Preek: 1 Timotheüs 2:1-4
In sy brief aan Timotheüs gee Paulus vir hom raad, spesifiek met die oog op sy bediening in Efese.
Verskillende onderwerpe kom aan die orde.
Laasweek het ons gekyk na die eerste hoofstuk, hoe Timotheüs moet voortgaan om die betroubare Woord te preek.
Dit ook te verdedig teen hulle wat die wet op ‘n verkeerde manier gebruik, naamlik om hulleself te regverdig, pleks van om hulle skuldbewus te maak en vergifnis in die Messias se Naam te gaan soek.
In hoofstuk 2 behandel Timotheüs nuwe onderwerpe.
Ons teks handel veral oor die gebed.
Paulus roep op tot gebede vir alle mense, en spesifiek ook vir almal wat hooggeplaas is.
Dat dit nodig is, sal niemand ontken nie.
Kyk net wat regerings en presidente aanvang, nie net in ons land nie, maar reg oor die wêreld.
Maar dis nie die enigste doel van die gebed nie.
Die gebed het nie net ten doel om ander mense te verander nie, maar ook onsself.
Daarna kyk ons in vandag se preek.
Tema: Christus roep op tot gebede vir alle mense, in besonder gesagsdraers
- Deur hierdie gebede werk Christus aan ons
- Deur hierdie gebede werk Christus aan gesagsdraers
- Deur hierdie gebede werk Christus aan ons
In 1 Timotheüs 2 gee Paulus ‘n opdrag – ‘n vermaning – vir almal.
Dit is ‘n opdrag tot gebed.
Die hele gemeente in Efese – daar waar Paulus vir Timotheüs agtergelaat het – moet ‘n biddende gemeente wees.
Hierdie opdrag geld egter nie net vir die gemeente in Efese nie.
In hoofstuk 2:8 lees ons die woorde: “op elke plek”.
Dit dui op elke plek van samekoms.
Dit verwys na al die verskillende gemeentes, waar hulle ook al geleë was.
En so lees ons tot op vandag hierdie oproep as ‘n oproep van God vir alle gemeentes van alle tye en plekke om te bid, spesifiek ook vir die gesagsdraers.
Toe Paulus destyds afskeid geneem het van die gemeente te Efese, het hy goed besef dat daar nog moeilike tye vir die gemeente sou wag.
Handelinge 20:29-30: “Want ek weet dit, dat na my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat ...”
Ook wat betref die houding teenoor die gesagsdraers sou daar manne in die toekoms opstaan wat dwaalleer verkondig.
Daarom gee Paulus nou aan Timotheüs spesifieke instruksies, veral op daardie punte waar die Efesiërs kon begin dwaal.
En dit het dus ook gegeld vir hulle houding teenoor gesagsdraers.
Gemeente, dink u dat dit vir ons gemeente ook ‘n swak plek is?
Is daar rede om te sê dat ons houding teenoor gesagsdraers nie reg is nie, gesagsdraers in ons land, of gesagsdraers in ons kerk?
Kan ons houding teenoor gesagsdraers ‘n oorsaak word waardeur ons gebed vir hulle belemmer word?
Die gemeente in Efese moes bekend staan as ‘n biddende kerk.
Paulus gebruik vier verskillende woorde: smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge.
Dit onderstreep die gemeente se omvangryke taak.
En dit is die gemeente se primêre taak wat betref gesagsdraers.
En nie net insidenteel nie.
Paulus gebruik die meervoud: gebede, danksegginge ...
Bid julle gereeld gesagsdraers?
Doen julle gereeld voorbede vir almal wat hooggeplaas is?
Ons skud soms ons kop as ons hoor wie daar in hoë posisies aangestel word.
Vriendjiespolitiek, sê ons dan.
Jong, onervare mense ...
Korrupsie, nepotisme ...
Gemeente, moenie dink dat dit in die Romeinse Ryk anders was nie.
Miskien juis daarom het die owerheidspersoneel nog des te meer ons voorbede nodig, ons smekinge.
En dan lees ons ook: danksegginge.
Hoe dikwels dank ons die Here vir die gesagsdraers?
Baie keer vra ons onsself af of daar rede is om te dank, of daar wel iets is om voor te dank.
As daar iemand was wat kon kla oor die owerhede, was dit Paulus.
Nadat hy tot bekering gekom het, het die Joodse leiers aanhoudend probeer om hom dood te maak.
En ook die Romeinse owerhede.
Hy is gestenig en amper dood agtergelaat, terwyl die owerheid nie ingegryp het nie.
Hy het gevange gesit, terwyl hy onskuldig was, meerdere male.
Een keer het hy selfs twee jaar lank vasgesit, terwyl die goewerneur, Felix, geweet het dat hy onskuldig is.
Maar, so kan ons lees in Hand 24:26-27, Felix het gehoop dat Paulus aan hom geld sou gee om uit te kom.
Felix het, soos ons vandag sou sê, vir ‘n ‘bribe’ gewag – omkoopgeld.
Maar toe dit nie gebeur nie en Felix uiteindelik opgevolg word deur Festus, het Felix Paulus maar vrygelaat, egter ook uit verkeerde motiewe.
Ons lees dat hy aan die Jode ‘n guns wou bewys ...
As daar iemand was wat, menslik gesproke, reg gehad het gesagsdraers te bekritiseer, was dit Paulus.
Desnieteeenstaande vermaan hy die gelowiges om vir die owerhede te bid.
Vermaan kan ook vertaal word: Ek roep julle op, ek spoor julle aan.
Dis nie ‘n vryblywende saak nie.
Nou is daar onder ons ook mense wat net soos Paulus destyds, ‘n slagoffer van die owerheid was of is.
Slagoffer van die feit dat die owerheid sy posisie misbruik het, of nagelaat het om sy taak uit te voer.
Slagoffers van ‘n gewapende roof, terwyl die polisie daarna niks gedoen het nie.
Dit is verstaanbaar dat ons dikwels sug as ons moet bid vir die owerheid, dat ons ‘n weerstand daarteen ervaar.
Tog klink die Woord van God vandag duidelik tot elkeen van ons.
Ons word vermaan, aangespoor om dit wel te doen.
Christus dring daarop aan dat ons dit wel doen.
Ons persoonlike gebede, ons kerklike gebede, mag nie net om onsself draai nie.
Juis in ons gebede moet ons uitreik na ‘n wêreld in nood, na alle mense.
Wat sou die wêreld gewees het, hoe sou alle mense gewees het, hoe sou die toestand van die owerheid gewees het, as daar niemand was wat vir hulle bid nie?
Gemeente, glo u nog in gebed, in die krag van gebed?
Hoe bevoorreg is ons owerheid nie dat daar elke Sondag, ja selfs elke dag, hier in ons land talle gebede opstyg na die hemel vir hulle welsyn!
Hierin staan die kerk vandag in die skoene van die gelowiges uit die verlede.
In die Ou Testament het die profeet Jeremia die ballinge opgeroep:
“soek die vrede van die stad waarheen Ek julle in ballingskap weggevoer het, en bid daarvoor tot die HERE; want in die vrede daarvan sal julle vrede hê.” (Jer 29:7)
Die vroeë kerk het ook gebid vir die heidense keisers.
In die brief 1 Clemens lees ons die gebed: Gee eensgesindheid en vrede aan ons en aan alle wêreldbewoners ..., aan die owerhede en aan hulle wat op aarde oor ons regeer.
En ‘n ou Christelike gebed vir Keiser Marcus Aurelius het soos volg gelui: ons, wat vir u heerskappy bid, ... sodat ons ‘n vreedsame en rustige lewe kan lei en bereidwillig alles wat ons opgedra is, ten uitvoer kan bring (Smeekskrif van Athenagoras, +/- 177 nC).
In laasgenoemde gebed hoor mens duidelik die woorde van ons teks: “sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei”.
Die NGB verwys ook eksplisiet hierna in artikel 36, wat oor die owerheid handel.
Maar, en die volgende is belangrik om te besef, en daarna kyk ons in die eerste punt van die preek:
Hierdie rustige en stil lewe is in die eerste plek nie die positiewe uitkoms van ‘n goeie regering nie.
Maar dit is in die eerste plek die positiewe uitkoms van ons gebed vir die owerheid.
As jy naamlik vir iemand bid, kan jy daardie persoon nie haat nie.
Gebed en haat gaan nie saam nie.
Gebed bevry jou van haat.
Gebed dra vrug in jou lewe, in die sin dat jy ‘n lewe kan lei in Godsvrug en waardigheid.
Godsvrug kan ook vertaal word met Godvresendheid.
En ‘n biddende onderdaan is ‘n waardige onderdaan.
Dit dus in die eerste plek.
Die gebed het ‘n gunstige invloed op jouself; jou lewenswyse; jou ingesteldheid en optrede in die land waarin jy bly, en die kerk waarvan jy lid is.
In die woorde van ons teks: Gebed maak jou rustig en stil.
Deur die gebed vir gesagsdraers werk Christus naamlik eerstens aan jou!
Gebed het ‘n gunstige invloed op jou houding teenoor die gesagsdraers.
Dit is waartoe Christus ons in die eerste plek oproep, as Hy ons vermaan om te bid vir die owerhede, vir konings en alle hooggeplaastes.
Want juis deur hierdie gebede vir die gesagsdraers werk Christus aan ons, sorg Hy dat ons ‘n rustige en stil lewe in alle Godsvrug en waardigheid lei, hoe ontstuimig dit ook rondom ons kan wees.
‘n Rustige en stil lewe is dus nie primêr die gevolg van ‘n goeie owerheid nie, maar dis primêr die gevolg van ons gebed!
(Tema: Christus roep op tot gebede vir alle mense, in besonder gesagsdraers
- Deur hierdie gebede werk Christus aan ons)
- Deur hierdie gebede werk Christus aan gesagsdraers
Tweedens het gebed ook ‘n positiewe invloed op gesagsdraers, in die land, in die kerk, waarook al.
Maar let wel, dit is die tweede.
As die bestuur van die land ‘n chaos is, beteken dit nie ons hoef nie meer vir die owerheid te bid nie.
Dit kanselleer nie gebed uit nie.
Wat soos ons gesien het, eerstens is gebed bedoel om ons gesindheid reg te hou.
Deur gebed werk Christus aan ons, of daar nou ‘n goeie owerheid is, of ‘n mislukking van ‘n owerheid.
Intern dra gebed die vrug dat dit vir jou ‘n rustige en stil lewe gee, en dit dan gedefinieer in terme van die woorde in ons teks: Godsvrug en waardigheid.
Dis hoe ons lewens behoort te lyk.
Maar tweedens dan, deur die gebed werk Christus ook aan die gesagsdraers.
Ekstern het die gebed beslis ook ‘n invloed op die gesagsdraers.
Die vrug van goeie regering is beslis ook dat onderdane ‘n stil en rustige lewe kan lei.
Hierdie sin moet ons nie in algemene terme lees, asof ‘n stil en rustige lewe beteken dat niemand ons gaan pla in ons huis of op ons plase, sodat ons rustig en onbekommerd kan lewe, en dat ons met ons motors op paaie sonder slaggate kan ry, en dat ons in die aande kan rondwandel in die strate sonder gevaar, en noem maar op nie.
Natuurlik is sulke dinge die vrug van Godvresende hooggeplaastes se regering van ‘n land.
Tog is dit nie die primêre doel van ons gebed vir die regering nie.
Paulus skryf: sodat ons ‘n rustige en stil lewe kan lei in alle Godsvrug en waardigheid.
As gelowiges moet ons lewe op aarde gekenmerk word deur Godsvrug – die 2020-Vertaling vertaal Godvresendheid – en waardigheid.
Dit is ons doel op aarde, juis dat ons deur so ‘n lewenswandel ander ook tot Christus kan bring.
Dit lees ons in die volgende verse: Want God ons Verlosser wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
Ons bid dus nie primêr vir ‘n goeie owerheid sodat ons ‘n aangename lewe kan lei en dat ons ons welvaart ongehinderd kan vermeerder nie.
Dan draai ons gebed uiteindelik net om onsself, dan kom ons in die vaarwaters van die sogenaamde voorspoedsteologie, die sogenaamde welvaartsteologie, asof die doel van die owerheid primêr is dat sy burgers ryk kan word.
Die primêre taak van die owerheid is – soos artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis dit verwoord – om die Woordbediening te beskerm ... sodat God deur elkeen geëer en gedien sal word.
Ook hier hoor ons weer die echo van dit wat ons in 1 Timotheüs 2 lees: God wil dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
God wil dat almal die Middelaar, Christus Jesus, leer ken, wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal.
In die verlengde van hierdie taak van die owerheid lê ons taak as gelowiges om ‘n Godvresende en waardige lewe te lei.
Die owerheid moet ‘n stabiele situasie waarborg – rustig en stil – sodat die Woordbediening kan voortgaan.
Vandag, in die greep van ‘n humanistiese wêreldbeeld, word die owerheid se taak veral gedefinieer in terme van die vermeerdering van die welvaart van sy burgers.
Die meer linkse politieke partye pleit vir die ekonomiese opheffing van die armstes van die armes.
Die meer regse politieke partye beloof die beskerming van die besittings en goedere en bates van diegene wat dit alreeds besit.
Maar die hele politieke stelsel – sowel links as regs – draai eintlik om materie, dit is in wese materialisties, oor watter politieke party dit ook gaan.
Die Skrif leer ons egter dat die owerheid se taak gefokus moet wees op die eer van God en die redding van alle mense.
En dit geld ook vir ons taak op aarde.
Ons taak is om deur ons Godvresende en waardige lewe mense na Christus te lei, die Middelaar tussen God en mense.
Ons primêre strewe op aarde is nie die vermeerdering van welvaart nie, maar die vermeerdering van die koninkryk van Christus.
Ons verlang na die herskepping van alle dinge, die nuwe aarde, waar daar wel ongekende welvaart sal wees vir almal wat dit mag beërf, geestelike sowel as materieel, waar daar geen honger meer sal wees nie, waar die strate van goud sal wees, waar ons almal as konings sal heers.
Egter dan nie in egoïstiese terme nie, maar alles met die doel om God ewig te loof en te prys.
Sowel die owerheid as die kerk, elkeen op eie terrein, moet toewerk na daardie doel.
Ons gebede vir gesagsdraers moet daarop gerig wees.
Laat ons bid dat die owerheid bevry word uit die materialistiese paradigma.
Dat hulle sal besef dat rykdom vir almal nie geluk en vrede in die land gaan bring en waarborg nie, net soos armoede dit nie doen nie.
Laat ons en hulle eerder ter harte neem wat die Skrif sê:
“gee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is; dat ek nie, as ek oorversadig geword het, U verloën nie, en sê: Wie is die HERE? En dat ek nie, as ek arm geword het, steel en my aan die Naam van my God vergryp nie.” (Spreuke 30:8-9)
Laat ons bid dat die owerheid hierdie Godgegewe taak weer mag raaksien.
Laat ons bid dat alle Christene in ons land hierdie regte perspektief sal hê op hulle werk en op hulle lewe in die algemeen.
Nie alle hooggeplaastes is dieselfde nie.
Daar is korruptes, daar is eerlikes.
Daar is onbekwames, daar is bekwames.
Daar is Christene, daar is atheïste, Moslims, en noem maar op.
Maar, soos Calvyn geskryf het in sy kommentaar op 1 Timotheüs 2:
Dit is ons taak, nie net om te bid vir hulle wat alreeds bekwaam is nie, maar ons moet God bid dat Hy slegte mense goed sal maak.
Ja, dis die tweede punt van die preek: Deur ons gebede werk Christus aan die gesagsdraers!
En laat ons ook nie vergeet om te dank nie.
Soos ek genoem het, het Paulus alle rede gehad om oor die owerhede en hooggeplaastes te kla.
Tog proe ons in sy briewe ‘n sfeer van dankbaarheid vir die feit dat daar owerhede is.
In Romeine 13 skryf hy: “want hy is ‘n dienaar van God, jou ten goede.” (vers 4)
Behalwe vir daardie kere wat die owerhede volledig gefaal het in Paulus se lewe, vind ons ook voorbeelde in die Skrif waar die owerhede Paulus beskerm het.
Daar was byvoorbeeld die owerhede van Asië, staan daar in Handelinge 19:31, wat Paulus se vriende was.
Hulle het ‘n berig na hom gestuur en hom gesmeek om homself nie in die skouburg van Efese te begeef nie, want dit sou vir hom lewensgevaarlik wees.
Verder het die stadsklerk van Efese die mense in die skouburg tot bedaring gebring.
Daar was naamlik ‘n groot volksoploop.
Hierdie gespuis wou Paulus en sy metgeselle om die lewe bring, omdat Paulus kritiek gehad het op hulle godin Diana.
Die stadsklerk het hulle egter daarop gewys dat daar ‘n regsorde in die stad bestaan, en dat Demetrius die silwersmid alle reg het om ‘n saak teen Paulus aan te span.
Daar word naamlik hofsittings gehou, en die regters sal dan onpartydig oordeel.
Deur hierdie optrede het die stadsklerk Paulus en sy metgeselle se lewe gered.
Hierin was die stadsklerk ‘n instrument in die hand van Christus, wat die voortgang van die Woordbediening verseker het.
En broers en susters, behalwe vir al die kritiek wat ons het, is ek seker dat elkeen van ons ook aan meerdere voorbeelde kan dink hoe die owerhede ons gehelp het.
As jou baas jou onregmatig probeer afdank, is daar wette in die land wat werknemers beskerm.
As daar ‘n gespuis deur die strate trek en toi-toi, is daar polisie teenwoordig om wet en orde te handhaaf.
En so kan daar nog voorbeelde opgenoem word.
In 1 Timotheüs 2:1 roep die Skrif ons dan ook eksplisiet op tot danksegginge.
As daar by Paulus rede was tot dankgebede, des te meer by ons!
Gemeente, al met al, genoeg rede om vir gesagsdraers te bid, en te dank.
Christus roep ons op tot aanhoudende gebede vir hulle, nie net insidenteel nie.
Want deur hierdie gebede werk Christus aan ons.
Hy keer dat daar haat in ons harte begin groei, of hoogmoed, of selfgesentreerdheid.
En tweedens, het ons gesien, deur hierdie gebede werk Christus ook aan die gesagsdraers.
Kom ons vertrou Christus, dat Hy ook ons gebede vir die welsyn van die owerhede sal gebruik, dat Hy ook daarmee berge sal versit.
Amen.
Votum
Seën
Ps 42:3,5
Gebed
Skriflesing: Handelinge 19:30-40; Kolossense 4:2-6; 1 Timotheüs 2:1-8
Sb 49:6
Teks: 1 Timotheüs 2:1-4
Preek
Ps 34:2-5
Gebed
Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)
Kollekte
Sb 45:10,11
Seën