Saam met Christus deur die dood na die opstanding tot die ewige lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2024-03-31
Teks: 
Johannes 21:21-24
Preek Inhoud: 

Preek: Johannes 21:21-24

 

Ons wil almal graag oud word.

Om 100 jaar oud te word, is soort van ‘n magiese leeftyd.

Maar oud word is nie altyd lekker nie.

As jy elke oggend met pyn moet opstaan.

Of nog erger, as jy in die nag wakker word van die pyn.

My ouma het 98 jaar geword, maar die wete dat sy moontlik 100 jaar sou word het haar nie bly gemaak nie, eerder laat sug.

Sy was in ‘n rolstoel en verstandelik ook nie altyd meer helder nie.

 

Volgens die kerkgeskiedenis het die apostel Johannes om en by 100 jaar oud geword.

Meer nog, in vandag se teks staan dat sommiges gedink het dat hy nie eers sou sterf nie.

Ons hoop om in hierdie preek daaraan aandag te skenk.

‘n Lang lewe, die ewige lewe, dit is ‘n aktuele onderwerp op Paassondag, die dag toe Christus uit die graf opgestaan het om nooit weer te sterf nie.

 

Tema: Saam met Christus deur die dood na die opstanding tot die ewige lewe

 

Die laaste hoofstuk van die Johannesevangelie begin om te vertel wat een oggend vroeg gebeur het.

Die afgelope nag was die dissipels uit om vis te vang, maar het niks gevang nie.

Vroegoggend met die terugkeer na die kus het Jesus op die strand gestaan – maar, lees ons – die dissipels het nie geweet dat dit Jesus was nie.

Opvallend, omdat dit wel al lig was.

Jesus roep toe vir hulle om die net aan die regterkant van die skuit uit te gooi.

Hulle doen dit en daar kom so baie visse in dat hulle die net nie in die boot kon terugtrek nie.

Toe besef Johannes – hy noem homself steeds “die een vir Jesus liefgehad het” – dat dit Hy was, die Here Jesus, want hierdie opdrag en hierdie wonderlike visvangs het hom aan vroeër herinner.

Dan lees ons dat die Here Jesus saam met sy dissipels brood en gebraaide vis geëet het.

En dan staan daar iets opvallends:

“Dit was al die derde keer dat Jesus aan sy dissipels verskyn het nadat Hy opgestaan het uit die dode.” (vers 14)

In teenstelling tot vroeër was Hy dus nie meer die hele tyd by hulle nie.

Hy het aan hulle verskyn, en dan weer verdwyn.

Hy het ‘n verheerlikte liggaam gehad met die gevolg dat die disspels Hom nie direk herken het nie – dit enersyds – maar andersyds het Hy nog steeds gewone brood en vis geëet.

 

Daarna rig Jesus Homself spesifiek tot Petrus.

Drie keer vra Hy of Petrus Hom werklik liefhet.

Drie keer dieselfde vraag, maar in verskillende bewoordinge.

En drie keer gee Hy Petrus ‘n opdrag: Hy moet herder wees vir Jesus se skape.

By die uitvoer van sy herderstaak sal Petrus wel sy vryheid moet opoffer.

Dit maak Jesus vooraf duidelik.

Jesus kan sy hele lewensloop oorsien.

As jongman was Petrus op sy vryheid gesteld.

Hy wou gaan en staan waar hy self verkies het.

‘n Voorbeeld hiervan is selfs nog wat die vorige aand gebeur het.

Hy, Petrus, het die inisiatief geneem om maar weer te gaan visvang.

Voortaan, sê Jesus, sal iemand anders jou omgord.

Dit wil sê, iemand anders sal sê waar jy moet gaan en staan, en jou bring na ‘n plek waar jy self miskien nie wou wees nie.

 

Petrus moet dit baie goed besef, noudat hy sy aanstelling ontvang.

Hierdie is vir lewenslank.

Dit maak Jesus ook met soveel woorde duidelik.

Jesus sien al hoe dit met Petrus sal afloop.

Die afgelope jare het Jesus by herhaling sy eie lyde en sterwe aangekondig.

Toe het Petrus hewig geprotesteer.

Dit sal nooit met U gebeur nie!

Ek sal dit desnoods verhoed!

Tog het God se wil geskied, en tans was dit vir Jesus agter die rug.

Maar nou doen Jesus dieselfde met Petrus.

Hy kondig die lyde en sterwe van hierdie dissipel aan.

Dit sou nog jare duur, ‘n paar dekades.

Maar Jesus sê solank nou al vir Petrus: Jy sal die marteldood sterf.

Vers 19 sê dit heel mooi, maar indringend:

En dit het Hy gesê om aan te dui deur hoedanige dood hy God sou verheerlik.

Uit Petrus se briewe blyk dat hy Jesus se boodskap goed verstaan het.

Hy skryf byvoorbeeld in 2 Petrus 1:14 “omdat ek weet dat die aflegging van my tentwoning ophande is, soos onse Here Jesus Christus dit ook aan my bekend gemaak het”.

Volgens die kerkgeskiedenis is Petrus in Rome gekruisig, êrens in die jare 60 van die eerste eeu.

Die feit dat hy gekruisig sou word, dit het Jesus ook al bekend gemaak.

Vers 18: “wanneer jy oud geword het, sal jy jou hande uitsteek, en 'n ander een sal jou gord en bring waar jy nie wil wees nie”.

Mens kan ook vertaal: jy sal jou arms uitstrek.

Hierdie is ‘n uitdrukking wat dui op iemand wat aan ‘n kruis gehang word.

As ‘n ou man sou Petrus sy arms uitstrek op die dwarsbalk van die kruis.

Al met al, in vers 18 verwys Jesus dus spesifiek na die gruwelike kruisdood.

Juis deur hierdie marteldood sou hy God verheerlik.

En nadat Jesus dit aan Petrus duidelik gemaak het, klink nogmaals die oproep: Volg My!

 

Vanaf vers 20 verskuif die aandag dan van Petrus na Johannes.

Terwyl Petrus Jesus se boodskap – sy eie doodstyding – nog besig was om te verwerk, sien hy skielik vir Johannes staan.

Skielik is Petrus se aandag afgelei, en hy vra: Here, maar wat van hom?

Jesus stel dan direk orde op sake.

Hy is die Een wat uitmaak wat gaan gebeur.

“As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?”

 

In vers 23 maak Johannes dan ‘n opvallende opmerking.

Waarskynlik was Johannes by die opskryf van ons teks al ‘n baie ou man.

Johannes was die langslewende van die twaalf.

Alle ander apostels het voor hom gesterf.

Volgens die kerkgeskiedenis is die apostel Johannes eers omstreeks die jaar 100 AD oorlede.

Maar mede hierdeur het daar dus, sedert Jesus se hemelvaart, ‘n bepaalde opvatting begin posvat onder die eerste eeuse Christene oor die apostel Johannes.

Naamlik dat hy nooit sou sterwe nie.

Dat hy sou bly lewe tot Jesus terugkom.

Maar, aan die slot van sy evangelie ag Johannes dit noodsaaklik om self hierdie misverstand reg te stel.

Jesus het naamlik oor hom gesê, toe hy met Petrus in gesprek was:

“As Ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?”

Maar, sê die evangelis Johannes, hierdie opmerking van Jesus moet mens nie verkeerd verstaan nie.

En dan haal Johannes Jesus se opmerking weer letterlik aan, en verduidelik ook die konteks waar Jesus dit gesê het.

Naamlik: Jesus wou vir Petrus duidelik maak dat hy nie oor die ander bekommerd moet wees nie, dat hy nie op die ander moes let nie, maar dat hy gewoon sy Heiland moes volg.

Die Heiland bepaal self wel hoe Johannes se toekoms sal lyk.

Natuurlik het Johannes self ook nie geweet hoe lank hy nog sou lewe nie.

Hy kon nie anders nie as herhaal wat die Here presies gesê het.

Maar feit is wel dat die apostel Johannes, naas alle ooreenstemming met die apostel Petrus, tog ‘n ander lewenstaak sou kry.

Petrus sou die Here verheerlik deur te getuig aan die kruis.

Dink maar aan die bekende spreekwoord:

Die bloed van die martelare is die saad van die kerk.

Wat Johannes betref, Hy sou God verheerlik deurdat hy tot op uitsonderlik hoë ouderdom kon deurgaan om te getuig van dit wat hy gehoor en gesien het.

Dit sou sy lewenstaak word, soos dit deur die Here beskik is.

Maar die medechristene in die eerste eeu moes nie hulle aandag vestig op sy vermeende onsterflikheid nie, maar op die beloofde wederkoms van Jesus self!

Hierdie boodskap beklemtoon Johannes dus aan die einde van sy boek.

 

Dit is opvallend dat die Johannesevangelie eintlik ‘n dubbele slot het.

Aan die einde van hoofstuk 20 lyk dit of die boek afgerond word.

Vers 30-31 van die vorige hoofstuk vorm ‘n passende slot vir die Evangelie.

Maar dan begin dit tog weer in hoofstuk 21.

En dan vind ons aan die einde van hoofstuk 21 weer ‘n afsluiting, vergelykbaar met die van hoofstuk 20.

In beide gevalle word daarop gewys dat die Here Jesus nog baie ander tekens en wonders gedoen het, te veel om op te noem, te veel om te boek te stel.

Ja selfs die wêreld sal al die boeke nie kan bevat nie.

Hierdie dubbele slot wek die indruk dat Johannes op ‘n later stadium nog ‘n hoofstuk aan sy Evangelie toegevoeg het.

Dis nie onmoontlik nie.

Dit was Johannes se taak om as ooggetuie en apostel persoonlik in te staan vir die waarheid van sy boodskap.

Dit het hy gedoen in sy verkondiging, maar ook deur dit wat hy op skrif gestel het.

En toe hy sien dat daar in die loop van die jare ‘n misverstand begin ontwikkel oor sy persoon, oor sy vermeende onsterflikheid, het hy dit as sy taak geag om – deur die Gees gedrewe – hieroor skriftelik duidelikheid te skep.

Hierdie misverstand moes reggestel word.

Daarom sou hoofstuk 21 moontlik die jongste stukkie Bybelteks kon wees, geskryf eers baie dekades nadat die Here Jesus na die hemel opgevaar het.

 

Ek dink nie Johannes het besef dat wat hy daar opgeskryf het aan die einde van die 1e eeu, dat dit die teks vir ‘n preek sou word op Paassondag in die 21ste eeu in ‘n land wat hy nie eers geweet het bestaan nie.

Maar die Here Jesus het dit natuurlik al geweet.

Deur sy Gees is Johannes gedryf om ook hierdie 21ste hoofstuk aan sy Evangelie toe te voeg.

Sodat Christus se woorde op ‘n betroubare en duidelike wyse vir die nageslag bewaar sou bly.

Die Paasevangelie van die opstanding uit die dood.

Die Evangelie van Jesus Christus wat met ‘n verheerlikte liggaam opgestaan het.

‘n Liggaam wat herskape is om ewig te lewe.

‘n Liggaam aan die een kant soos ons gewoond is – dink aan hoe Jesus brood en vis geëet het.

Maar aan die ander kant ‘n liggaam wat heel anders was, nie vergelykbaar met ons huidige verganklike liggame nie.

 

Dit het Johannes goed besef.

Daarom het hy daardie misverstand uit die weg geruim, asof Jesus vir hom sou gesê dat hy in sy huidige liggaam nooit sou sterf nie.

Johannes het goed besef dat sy liggaam geensins vergelykbaar was met die verheerlikte liggaam van sy Heiland nie.

Hy het besef dat soos Jesus deur die dood heen sy verheerlikte liggaam ontvang het, dit ook vir sy volgelinge geld.

“Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.” (1 Kor 15:22-23)
Johannes laat die beslissing by sy Heiland.

Dis mos wat Hy gesê het.

“As ek wil hê dat hy bly totdat Ek kom, wat gaan dit jou aan?” (vers 23)

Johannes het nie geweet wanneer Jesus sou terugkom nie.

Natuurlik het hy Hom elke dag verwag, gehoop dat Hy spoedig sou kom, dat hy nie hoef te sterf en begrawe word nie.

Maar nogmaals, sy wil geskied, nie Johannes s’n nie.

Sy huidige liggaam was in elk geval nie dieselfde as Jesus se verheerlikte liggaam nie.

Daarmee sou hy nie die ewige lewe kon beërf nie.

As Jesus langer sou vat om terug te kom as die gemiddelde leeftyd vir ‘n mens in daardie tyd, dan het Johannes geen reg gehad om te eis dat hy langer mog lewe nie.

Jesus het hom wel ‘n lang lewe geskenk, moontlik tot om en by 100.

Nietemin is hy oorlede, want die jaar 100 was nog nie die deur die Vader voorafbepaalde tyd vir sy Seun om terug te keer na die aarde nie.

Selfs was dit nie die jaar 1000 nie.

Voorafgaande aan die jaar 1000 was daar baie Christene in Europa wat vas oortuig was dat Jesus dan sou terugkom.

Maar ook dit was nie die deur die Vader bepaalde tyd nie.

Ook nie die jaar 2000 nie, ‘n eeuwisseling, milleniumwisseling, wat baie van ons nog beleef het.

Wanneer dan wel, dit is vir die Vader om te bepaal.

Ons bly Hom verwag.

Ons hoop dat Hy in ons leeftyd terugkom, sodat ons die vernedering van dood en begrafnis bespaar bly.

Sodat ons liggaam in ‘n oogwink sal verander na ‘n verheerlikte liggaam soos die van Jesus (1 Kor 15:51-52).

Maar as dieselfde vir ons voorbestem is as vir Johannes, dat ons eers op aarde begrawe moet word, dan steeds gee ons nie moed op nie.

Want die dag kom dat die dode onverganklik opgewek sal word (1 Kor 15:52).

Christus stippel elkeen van ons se lewenspad uit.

Ons weet die hemelse Herder gaan altyd saam met ons, selfs as ons gaan deur die dal van doodskaduwee.

 

Op hierdie Paassondag herdenk ons dat Christus in heerlikheid opgestaan het.

Ons verbly ons ook oor wat dit vir jou en my beteken.

Christus se opstanding is vir ons ‘n betroubare waarborg van ons salige opstanding – soos die Kategismus dit verwoord (Sondag 17).

Ons verheerlikte liggame sal ook onsterflik wees.

Ons huidige liggame is reeds ‘n wonderwerk, al het dit deur die sondeval sterflik geraak.

As jy jouself sny en dit bloei, vorm daar ‘n rofie om verdere bloeding te voorkom, en na ‘n ruk herstel die wond weer.

Is dit nie ‘n wonder nie?

As jy siek word, reageer die liggaam daarop, bestry die siekte, en na ‘n rukkie is jy weer heeltemal gesond.

Is dit nie ‘n wonder nie?

So kan die liggaam steeds aanpas om uitdagings die hoof te bied.

Tog is dit nie onbeperk nie.

Sommige wonde en sommige siektes is dodelik, dit veroorsaak onomkeerbare skade.

Maar ons toekomstige liggaam sal onsterflik wees, geen wonde meer wat onomkeerbare skade sal veroorsaak nie.

Alle eer aan God, wat sy Seun gestuur het om die wêreld weer met Hom te versoen, wat dood en verderf en alle gevolge van die sonde volledig sal wegneem.

Christus se verheerlikte liggaam is die eersteling van hierdie herskepping.

“Maar nou, Christus is opgewek uit die dode; Hy het die eersteling geword van die wat ontslaap het.” (1 Kor 15:20)

Saam met Christus deur die dood na die opstanding tot die ewige lewe – dis ons tema vanoggend.

Soos Christus, so ook die wat in Hom glo.

Met een verskil: Ons dood is nie meer ‘n betaling vir die sonde nie, dit is slegs ‘n deur na die ewige lewe.

Tussen Christus se dood en opstanding was daar die straf, die drie ure duisternis toe Hy die helse pyn en Godverlatenheid in ons plek gedra het.

Tussen ons wat op Christus vertrou se dood en opstanding is daar niks meer daarvan nie.

Geen straf, geen vaevuur, geen helse pyn en Godverlatenheid nie.

Tussen ons dood en opstanding, solank ons liggaam in die graf lê, is ons by ons bewussyn, is ons in die woning wat Christus vir ons voorberei het in die hemelse heerlikheid.

 

Net soos Johannes destyds is daar onder ons hulle wat weet hulle uur van afskeid is nie meer baie ver nie.

Ons het gemeentelede in die 80’s en in die 90’s.

Ons besef dat ons huidige menslike liggaam nie tot veel meer in staat is nie.

Die oudste persoon op aarde is tans 117 jaar oud.

As mens na haar foto op internet kyk, is sy maar net vel oor been.

Sy sit op die foto met balonne en ‘n verjaarsdagkoek voor haar, waarop daar 117 staan.

Maar, eerlik gesê, sy lyk nie baie gelukkig nie.

“Die dae van ons jare- daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet” – Psalm 90:10.

Dit is die realiteit.

Johannes ontken dit nie in ons teks nie, ook nie as dit oor homself gaan nie.

Tog is hierdie nie ‘n antiklimaks as afsluiting van sy Evangelie nie.

Johannes getuig dat alles wat hy in sy Evangelie geskryf het, waar is.

Ook dit wat hy in hoofstuk 10 geskryf het: “En Ek [het Jesus gesê] gee hulle die ewige lewe, en hulle sal nooit verlore gaan tot in ewigheid nie, en niemand sal hulle uit my hand ruk nie.” (Joh 10:28)
En Johannes 11: “elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.” (Joh 11:26)

Broer, suster, glo jy dit?

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 21:1-3

Wet

Ps 89:17

Gebed

Skriflesing: Johannes 21

Ps 91:8

Teks: Johannes 21:21-24

Preek

Ps 90:1,5,9

Gebed

Kollekte

Sb 23:1-4

Seën