; Hand. 18:28-29; 1 Pet. 4; Luk. 11:13; 2 Tim. 3:24; 2 Tim. 1:13; Kol. 2:8; Hand. 4:19; Joh. 3:13; 2 Pet. 2:16; Joh. 15:15; 1 Joh. 1:5; Hand. 20:27; 2 Joh. 1; Joh. 4:25; Deut. 12:32; Heb. 8:9; Matt. 15:3; 17:5; Mark. 7:7; Jes. 1:12; Hand. 1:21; Rom. 3:4; Jes. 8:20; 2 Tim. 4:(3); 1 Kor. 1:13; 2:4; 3:11; 1 Pet. 5:12; 2 Tess. 2:2; Ps 12:7; 19:8-9,12; Deut. 4:6; 6:9; Ef. 4:5; Joh. 5; Kol. 1:16,18; 1 Kor. 8:6.