Artikel 9 - Skrifgetuienis oor die leer van die Drie-Eenheid

Ons weet dit alles sowel uit die getuienisse van die Heilige Skrif as uit hulle werkinge, veral uit werkinge wat ons in onsself voel. Die getuienisse van die Heilige Skrif wat ons leer om in hierdie heilige Drie- eenheid te glo, staan op baie plekke in die Ou Testament, en dit is nie nodig om hulle almal op te noem nie. Ons kan hulle onderskeidend en oordeelkundig uitkies: Genesis 1:26 en 27: 'En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis...En God het die mens geskape na sy beeld; man en vrou het Hy hulle geskape'; Genesis 3:22: 'Toe sê die Here God: Nou het die mens geword soos een van Ons'. Wanneer God sê: Laat Ons mense maak na Ons beeld, blyk daaruit dat daar meer as een Persoon in die Godheid is. En as Hy sê: God het geskep, wys Hy die eenheid van die Godheid aan. Welliswaar sê hy nie hoeveel Persone daar is nie, maar wat vir ons in die Ou Testament enigsins duister is, is in die Nuwe Testament baie duidelik. Want toe die Here in die Jordaan gedoop is, is die stem van die Vader gehoor, wat sê: 'Dit is my geliefde Seun' (Matt 3:17). Die Seun is in die water gesien en die Heilige Gees het Hom in die vorm van 'n duif geopenbaar. Buitendien is vir die doop van alle gelowiges hierdie formule deur Christus vasgestel: 'Doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees' (Matt 28:19). In die Evangelie van Lukas sê die engel Gabriël aan Maria, die moeder van die Here: 'Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word' (Luk 1:35); eweneens: 'Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sy met julle almal' (2 Kor 13:13), en: 'Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een; en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed en die drie is eenstemmig' (1 Joh 5:7-8). Ons word op al hierdie plekke baie duidelik geleer dat daar drie persone in een, enige Goddelike Wese is. Al gaan hierdie leer die menslike verstand ver te bowe, glo ons dit nou tog deur die Woord, terwyl ons verwag om die volle kennis en vrug daarvan in die hemel te geniet. Verder moet ons ook let op die besondere ampte en op die eie werkinge van die drie Persone met betrekking tot ons: Die Vader word ons Skepper deur sy krag genoem; die Seun is ons Saligmaker en Verlosser deur sy bloed; die Heilige Gees is ons Heiligmaker deur sy inwoning in ons hart. Die leer van die heilige Drie-eenheid is in die ware kerk van die tyd van die apostels af tot nou toe altyd onderhou en gehandhaaf teenoor die Jode, Mohammedane en sommige valse christene en ketters soos Marcion, Mani, Praxeas, Sabellius, Samosatenus, Arius en derglike, wat tereg deur die regsinnige vaders veroordeel is. Daarom aanvaar ons in hierdie opsig graag die drie belydenisse, naamlik dié van die Apostels, Nicéa en Athanasius en ook wat die ou vaders in ooreenstemming hiermee besluit het.

Gen. 5:1; Matt. 3:16; 28:19; Luk. 1:35; Hand. 2:32; 2 Kor. 13:13; 1 Joh. 5:7; Hand. 2:32,33; 1 Pet. 1:12; 1 Joh. 4:13-14; Gal. 4:6; Ef. 3:14,16; Tit. 3:4-6; Jud. :20,21; Rom. (6) 8:9; Hand. 10:38; 8:29,37; Joh. 14:16; 1:33; Spr. 25:27.