Die bevryding deur Hom teen wie almal die hakskeen opgelig het

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria en Maranata
Datum: 
2024-03-29
Teks: 
Johannes 13:18
Preek Inhoud: 

Preek: Psalm 41:10 & Johannes 13:18

 

As ons Psalm 41 goed wil verstaan, help dit om eers na die struktuur te kyk.

Die struktuur vertel naamlik die konteks waarbinne Dawid hierdie Psalm gedig het.

Die Psalm hou naamlik direk verband met die tempel en die offers wat daar gebring is.

Dawid besoek hier die tabernakel.

As hy daar voor die brandofferaltaar verskyn, hoor hy die priester die woorde in vers 2-4.

Die priester gee ‘n algemene aanmoediging, aansporing, uitnodiging vir die persoon wat ‘n offer kom bring.

Die priester versker hom:

Die HERE sal ag gee op die arme.

Die HERE sal hulle wat siek is ondersteun.

Dan, vanaf vers 5, is dit Dawid wat sy offer kom bring wat self aan die woord is.

In vers 5-11 verduidelik Dawid sy situasie, hy pleit vir genade, hy kla oor sy siekte, hy kla oor sy vyande.

En dan vanaf vers 12 volg die laaste deel.

In verse 12 en 13 hoor ons ‘n ander Dawid.

Hy is weer opgelug, hy is verseker dat die HERE ‘n welbehae in Hom het.

Nou tussen die tweede deel – Dawid se klagtes – en hierdie derde deel – Dawid wat weer opgelug is – het daar naamlik iets plaasgevind.

Die priester het die offer vir hom gebring.

En na die offer mag Dawid getroos weer huis toe gaan, verseker van God se welbehae.

Danksy die offer het Dawid se stemming verander.

Die offerdiens by die tempel het hom weer bly gemaak en moed vir die toekoms gegee.

 

Tussien hakies, die laaste vers, vers 14, kan ook los van Psalm 41 gelees word.

Want dit is hier waar die eerste boek, die eerste bundel, van die Psalms eindig.

In die 2020-Vertaling word dit duidelik aangegee.

Die Psalmboek het oorspronklik naamlik uit vyf bundels bestaan.

 

Tema: Die bevryding deur Hom teen wie almal die hakskeen opgelig het

Ons gaan 1) eers na Dawid kyk en 2) dan na die Here Jesus Christus.

 

In die tweede deel van Psalm 41 beskryf Dawid dus homself en sy omstandighede.

Hy vra die HERE om hom genadig te wees.

Dit sê hy in die lig van die feit dat daar ander is wat hom nie genadig is nie.

Dawid erken dat hy gesondig het, maar is dit tereg dat sommiges nou sy ondergang wens?

Want sy vyande wag gretig dat hy sterf en sy naam sal vergaan (vers 6).

Hulle fluister onder mekaar, hulle bedink onheil teen hom.

Dawid se sonde het hom inderdaad verswak.

Daar lê het nou, lag sy vyande.

Hy sal nie weer opstaan nie.

Iets skandeliks is op hom uitgestort.

 

Wat Dawid in die hart steek, is dat selfs sy vriende, die mense wat met hom in vrede geleef het, op wie hy vertrou het, wat sy brood geëet het, nou die hakskeen teen hom oplig.

Hy voel homself totaal geïsoleerd.

Dit voel of hy na niemand meer kan gaan wat bietjie simpatie met hom sal hê, wat ‘n luisterende oor sal gee, wat sy situasie enigsins sal begryp nie.

Daar kom by dat Dawid op die oomblik siek is, hy voel magteloos.

Dit lyk of daar ‘n verband is tussen die sonde wat hy bely en sy siekte, as mens vers 5 lees.

Dan is dit dubbel so erg as jy agterkom die mense dink jy kan nou maar sterf.

Dawid is gefrustreerd, magteloos, radeloos, hy kan net nog na God roep.

Maar U, o HERE, wees U my genadig.

Laat my weer opstaan, dat ek hulle hierdie vyandige houding teen my kan vergeld.

 

Hoewel ons heelwat van Dawid se lewensgeskiedenis weet, kan mens hierdie Psalm nie sondermeer aan ‘n spesifieke gebeurtenis koppel nie.

Uit sommige Psalms word duidelik dat daar kere was dat hy ernstig liggaamlik siek was, dink aan Psalm 38.

Ook word die indruk in sommige Psalms gewek dat Dawid moontlik aan depressie kon gely het.

Verder is dit ‘n feit dat Dawid inderdaad baie vyande gehad het.

Nie net die Filistyne nie, maar ook binne sy eie volk, selfs binne sy eie familie.

Sy skoonpa het vir vier jaar lank hom agtervolg om hom dood te maak.

Van sy seuns het gehoop op sy dood sodat hulle koning kon word.

Dink aan die staatsgreep wat Absalom probeer pleeg het.

Daar was ook van sy raadgewers wat hom verraai het.

Dink aan Agitofel wat saam met Absalom gekonkel het.

Kortom, Dawid het ‘n baie komplekse lewe gehad.

 

Maar wat so mooi is, is dat toe Dawid die HERE se huis besoek, dinge weer rustig geraak het.

Sy vertroue het teruggekeer.

Die offer wat die priester vir hom gebring het, het hom tot rus gebring.

Sy hart was suiwer voor die HERE, en nou was hy oortuig dat sy haters se wens dat hy sou sterf ontereg was.

Om opreg voor die HERE te wees beteken nie om sondeloos te wees nie.

In hierdie selfde Psalms moes hy bid dat die HERE hom genadig is, omdat hy teen Hom gesondig het.

Dit kan ons in elk geval uit hierdie Psalm leer.

Ons wat ook sondaars is, kan tog opreg voor die HERE wees.

As ons hart oop is vir die HERE, as ons ons hart skoonmaak deur vergewing van ons sondes te vra.

As ons gebruik maak van die offer wat die HERE aan ons gegee het om mee versoen te word.

 

Kom ons kyk nou na ons Here Jesus Christus.

Want waar Dawid hierdie lied gedig het oor sy eie omstandighede, het hy onwetend ook geprofeteer met hierdie lied.

En toe die Here Jesus na die aarde gekom het, het dit duidelik geword oor wie Dawid geprofeteer het.

Die Heilige Gees het Hom inderdaad laat profeteer oor die Messias wat God sou stuur.

Die Here Jesus het dit self beaam.

Psalm 41 gaan oor Hom.

Hy het reguit vir sy dissipels gesê, terwyl Hy met hulle die laaste Pasgamaal voor sy kruisiging hou: “dat die Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.” – Johannes 13:18.

Jesus haal uit Psalm 41 aan.

 

Wat beteken die uitdrukking: hakskeen oplig?

Letterlik beteken dit: om te skop.

Dink aan ‘n perd wat agteruit skop, dit kan dodelik gevaarlik wees.

Die uitdrukking kan dus beteken dat iemand teen jou draai, jou verraai, en selfs dat iemand jou wil doodmaak.

In Dawid se geval kan ons aan voorbeelde dink waar dit met hom gebeur het.

Sy raadgewer Agitofel het hom verraai.

Sy seuns Adonia en Absalom het van sy tafel geëet.

Tog het hulle hulle rug op hulle pa gedraai.

Hulle het hom eers beswadder by die volk en toe probeer doodmaak.

En moenie vergeet nie sy skoonpa Saul.

Maar in die Here Jesus se geval was dit nie minder waar nie.

Daarom sê Jesus self: “maar dat die Skrif vervul kan word: Hy wat saam met My brood eet, het sy hakskeen teen My opgelig.” (Joh 13:18)

 

Aan wie moet ons dan dink?

Wel, in die eerste plek, baie spesifiek, aan een van sy dissipels.

En Jesus noem dit spesifiek om die ander dissipels op hierdie drama voor te berei.

Net soos Dawid, was dit vir Jesus ‘n verskriklike saak.

Die gedagte daaraan het Hom in sy gees ontstel – vers 21.

Hy was diep ontroerd.

Ons sien Jesus hier as mens, as een van ons.

Soms kan emosies oorneem, sodra jy aan iets dink.

Soos ook by Jesus toe Hy aan sy dissipels sê:

“Voorwaar, voowaar Ek sê vir julle, een van julle sal My verraai.”

 

Dis duidelik dat hierdie uitspraak van Jesus die dissipels onkant gevang het.

Hulle het begin twyfel.

Petrus knik na Johannes wat langs Jesus aan tafel was om vir Hom te vra: “Here, wie is dit?”

Natuurlik het Jesus geweet wie dit was, want – sê Hy – Hy weet wie Hy uitverkies het.

Hier dui die woord uitverkies op uitverkies tot die apostelamp.

Ons moet dit nie lees of dit hier gaan oor die leer van die uitverkiesing tot saligheid nie.

Op ‘n ander plek praat Jesus wel daaroor, soos in Johannes 6:

“Al wat die Vader My gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie ... En dit is die wil van die Vader wat My gestuur het, dat al wat Hy My gegee het, Ek daarvan nie sal verloor nie, maar dit opwek in die laaste dag.” (vers 37, 39)

En in Johannes 17 praat Jesus ook oor die uitverkiesing: Hy sal aan almal wat die Vader Hom gegee het, die ewige lewe gee (vers 2).

Oor hierdie uitverkiesing gaan dit dus nie in ons teks nie, maar die uitverkiesing tot die apostelamp.

 

Jesus gaan dan verder met die beeldspraak uit Psalm 41 – hy wat my brood eet.

Maar nou maak Hy dit letterlik.

Hy steek ‘n stukkie brood in die dipsous en gee dit vir Judas Iskariot.

Nog steeds lyk dit of die dissipels dit nie gesnap het nie.

Maar Jesus en Judas het presies geweet wat aangaan.

Jesus het geweet Judas was al besig om agter sy rug te konkel.

Dat hy alreeds na die owerpriesters gegaan en met hulle onderhandel het.

Dat die owerpriesters alreeds vir hom dertig silwerstukke gegee het, en dat hy vanaf ‘n geleentheid gesoek het om sy Meester oor te lewer (Matt 26:14-16).

Maar die ander dissipels het nog nie besef wat besig was om te gebeur nie.

Toe Jesus vir Judas sê: “Wat jy doen, doen dit haastig” (Joh 13:27) het hulle dit anders verstaan.

Sommige het gedink dat Judas, wat die geldbeurs gedra het, nog iets moes gaan koop vir die fees, of dat hy iets vir die armes moes gee.

Hoe ernstig die situasie was, het hulle nie vermoed nie.

Judas wel.

Hy het die stukkie brood geneem en dadelik uitgegaan.

Hy het sy rug op sy Meester gedraai, hy het sy hakskeen teen Hom opgelig, en binnekort sou hy hard skop.

So word Psalm 41 vervul in die geskiedenis van Christus se lyding.

Daar is haters wat tesame fluister, konkel, onheil teen Hom bedink.

Selfs die man wat met Hom in vrede geleef het, wat saam met Hom brood geëet het.

 

Tog is die lyding by Jesus soveel dieper as by Dawid.

Dit blyk ook daaruit dat Dawid sy Psalm met sekerheid kon afsluit.

“Hieraan weet ek dat U ‘n welbehae in my het” en dat met vyand nie oor my sal juig nie (vers 12).

In Jesus se geval was daardie sekerheid nie daar nie.

Daar moes eers iets verskrikliks gebeur.

Jesus moes eers ervaar dat sy Vader geen enkele welbehae in Hom het nie.

Hy moes eers wanhopig uitroep: “Eli, Eli, lama sabagtani” – my God, my God, waarom het U My verlaat (Matt 27:46)?

In Jesus se geval het die vyand dit inderdaad reggekry om die hakskeen op te lig en Hom dodelik te skop.

Dit is wat ons vandag, op Goeie Vrydag, herdenk.

Christus het gely, is kruisig, het gesterf.

Die onheil wat die vyand teen hom bedink het, het gerealiseer.

En dan was dit nie net mense se onheil nie, maar die van die helse magte.

Jesus het reeds in Judas se optrede die werk van die duiwel gesien.

Dink aan wat Hy gesê het: “Het Ek nie julle twaalf uitverkies nie? En een van julle is ‘n duiwel! En Hy het bedoel Judas Iskariot, die seun van Simon; want hy sou Hom verraai, hy wat een van die twaalf was.” (Joh 6:70-71)

Dit is inderdaad verskriklik pynlik as die duiwel dit regkry om een van die mense wat baie naby aan jou is, in sy mag te kry.

Een waar jy elke dag mee saamleef, op wie jy selfs vertrou, as so ‘n persoon sy hakskeen teen jou lig.

In Jesus se geval was dit nog soveel erger.

Net voor die maaltyd het Hy nog sy dissipels se voete gewas, Judas s’n inkluis.

Hy het die dissipels sy vriende genoem, Judas inkluis.

Nou lig Judas daardie gewaste voet van hom op om Jesus te skop.

 

So het ons Heiland al die haat en nyd en intriges en verraad wat so eie is aan die menslike bestaan ook deurgemaak, en dan selfs nog veel erger.

Alle skandes is oor Hom uitgestort (Ps 41:9).

Hy kan met ons meevoel, met Dawid wat hierdie Psalm geskryf het in sy uur van radeloosheid, maar ook met elkeen van ons, soos die Hebreërskrywer ons verseker: “Want ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.” (Hebr 4:15)

Daar is niemand wat kan sê: Die Here Jesus weet nie wat ek moet deurmaak nie.

Liggaamlik en geestelik het Hy die mees onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking deurgemaak, deur sy hele lewe en veral aan die kruis.

En die helse angs en pyn het Hy deurgemaak, sodat ek dit nie meer hoef te ervaar nie (Heidelbergse Kategismus Sondag 16).

Hy het meegemaak hoe sy vyande oor Hom juig – en dit was sy eie mense!

Waar Dawid nog sy Psalm kon afsluit met die versekering: In My opregtheid ondersteun U my (vers 13), kon Jesus dit nie, al was Hy soveel opregter as Dawid.

En ons bely eerbiedig dat ons uit onsself ook dit sou gedoen het wat Judas gedoen het.

Ons ou mens lig ook teen Hom die hakskeen.

En so is Christus verraai deur die hele wêreld, nie net die heidenwêreld nie, maar selfs die verbondsvolk: “sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.” (Joh 1:11)

 

Vandag, op hierdie Goeie Vrydag, dank ons ons Heiland dat Hy Psalm 41 vervul het.

Hy het Dawid se skandes en sondes op Hom geneem, en so ook myne en joune.

Dawid het met sy sondes en klagtes en siektes na die tabernakel gegaan.

Daar het die priester vir hom geoffer.

Daarna mog hy getroos en verseker van God se welbehae weer huis toe gaan.

Vandag het ek en jy nie meer die tabernakel of tempel nodig nie.

Ons het Golgota.

Ons nader tot God met die offer van ons Here Jesus Christus.

Op grond van daardie offer vra ons vergewing van ons sondes.

Ons mag selfs vrymoedig kla oor ons klagtes en siektes en vyande.

En dan, danksy Golgota, mag ons uitroep met nog veel meer sekerheid as Dawid destyds:

“Hieraan weet ek dat U ‘n welbehade in my het”.

Hieraan – dit is danksy Golgota.

Danksy Golgota sal my vyand – die duiwel en die dood – nie meer oor my kan juig nie.

Want Christus het my met sy kosbare bloed gekoop en gee my die ewige lewe.

Ja as ek en jy nou die Vader met sy Naam op die lippe nader, mag ons die woorde aan die einde van Psalm 41 op onsself toepas:

U het ‘n welbehae in my (vers 12)!

U ondersteun my in my opregtheid (vers 13)!

U stel my voor u aangesig tot in ewigheid (vers 13)!

En dit alles nie op grond van my verdienste nie, maar omdat daar ‘n vrolike ruil plaasgevind het, soos Marten Luther dit verwoord.

Christus se opregtheid het my opregtheid geword.

God se welbehae met Christus se kruisoffer sorg dat Hy nou ook met my en jou welbehae het, met elkeen wat op Christus vertrou.

Christus wat voor God se aangesig op die hemelse troon regeer, sorg dat ek en jy – elkeen wat op Hom vertrou – nou ook ewig voor sy aangesig mag lewe.

 

En so mag ons lewenslied dieselfde wees as Dawid s’n.

Ook ons breek uit in dankbaarheid, saam met die woorde aan die einde van die eerste Psalmbundel: “Geloofd sy die HERE ... van ewigheid tot in ewigheid!

Amen, ja amen.” (vers 14)

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 41:1,2

Gebed

Skriflesing: Psalm 41

Ps 41:3-6

Skriflesing: Johannes 13:1-30

Sb 7:4,5,6

Teks: Psalm 41:10 & Johannes 13:18

Preek

Sb 6:1-4

Gebed

Geloofsbelydenis: NGB art 21

Sb 6:5,6

Kollekte

Ps 65:2,3

Seën