Inleiding

Ons wil graag die Vrye Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (VGKSA) aan jou bekendstel. Ons hoop dat hierdie oorsig nuttig sal wees vir die vestiging of versterking van kontak met individuele Christene asook kerke wat die nalatenskap van die Reformasie koester, sodat “…hulle volkome een kan wees” (Johannes 17:23).

Goeie Nuus vir Jou!

Ons bely die Bybel as die Woord van God. God is werklik, en het in die Ou Testament deur sy profete gespreek en uiteindelik in die Nuwe Testament deur sy enigste Seun, Jesus Christus. Om hierdie rede onderwerp ons ons aan die gesag van die Skrif vir ons geloofs- en kerklike lewe. Ons verwerp enigiets wat hierdie gesag ondermyn of aanval. Ons glo die Bybel is ‘n volledige omvatting van die wil van God soos dit deur die inspirasie van die Heilige Gees geopenbaar is. Alles wat die mens moet glo om gered te word, word voldoende hierin onderrig. Hierdie genoegsaamheid van die Skrif beteken dat die mens niks daaraan moet toevoeg of enigiets daaruit moet weglaat nie. 

Die Skrif vorm ‘n eenheid met Jesus Christus as die middelpunt. Hy is die ewige Seun van God wat ons aanbidding verdien. Hy het mens geword en is op aarde gebore om aan die kruis te sterf. Die Bybel verkondig Jesus Christus duidelik as die enigste Redder. Daar is niemand anders wat jou met God kan versoen nie. Waarom nie? Ons glo dit word duidelik uiteengesit in die leringe van genade wat in die 16de eeu tydens die Reformasie herontdek is: ons kan slegs gered word deur God se genade, deur geloof en in Christus (sola gratia, sola fide en solus Christus) tot eer van God alleen. As jy gered is, is jy vir altyd gered. Die eerste hoofstukke van Efesiërs en Romeine beskryf dit duidelik.

Elke persoon op aarde word as ‘n sondaar gebore, omdat hy/sy deel in die sonde wat Adam en Eva in die paradys begaan het (Genesis 3). Ons is dood in ons sonde, voldoen nie aan God se glorie nie en verdien God se ewige straf.

Ons kan slegs van hierdie straf gered word deur die bloed van Jesus Christus: omdat Hy sonder sonde was en as onskuldige man gekruisig is, het Hy ons plek onder God se oordeel ingeneem en versoening vir ons verskaf. Jesus, wat ware God en ware mens is, het vir ons sonde gesterf, uit die dood opgestaan en sal weer terugkeer na die aarde. Dit is die Goeie Nuus!

God roep jou en my om in Jesus Christus te glo. Elkeen wat in Hom glo, staan nie meer onder die oordeel nie, maar is vry van die skuld van die sonde. Danksy Jesus Christus neem God elke gelowige aan as sy eie kind; Hy het hulle innig lief en belowe hulle vergewing van sondes en die ewige lewe.

Jesus gee ook aan gelowiges sy Heilige Gees, deur wie hulle met Hom verenig is en aan Hom behoort. Deur sy Gees bly gelowiges in Jesus geanker, en Jesus sal hulle beskerm en hulle heilig. “Heilig” beteken dat die Heilige Gees gelowiges verander sodat hulle geleidelik al meer soos Jesus Christus word. Hierdie proses van heiligmaking begin sodra jy in Jesus Christus glo en gaan voort tot jou dood of tot die dag waarop Jesus terugkeer.

Ons glo God roep alle gelowiges op om by die kerk aan te sluit. Wanneer jy jou van jou sondes bekeer en in Jesus glo, is dit belangrik om ‘n kerk te vind wat getrou aan die Bybel is en soos die liggaam van Christus leef. Hoekom? Want die Woord van God is die enigste betroubare bron waardeur jy God kan ken, en daar waar die Woord verkondig word, is ons regstreeks onder die invloed van die Heilige Gees. Die Gees gebruik die woordverkondiging as die instrument om gelowiges te verander deur die uiteensetting en verkondiging van die evangelie. Die apostels verwys dikwels na die kerkgemeenskap en beveel dat die ouderlinge toesig hou oor die kudde van God (Handelinge 20:28; 1 Petrus 5:2) – iets wat onmoontlik is as daar geen idee van lidmaatskap is nie. Jy kan slegs as ‘n gelowige groei in ‘n kerk wat aan die gesag van die Bybel gehoorsaam is.

Ons kerk streef daarna om die evangelie van Jesus Christus te verkondig en te beoefen. Daarom verwelkom ons jou hartlik in ons kerkgemeenskap en nooi jou om saam met ons te aanbid en te groei.

Ons sien uit na Jesus se terugkoms. Hy het belowe dat Hy sal kom en sy koninkryk in al sy volheid op aarde sal vestig. Hierdie dag sal verskiklik wees vir elkeen wat nie in Hom glo nie, omdat hulle vir hul sonde veroordeel sal word. Gelowiges sien egter met afwagting en vreugde uit na hierdie dag: ons sal Jesus uiteindelik sien en Hom dien, en God met ons hele hart, siel en al ons krag liefhê, want daar sal nie meer enige sonde wees wat ons terughou nie. Hierdie oneindige vreugde beteken dat ons vir altyd in God se teenwoordigheid in ‘n nuutgemaakte hemel en aarde sal wees.

Dit is die goeie nuus wat in die Bybel geskryf is en wat ook vir jou bedoel is. Ons bid dat jy dit mag aanvaar en by ons sal aansluit in die navolging Jesus.