Die betroubare Woord gaan voort

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2026-04-26
Teks: 
1 Timotheüs 1
Preek Inhoud: 

Preek: 1 Timotheüs 1

 

1 Timotheüs is die eerste van die sogenaamde Pastorale Briewe in die Bybel.

Dit is 3 briewe – 2 aan Timotheüs en 1 aan Titus – wat Paulus aan jong predikante geskryf het.

Hulle was opvolgers van Paulus.

Paulus onderrig hulle, rus hulle toe, bemoedig hulle, gee hulle adviese en geestelike leiding om oor te neem op die plekke waar hulle uitgeplaas is – Timotheüs in Efese, Titus op Kreta.

Jarelank het Paulus in Efese saam met Timotheüs gewerk.

Nou moet hy alleen daar aangaan.

Maar hulle, Timotheüs en Titus, moenie skaam wees omdat hulle jonk is nie, want hulle tree op met dieselfde volmag van Christus.

Of ‘n ampsdraer jonk of oud is, dit maak nie ‘n verskil aan sy volmag nie.

Die gemeente, insluitende die bejaardes moet hulle net soveel gehoorsaam as vir Paulus en die apostels.

 

Tema: Die betroubare Woord gaan voort

  • Paulus vertrou dit aan Timotheüs toe
  • Paulus benadruk opnuut wat dit is

 

  • Paulus vertrou dit aan Timotheüs toe

Dit is pragtig hoe mens hier, reeds in die Nuwe Testament, sien hoe Christus begin met ‘n nuwe generasie in sy kerk.

Dit is dikwels iets waaroor ou mense bekommerd kan wees – wat gaan daar van die kerk word?

Sal die jong mense dit kan bolwerk?

Die jong mense doen dinge nie altyd op dieselfde manier as die ou mense nie.

Die jong mense word groot in ‘n ander tyd.

Hulle sien nuwe moontlikhede, maar daar is ook nuwe gevare.

Paulus benader Timotheüs nie asof hy self die goue standaard is nie, asof vroeër alles beter was nie.

Hy maak ook nie ‘n geheim van sy eie donker verlede nie.

Vers 13: Ek was vroeër ‘n lasteraar en ‘n vervolger en ‘n geweldenaar.

Hy verootmoedig homself.

‘n Bejaarde wat sy foute kan erken, wat kan getuig wat die HERE in sy lewe gedoen het, dit maak ‘n diep indruk op die jeug.

Paulus dank Christus Jesus.

Om onverklaarbare redes het Hy Paulus gekies vir die bediening.

En Hy het Hom daarvoor die krag gegee.

Die genade van die Here was baie oorvloedig in sy lewe.

 

Dis opvallend wat Paulus in vers 13 skryf, naamlik dat hy vroeër ‘n lasteraar en vervolger en geweldenaar was, maar dit onwetend gedoen het.

Probeer hy homself tog darem ‘n bietjie goed te praat?

Verwys hy dalk na die onderskeid wat in Moses se offerwetgewing gemaak is tussen opsetlike en onopsetlike sondes?

Ek dink dat Paulus hier verwys na Jesus se eie woorde aan die kruis.

Onthou u nog wat Jesus gesê het?

“Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” (Luk 23:34)

Later sou Petrus dieselfde woorde herhaal op Pinksterdag toe hy vir die Jode sê: “En nou, broeders, ek weet dat julle dit in onwetendheid gedoen het, net soos julle owerstes” (Hand 3:17).

Paulus was ‘n Godvresende Jood, maar hy het Jesus nie as die Messias aanvaar het nie.

Tog het God aan sy verbondsvolk genadetyd verleen, na Pinkster, om tot nuwe insig te kom – die volk wat meegevoer was deur hulle owerstes, die Fariseërs en Sadduseërs, om hulle Messias te kruisig.

Paulus, as ywerige Jood, het met die stroom meegegaan.

Maar God se genade vir hom was groot!

Paulus sien in homself dus ‘n bewys dat die Vader na Christus se woorde aan die kruis geluister het.

En voortaan beroem hy homself nie meer op sy stamboom nie, op die feit dat hy ‘n wetsgetroue toegewyde Fariseër was uit die stam van Benjamin nie.

Dis net God se genade in Jesus Christus wat nou nog tel!

 

En wat Paulus nou doen in hierdie pastorale brief, is om Timotheüs aan te moedig om voort te gaan met die betroubare Woord.

Daardie betroubare Woord is – kernagtig soos dit in vers 15 staan – dat Christus Jesus in die wêreld gekom het om sondaars te red!

Die boodskap wat Paulus persoonlik mog ervaar – dat Christus Jesus in die wêreld gekom om sondaars te red, van wie hyself – erken hy – die vernaamste is.

Christus was met hom lankmoedig, vers 16, Hy het al sy geduld aan hom betoon, vertaal die 2020-Vertaling.

En dit het vrugte opgelewer, want nou mag Paulus selfs ‘n voorbeeld wees vir ander.

Net so is die bejaardes, en die ouer ampsdraers onder ons, ook voorbeelde.

Voorbeelde in die sin dat hulle lewens daarvan getuig dat Jesus baie geduld met hulle betoon het, dat Hy nie te gou opgegee het met hulle nie, en dat dit vrug opgelewer het, ja die vrug, die werk van die Heilige Gees.

 

Maar Paulus se dae gaan tot ‘n einde kom, hy is in die herfs van sy lewe.

En hy erken dat hy nie altyd vir die kerk sal kan sorg nie.

Hy is nie onmisbaar nie – nie een van ons is nie.

Maar ons kry wel die opdrag om te werk aan opvolging.

En dis wat ons in hierdie hoofstuk lees.

Paulus skryf aan Timotheüs: “Hierdie boodskap vertrou ek aan jou toe, my kind Timotheüs, ooreenkomstig die profesieë wat vroeër aangaande jou uitgespreek is, sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou.”

 

Gemeente, hierdie lyn van opvolging het in die Nuwe Testament begin.

Ons is nou al twee duisend jaar later, en staan u soms daarby stil dat dit ‘n wonder is dat hierdie opvolging nooit opgehou het nie?

Kom ons neem vir ‘n oomblik aan dat die gemiddelde predikant vir 35 jaar diensbaar is.

Dan is daar drie predikante per eeu nodig.

Maal dit met 20 eeue dan kom jy by 60 predikante.

Maar dit was nog heelwat meer, want lank nie elke predikant kon 35 jaar dien nie.

Maar dus al vir ten minste 60 keer het Christus gesorg dat die opvolging plaasvind, dat die Woord getrou sy voortgang vind, ook met ‘n nuwe generasie wat die aflosstokkie oorneem.

En dan praat ons nog nie eers oor die geweldige uitbreiding van die kerk reg oor die wêreld, en die duisende predikante en sendelinge en ouderlinge en diakens wat nodig was deur die eeue heen nie.

Ja dit is ‘n wonder dat dieselfde Evangelie vandag nog verkondig word, dieselfde betroubare Woord!

Ons staan te min daarby stil.

 

In die vroeë kerk was opvolging iets waarmee die kerk baie bewus mee besig was.

Onthou, in daardie tyd het alle gelowiges nog nie ‘n Bybel gehad nie.

Boeke was peperduur, en boonop kon die meeste mense nie lees nie.

Dikwels het ‘n gemeente net een Bybel gehad.

Dit was die taak van die voorganger om die Bybel voor te lees, en dit op te pas, en as dit verslete geraak het, te sorg dat dit betroubaar oorgeskryf word.

En dan praat ons nog nie eers oor die betroubare uitleg van die Woord wat voorgelees is nie.

Gemeentes het geweet wat die lyn van opvolging van hulle voorganger was.

So skryf Irenaeus dat hy ‘n leerling was van Polikarpus, wat op sy beurt ‘n leerling van die apostel Johannes was.

Daarom het die mense hom vertrou dat hy die regte, die ortodokse leer, gehad het.

In die stryd teen die dwaalleer van die gnostiek kon Irenaeus kragtig getuig dat dit nie met Christus se leer ooreenstem nie.

En hy kon dit weet, want hy het by Polikarpus gestudeer, wat op sy beurt ‘n leerling van Johannes was!

 

Kom ons dank die Here Jesus Christus wat sorg vir opvolging, wat gesorg het dat die Evangelie sy voortgang gevind het deur die eeue.

En kom ons bid die Here dat Hy dit ook vir die toekoms sal doen.

Bid en werk, self dankbaar daartoe bydra met die middele wat God aan ons gegee het.

 

 

  • Paulus benadruk opnuut wat dit is – die betroubare Woord

Gemeente, daar is ‘n taak – dikwels ‘n ondankbare maar tog onmisbare taak – wat op die Evangeliedienaars se skouers rus.

En dit is om die ware leer te verdedig teen dwalinge, nie net van buite die kerk nie, maar ook teen mede-Christene se eie insigte.

En veral vir ‘n jong voorganger kan dit baie swaar op sy skouers rus.

Mens proe iets daarvan in ons hoofstuk..

En later skryf Paulus dit ook eksplisiet, 1 Timotheüs 4:12: “Laat niemand jou jonkheid verag nie”.

Hy moet hom nie laat intimideer deur ouer mense wat presies vir hom sal vertel hoe dinge behoort te wees nie, ouer gemeentelede wat met ‘n beterweterige en self-regverdige houding kom.

 

Dit is moontlik dat Timotheüs met die sogenaamde Judaïste te make gekry het.

Vir hulle was die nakom van die wet krusiaal.

Nie net die tien gebooie nie, ook die wet op die besnydenis, ook al die sabbatswette, al die dinge in die boeke van Moses wat vir die Jode van die heidennasies onderskei het.

Paulus skryf die wet nie af nie, net – noem hy – moet dit wel wettiglik gebruik word.

Wettiglik gebruik – dit beteken om die wet op die regte manier te gebruik.

Verse 3-11 gaan oor die vraag hoe die wet deur gelowiges reg gebruik moet word.

Wet is hier ‘n term wat Paulus breër gebruik, naamlik al die boeke van Moses.

 

Die wet is naamlik nie gegee, skryf Paulus, vir die regverdige nie, maar vir sondaars, vir wetteloses en ongehoorsames.

Hierdie opmerking kan ons verstaan in die lig van wat Jesus gesê het: Die wat gesond is, het die Geneesheer nie nodig nie (Matt 9:12).

Hy het nie gekom om regverdiges te roep nie, maar sondaars tot bekering (Matt 9:13).

Vir die Fariseërs was die wet nie ‘n instrument om hulle tot verootmoediging te bring nie.

Want hulle het hulleself reeds as regverdig beskou.

Hulle het die wet gebruik om hulleself op die bors te klop.

Kyk, ons is besny, ons kom die sabbatswette en voedselwette na, ons lewe reg, in teenstelling tot die heidene en tollenaars en sondaars!

So het die Fariseërs die wet nie op die regte manier gebruik nie.

Want God het sy wet nie gegee om sy kinders te laat beter voel, self-regverdig te laat voel nie, maar juis as ‘n spieël om hulle sondes bloot te lê.

Om ons te verootmoedig, om ons aan te kla, om ons desperaat te maak, sodat ons op soek gaan na iemand om ons te verlos!

Dat ons sal erken dat ons in onsself onheilig is, ja moordenaars, en hoereerders, en sodomiete, ensovoorts is.

Paulus was ook vroeër so ‘n tipe – selfregverdig.

Maar Christus het Hom oortuig dat Hy ‘n sondaar is, selfs die vernaamste, en hoe baie hy ook barmhartigheid nodig het.

 

Maar met sulke mense kry Timotheüs dus ook te make.

En sommer by die intrapslag van sy brief skryf Paulus aan hom:

Jy moet sekere persone in Efese beveel om nie ‘n ander leer te leer nie.

Dit is hoekom hy in Efese agtergelaat is.

Hy moet die gemeente beskerm teen die invloed van dwaalleraars in hulle midde.

En al is Timotheüs baie jonk, hy het die bevoegdheid om hierdie mense selfs te beveel!

Paulus praat streng met Timotheüs, meer as een keer in hierdie brief.

Jy moet nie daarvoor terugdeins nie, al is jy jonk: Jy moet hulle beveel!

Hulle moet ophou met hulle twisvrae, hulle haarklowery.

Paulus gebruik die terme fabels en geslagsregisters.

Wat word hiermee bedoel?

Daar was onder die Jode tradisies wat baie aandag geskenk het aan die geslagregisters, aan hulle stambome.

Ook het daar allerlei verhale ontstaan rondom die historiese persone uit die Pentateug – basies fabels.

Kortom, die boeke van Moses is ywerig gebruik, maar nie vir dit waarvoor hulle bedoel was nie.

Ook vandag kan ons die Bybel en stambome gebruik om onsself beter voor te stel as ander, maar dis nie waarvoor die Skrif gegee is nie.

Almal, elke mens, is sondaar en lê onder God se oordeel.

Die wet is bedoel om elke mens tot skuldbesef en verootmoediging te bring.

Niemand uitgesluit, ook nie kerkmense nie.

Paulus, as apostel, noem homself die grootste sondaar.

Hierin mag ons – as ampsdraers – sy voorbeeld volg, deur langs sondaars te gaan staan, en nie bo hulle nie.

Met die voorbeelde wat Paulus noem – verse 9-10 – gaan hy basies deur al tien gebooie.

Goddelose – dit verwys na die eerste gebod – hulle wat sonder die ware God lewe, en ander gode dien.

Sondaars – dit verwys na hulle wat beelde aanbid, ook verkeerde denkbeelde.

Onheiliges – dit verwys na hulle wat God se naam misbruik.

Ongewydes – die 2020-Vertaling vertaal wêreldlinge – dit verwys na hulle wat die Sabbatdag nie aan God toewy nie, maar soos die wêreld dit deurbring.

Vadermoorders en moedermoorders, mens kan ook vertaal – hulle wat hulle vader en moeder mishandel – dit verwys uiteraard na die vyfde gebod: Eer jou vader en jou moeder.

Dan die woord moordenaars verwys uiteraard na die sesde gebod.

Hoereerders en sodomiete, dit verwys na die sewende gebod.

Mensediewe, mensehandelaars, dit verwys na die agtste gebod.

Leuenaars en meinediges – dit verwys na die negende gebod.

En wat daar anders met die gesonde leer in stryd is.

En wat daar anders – dit wil basies sê: ensovoorts, enigiets anders wat sondig is wat jy begeer.

So hierdie lys verwys na die tiende gebod.

 

Dit is dus die doel van die wet: om sondaars tot skuldbesef te bring.

En dan is die kern van elke gebod dit wat Pauus in vers 5 skryf: die doel van die gebod is liefde uit ‘n rein hart.

Dat ons God liefhet bo alles en ons naaste soos onsself.

Ons almal is sondaars, Paulus begin by homself as die grootste sondaar.

Die feit dat hy Christus leer ken het, en dat hy as apostel mag dien, is genade.

Geen opregte stamboom of watter agtergrond van hom ook al het daaraan iets bygedra nie.

Dankbaar mag hy die Woord bedien, en dis wat hy ook in Efese gedoen het.

Dit is die betroubare Woord wat sal voortgaan deur die geslagte, naamlik:

Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red.

Dit moet Timotheüs preek, daaruit mag hy self leef, dit mag hy aan sondaars voorhou.

 

En laat Timotheüs toesien dat die gemeente bly by hierdie Woord, en ook spesifiek dit waarvoor die Woord bedoel is.

Hierdie sogenaamde wetsleraars verdraai die Woord, gebruik dit vir waarvoor dit nie bedoel is nie.

Die wet moet ook op ‘n wettige manier gebruik word.

Kerklike onderrig en tradisies wat nie met die Evangelie ooreenstem nie, is ongesond, dis gevaarlik, dit neem die sig op die Evangelie weg!

 

Waarskynlik ‘n paar dekades later, skryf die apostel Johannes vir dieselfde gemeente in Efese ‘n brief.

Ons vind dit in Openbaring 2 (vers 1-7).

Daar word die gemeente vermaan omdat hulle die eerste liefde verlaat het.

Dit klink in ooreenstemming met wat Paulus hier skryf.

Laat die gemeente terugkeer na die regte gebruik van die Woord.

Laat hulle nie allerlei ander dinge doen, terwyl hulle die kern van die wet verontagsaam nie.

Die apostel Johannes verwys na werke van die Nikolaïete.

Die Nikolaïete het daarvoor bekend gestaan dat hulle nogal wêrelds, losbandig, gelewe het.

Johannes waarsku, as hulle so voortgaan, sal Christus sy kandelaar wegneem.

 

Maar in hierdie brief in Openbaring is Johannes ook dankbaar dat die gemeente standpunt ingeneem het teenoor sommige persone, mense wat gesê het hulle is apostels maar leuenaars was.

Moontlik was die twee name wat ons aan die einde van 1 Timotheüs 1 lees, twee van hulle.

Ja, aan die einde van die hoofstuk noem Paulus selfs twee name: Himeneüs en Alexander.

Hulle het op een of ander manier gelaster – het hulle dalk die jong Timotheüs self belaster?

Hulle geloof en ‘n goeie gewete het hulle versaak, daardeur het dit skipbreuk gely.

Paulus het hulle aan die Satan oorgegee.

 

Ook vandag is dit soms nodig dat name in die gemeente eksplisiet genoem moet word.

As vermaning en tug op dowe ore val, dan kom daar ‘n dag waarop die gemeente teen skeurmakers, teen hulle wat hulle nie verootmoedig nie, gewaarsku moet word, deur hulle name te noem.

Ook as dit vooraanstaande persone in die gemeente is.

 

Mens kan jouself voorstel dat Timotheüs se bediening in Efese ‘n swaar las op sy skouers was.

Hy het bemoediging nodig gehad.

En Paulus, wat besig is om die aflosstokkie oor te gee, doen dit.

Timotheüs is sy geloofskind.

Hy is lief vir hom, hy wil hê dat hy sal slaag in sy bediening.

Hy bou hom op, hy breek hom nie af nie, en die gemeente mag dit ook nie doen nie.

En so sorg Christus dat die Evangelie sy voortgang vind, ook wanneer Paulus nie meer daar sal wees nie.

 

Kom ons dank Christus dat Hy voortgaan.

Hy is ‘n Koning wat nooit sonder onderdane sal wees nie!

Die jare stap aan, die een eeu maak plek vir die volgende.

Die aarde bly nie dieselfde nie.

Dis ‘n heel ander plek vandag as wat dit honderd jaar gelede gelyk het, selfs as toe die bejaardes onder ons nog jonk was.

Soms lyk dit of dinge in ‘n stroomversnelling gekom het.

Wat gaan van die mensheid word?

Wat gaan van hierdie aarde word?

Al hoe meer lande probeer kernwapens te bekom, die kans op ‘n groot ramp lyk of dit toeneem.

En dan is daar die rasendsnelle ontwikkeling van kunsmatige intelligensie, AI.

Hoe gaan die aarde oor ‘n paar dekades lyk?

Hoeveel slimrobotte gaan daar dan rondloop?

En dan is daar dwalinge wat die kerk bly aanval, van binne en buite.

Liberale dwalinge, maar ook konserwatiewe dwalinge.

Maar gemeente, al lyk die aarde vandag baie anders as 100 jaar gelede, en nog meer as in die Middeleeue of nog vroeër, die wonder is dat die Evangelie steeds daar is!

Dit is steeds ‘n krag as dit verkondig word, ‘n krag wat mense tot geloof bring en hulle lewens verlig.

Christus het al twintig eeue vir opvolging gesorg, gesorg dat die blye boodskap bly klink.

Hy sal daarvoor bly sorg totdat Hy terugkom.

Ons hoef nie skepties te wees oor die nuwe generasie, oor die jeug nie.

Nie dat hulle beter is as die oueres nie.

Maar Christus se werk sal voortgaan.

Soos Timotheüs ‘n kragtige instrument in sy hand geword het, net soos Paulus, so sal hulle wat die aflosstokkie oorneem ook net so kragtig en moedig verder gaan, omdat Christus hulle toerus.

 

Ons mag die Evangelieboodskap aan ons kinders toevertrou, sodat hulle kan aangaan om die goeie stryd te stry, en aan die geloof en ‘n goeie gewete vashou.

Daarom hoef ons nooit pessimisties te wees oor die toekoms nie.

Christus regeer, nie AI nie, nie lande met atoombomme nie.

Christus beskerm sy kerk, ook as dit aangeval word deur dwalinge.

Hy skenk nuwe Timotheüsse, wat verdergaan met die wedloop, ook as die ou generasie in die graf lê.

Paulus lê al lankal in die graf, maar nie die Evangelieboodskap wat hy aan Timotheüs toevertrou het nie.

Want Timotheüs, wat ook al lankal in die graf lê, het dit op sy beurt weer aan nuwe mense toevertrou.

En so gaan dit voort, onstuitbaar.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 49:1,4-6

Wet

Ps 119:38,39

Gebed

Skriflesing: 1 Timotheüs 1

Sb 38:1-3

Teks: 1 Timotheüs 1

Preek

Ps 119:13,19

Gebed

Kollekte

Ps 40:4,5,8

Seën