Artikel 22 - ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF

Ons glo dat die Heilige Gees 'n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry. Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie, of dit is alles wél in Hom en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid. Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwelike godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs 'n halwe Verlosser is. Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder die werke geregverdig is (Rom 3:28). Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs die middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is. Hý reken ons sy hele verdienste toe en ook al die heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiendom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.

Ps. 51:8; Ef. 1:17,18; 1 Tess. 1:6; 1 Kor. 2:12; Gal. 2:21; Jer. 23:6; 1 Kor. 1:20; Jer. 51:10; 1 Kor. 15:3; Matt. 1:21; Rom. 8:1; 3:20,28; Gal. 2:16; Heb. 7:19; Rom. 8:29,33; Hand. 13:28; 1 Pet. 1:4; Rom. 10:3,5,9; Luk. 1:77; Tit. 3:5; Ps. 32:1; Rom. 4:5; 3:24,27; Fil. 3:9; 2 Tim. 1:9; Ps. 115:1; 1 Kor. 4:7; Rom. 4:2.