‘n Lewe met bose geeste teenoor ‘n Geesvervulde lewe

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Pretoria
Datum: 
2026-04-26
Teks: 
Lukas 11:24-26
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 11:24-26

 

Ons weet maar min oor bose geeste, of soos dit in vandag se teks staan – onreine geeste.

Maar so te sien is dit ‘n wese wat in en uit ‘n mens kan gaan.

Daar is ook nie net een nie, maar meer onreine geeste.

Hulle kan saamspan, byvoorbeeld sewe wat terugkom om ‘n mens te oormeester.

Daar is onreine geeste wat sleg is, en daar is die wat nog slegter is.

Die mens word hier met ‘n huis vergelyk.

As die huis leeg onbewoon is en die deur staan oop, dan is dit maklik vir die bose geeste om in te kom en van die huis besit te neem.

 

Wat beteken hierdie teks eintlik?

Op die oog af baie raar ...

Wat beteken dit in die konteks van hierdie hoofstuk?

Vroeër in die hoofstuk word vertel dat Jesus by iemand ‘n duiwel uitgedryf het, en daarna kon die man weer praat.

Soms maak ‘n bose gees iemand dus stom, ander kere laat hy iemand juis skreeu en lelike dinge sê – dink aan laasweek se teks.

 

Tema: ‘n Lewe met bose geeste teenoor ‘n Geesvervulde lewe

1 Is die huis wel bewoond en soja deur wie?

2 Bly die huis wel bewoond?

 

1 Is die huis wel bewoond en soja deur wie?

Vir baie mense in Suid-Afrika is sulke bose geeste ’n daaglikse werklikheid.

Ons sendelinge sal daaroor kan vertel.

Mense beskerm hulleself en hulle huise op allerlei maniere en met allerlei rituele hierteen.

Vir die sangoma’s is dit ’n welkome bron van inkomste.

Vir ’n gemiddelde huis kos dit ’n paar duisend rand per jaar.

 

Mense wat kerklid is, verwag dat hulle dominee een keer per jaar in hulle huis kom bid, by voorkeur ’n gebed in elke kamer van die huis, ook ’n gebed in die motorkar.

Dit gee die mense gemoedsrus.

Uit elke hoekie moet die bose geeste verdryf word.

Doen hierdie mense iets wat ons ook behoort te doen?

Is ons te min gepla oor bose geeste, en dit terwyl ons tog dikwels in die Bybel oor hulle lees?

 

Uit die Evangelie is dit duidelik dat die Here Jesus mense bevry van bose geeste.

Hy dryf hulle uit.

Hy maak jou lewe, waar die bose geeste tot dusver huisgehou het, aan kant.

Maar as hulle uitgedryf is, moet jou huis – die huis van jou lewe – natuurlik nie leeg bly nie.

Dan gebeur wat ons gelees het, dat die bose gees weer sal terugkom, selfs nog meer.

Daarom moet iemand wat sterker is in jou huis kom woon.

In die plek van die bose geeste kom die Heilige Gees, die Gees van Christus, om jou huis te bewoon.

Jy word ’n tempel van die Heilige Gees.

En waar die Heilige Gees woon, daar bly die bose geeste uit die buurt.

Hulle hou afstand.

Hulle waag dit nie om binne te dring nie.

Want, die Heilige Gees is sterker.

As daar ’n sterker man in die huis is, gaan hulle sukkel om hom vas te bind – dis die beeldspraak wat Jesus gebruik.

En dit is die geweldige voorreg, die rykdom van ’n gelowige lewe.

Die Heilige Gees gee ’n stabiele lewe, wat nie die heeltyd besoedel en omvergegooi word deur bose geeste nie.

En ons is bevoorreg om gedoop te wees in die naam van die Vader, die Seun, en die Heilige Gees.

 

Nou hoe doen die Heilige Gees dit?

Hier kom die verskil in.

Nie deur rituele van byvoorbeeld toordokters nie.

Maar die Heilige Gees werk deur die Woord.

Dus hoe bereik jy daardie toestand, dat die Heilige Gees baas is in jou huis, en dat die bose geeste nie durf om nader te kom nie?

Daardie geseënde toestand bereik jy as jy elke dag – jy en jou gesin – die Bybel oopmaak.

Daaruit lees, jou lewe laat verander, transformeer deur die Woord van God.

Hoe meer jy dit doen, hoe kragtiger werk die Gees, en hoe swakker word die mag van die duiwel en sy demone in jou lewe.

’n Bybelse lewensstyl beskerm jou teen al die bose geeste en demone, die demoon van drank, die demoon van dwelms, die demoon van jaloesie en wraak, die demoon van geldverkwisting, ensovoorts.

Die Woord transformeer jou lewe, sodat God se gawes nie afgode word nie, sodat jy God se gawes konstruktief pleks van destruktief gebruik, dink aan byvoorbeeld seksualiteit of rykdom.

Ja ’n huis, en ’n stad waar God se Woord eerbiedig word, sal ’n plek wees waar geweld en verkragtings en uitbuiting nie aan die orde van die dag is nie.

Is dit nie iets begeerliks vir ons land nie?

 

Eintlik, gemeente, is ons in die buitengewoon bevoorregte posisie dat ons waarskynlik weinig nadink oor bose geeste.

Vir sommige van ons is dit selfs ’n vraag of hulle ooit bestaan ...

Ons het dit te danke aan die eeuelange kerstenende werking wat die Woord van God op ons kultuur.

Aan die feit dat jy byvoorbeeld in ’n Christelike gesin mog opgegroei het, waar huisgodsdiens ’n daaglikse gewoonte was;

waar die Heilige Gees jou lewe van jongs af getransformeer het met die Woord van God.

Soveel so dat jy jou amper nie meer kan indink wat dit is om deur ’n bose gees beheer te word nie.

 

Wat ’n rykdom is dit!

Dalk ervaar jy dit as gewoon, selfs vervelig, maar dis ’n rykdom!

’n Huis wat uitgevee is, aan kant gemaak, selfs mooigemaak, versier.

In so ’n huis, eintlik ’n paleis, ja ’n tempel, lewe jy.

Maar ons sien dit dikwels nie meer raak nie, dit het gewoon geword.

Die stabiliteit wat die Gees bied ... dit het soms vir ons eentonig geword.

 

So wat is ‘n Geesvervulde lewe ...?

Dis daardie lewe wat gevorm is volgens die Woord van die Here.

Soos ‘n huis wat uitgevee is, ordelik, aan kant gemaak.

Ek bedoel dan nie in die eerste plek jou huis letterlik nie – maar die huis van jou lewe.

Oor die algemeen mag ons ’n goeie lewe lei.

Natuurlik is daar uitdagings, natuurlik gebeur daar ook erge dinge in ons midde.

Maar ons is geseënd met ’n goeie stabiele middelklas – dalk eerder topklas – gereformeerde lewensstyl.

Bose geeste kry relatief min vatplek, want God regeer ons deur sy Gees en Woord.

 

 

2 Bly die huis wel bewoond?

Hoewel, gemeente, en dit moet ons net nie vergeet nie.

Dit wil nie sê die bose geeste bestaan nie meer nie.

Ons lees: Die onreine gees, toe hy uitgedryf is, het rondgedwaal en orals probeer rus soek, tot hy ’n nuwe plan, ’n nuwe aanvalsplan, uitgedink het.

Ek sal teruggaan na my huis waar ek uitgegaan het.

Ek sal sewe ander geeste saamvat, nog slegter as ekself.

Ons sal weer probeer om daardie huis in beslag te neem.

Agt bose geeste wat saamstaan, dan sal ons seker die sterk man kan boei?

En toe die geeste by die huis aankom, wat vind hulle?

’n Pragtige huis. Uitgevee. Aan kant gemaak. Versier.

En, tot hulle verbasing – dit is die ontstellende wat Jesus noem – hulle vind die huis leeg!

Geen sprake van ’n sterk man nie.

Leeg, dit wil sê, die bewoner, die sterk man is nie daar nie!

Dis soos wanneer jy op vakansie sou gaan, en jy los jou huis se voordeur oop, die hek los jy oop ... enige slenteraar kan maar net binneloop,

 

Nou is hierdie sterk man die Heilige Gees.

Hoe kan dit dat ’n huis so mooi netjies is, maar die Heilige Gees is nie daar nie?

Wel, dit is presies wat Jesus vir die Joodse volk van sy tyd sê.

Jesus het hulle kwalik geneem:

Julle is die volk van God;

eeue lank is julle geseën met God se nabyheid;

eeuelank het julle gebaat by die stabiliteit van sy verbond.

Maar nou, nou het julle ’n slegte en owerspelige geslag geword.

Selfs die koningin van die Suide, die koningin van Skeba – nie ’n verbondskind nie – sal in die oordeel teen julle opstaan.

Julle is deur die Verbondsgod geseën met ’n ongekende rykdom, nie in die laaste plek geestelike rykdom, dink aan die wysheid van Salomo waaroor die koningin van Skeba haar so verbaas het.

Maar wat het julle gedoen?

Julle het die Bron van al hierdie wysheid en rykdom, die Gewer daarvan, die het julle in die steek gelaat.

Die Heilige Gees, wie se tempel julle mog geword het, die het julle onbelangrik begin ag.

Die Heilige Gees wat julle huis beskerm teen die bose geeste.

Omring deur al die rykdomme van sy verbond, nog steeds profiterende daarvan, het julle begin lewe asof julle die Heilige Gees nie meer nodig het nie.

En op ’n goeie dag, toe die bose geeste terugkom na ’n lang swerftog, toe vind hulle hierdie pragtige huis leeg.

Die sterk man wat hulle verwag het om teen te kom, en om watter rede hulle al agt saamgekom het om hom te probeer oormeester, die vind hulle nie eens daar nie.

En Jesus sê dan: Die laaste van daardie mens word erger as die eerste!

Wat Jesus met hierdie opmerking bedoel is baie ernstig.

Hy bedoel dat die toestand van die Jode voordat God met hulle ’n verbond gesluit het – sê maar toe ook hulle nog heidene was – dat daardie toestand minder erg was as die huidige toestand – bedoelende noudat hulle die gawe van die Heilige Gees verwerp het.

Die feit dat hulle nou lewe asof hulle die Gees nie nodig het nie.

Dat hulle geniet van alle rykdom en voorregte – ’n pragtig versierde huis – maar terselfdertyd ’n leë,  verlate tempel.

Die Here Jesus praat in hierdie verband oor sonde teen die Heilige Gees.

Mattheus 12:31: “Elke sonde en lastering sal die mense vergewe word, maar die lastering teen die Gees sal die mense nie vergewe word nie.”

 

Wat is sonde teen die Heilige Gees?

Wat is lastering teen die Gees?

Dit is wat die Here Jesus in hierdie gelykenis verduidelik.

Hy het die bose geeste uit sy volk se bestaan verban.

Hy het in plek daarvan sy Gees gegee.

Hulle is vervolgens geseën met ’n pragtige lewe, ryk, stabiel, sinvolle lewe.

Maar op ’n stadium het hulle gewoond begin raak aan die rykdom.

Die avonture van die sondige wêreld, die duiwel en sy bose ryk, het aanloklik begin word.

Hulle het begin dink dat hulle al daardie rykdom, daardie bevoorregte posisie, aan hulleself te danke het.

Hulle het begin lewe asof hulle die Gees, die sterk man, nie meer nodig het nie.

Hulle het selfs begin ontken dat hulle al hierdie voorregte te danke gehad het aan die God van die verbond.

Teen beter wete in het hulle die wonderdade van God in sy lewe begin ontken.

Dit is wat die Joodse volk in Jesus se dae gedoen het.

Hulle het Hom nie aanvaar nie, hulle het Hom selfs op een lyn gestel met Beëlsebul.

Nou dit is sonde teen die Heilige Gees.

Om iets wat goed is, aspris sleg te noem.

Soos die Jode hier ’n wonder wat in klaarligte dag gebeur het, verdag gemaak het.

Nou dit sal die mense nie vergewe word nie.

Die laaste van daardie mens word erger as die eerste.

 

Gemeente, laat hierdie u nie baie dink ook aan ons eie tyd nie?

Hoe lyk ons samelewing teenwoordig?

Aan die een kant ry ons nog heerlik op die golf van die welvaart, die stabiliteit, die regsekerheid wat die Evangelie gebring het.

’n Huis wat uitgevee is, opgeruim, mooigemaak, aan kant gemaak.

Maar aan die ander kant is hierdie huis leeg.

Die Gewer van al hierdie goeie gawes word nie meer gewaardeer, laat staan geëer nie.

Sy bestaan word selfs ontken.

Die omgekeerde word selfs beweer.

In die sekulêre Weste hoor ons nie meer dat God se Woord vir die samelewing goed is nie, nee ons hoor nou dat geloof en godsdiens, ook die christelike godsdiens, uit die publieke samelewing geweer moet word.

Mense mag dit net in die privaatheid van hulle huise uitleef.

Want die Bybel kan gevaarlik wees vir ’n multi-godsdienstige samelewing.

Die Bybel wat so goed is, word verdag gemaak, gevaarlik genoem.

 

Gemeente, dink vir ’n oomblik na: Klink dit nie baie soos die situasie waarmee Jesus te make gekry het nie?

Terwyl Jesus iets goeds doen, maak die Fariseërs hom uit as iemand wat gevaarlik is.

Die skare is verwonderd, hulle verstaan nie mooi nie.

Want hulle sien hoe ’n stom man wat deur ’n bose gees geteister is, tot rus kom en selfs weer kan praat.

Die skare begin hulleself hardop afvra: Is Hy nie miskien die seun van Dawid nie?

Is Hy nie miskien die beloofde Messias nie?

Maar die Fariseërs se harte is boos, hulle wil nie die wonder sien nie, hulle oë is verblind.

Hulle sê selfs die omgekeerde.

Hy is nie die Seun van Dawid nie, o nee: Hy dryf die bose geeste Beëlsebul uit!

Dus, Jesus sou ook ’n gevaarlike iemand wees, nie die langverwagte Messias nie, maar een wat by die volk weggehou moet word.

Ander Fariseërs, lees ons, het van Hom ’n teken uit die hemel begeer.

Dis nou enkele minute na ’n wonderteken, vra hulle nog ’n teken uit die hemel.

Dit soos mense vandag wat ontken dat God bestaan, terwyl hulle omring word deur al die seëninge wat die Bybel gebring het.

 

Laat ons onsself op hierdie punt ondersoek, dat ons wel in die wêreld is, maar nie van die wêreld nie.

As baie mense om jou heen, ook in die straat waar jy woon, lewe sonder dat hulle kerk toe gaan, sonder om daagliks Bybel te lees, te bid, die Here te dien, maar terselfdertyd baat hulle nog steeds van die seëninge wat die Bybel vir ons kultuur gebring het.

Wel, een of ander tyd sal die bose geeste terugkom.

Want hulle huis staan leeg, die sterk Man is nie meer daar nie.

Dus sien die bose gees sy kans, en dan nie net een nie, saam met sewe ander wat nog veel slegter, vuiler is.

Sien ons nie dat dit al in ons samelewing begin gebeur nie?

Onthou, die bose geeste lê en wag soos ’n hyena totdat hulle weer ’n kans kry.

Die teks sê, die onreine gees gaan na waterlose plekke en soek rus.

In die Bybel is water ’n simbool vir die HERE se seën.

Waar daar water is, daar is die HERE aanwesig.

En dus kan die bose gees nie daar wees nie.

Hy’t nie ’n ander keuse nie as om in die verlate waterlose plekke te gaan rondhang.

Soos ’n hyena wat nie by die watergat toegelaat word nie, want die leeus is daar.

Maar daar in die waterlose plek vind hy geen rus nie, daar wag hy heeltyd ’n kans af om weer êrens in te kom waar dit aangenamer is om te vertoef.

 

En waar mense die werk van die Gees in hulle lewe verwaarloos, oftewel huise waar die Woord nie meer oopgemaak word nie, dit is maklike teikens vir die bose geeste.

En dit sien ons orals om ons heen gebeur, en dit bedreig ons ook.

Al lyk ons woonbuurte aan die buitekant nog beskaafd – soos die huis in ons teks wat uitgevee en aan kant gemaak is – tog is dit net ’n uiterlike fatsoenlikheid.

Hoeveel mense hier om ons heen in Waverley, of in watter woonbuurt ons woon, lewe wel daagliks uit die Woord, woon weekliks die eredienste by, gee nog hulle tiendes vir die kerk?

Wie stel nog belang om te skenk vir die uitbreiding van die Evangelie?

Laat ons ook onsself ondersoek.

Is daar by ons nog bereidheid om van harte te lewe en te gee vir die saak van die Here?

Ons teks se waarskuwing is ernstig: Die laaste van daardie mens word erger as die eerste.

 

En dit bring ons by Jesus se woorde: “Salig is hulle wat die woord van God hoor en dit bewaar.” (vers 28)

Salig is jy persoonlik, en is die gemeente, as julle die Woord bewaar – jy luister daarna, dit is nie waardeloos vir jou nie, maar jy skat dit op sy waarde, jy sluit dit in jou hart, jy leef daagliks daarmee, sodat dit jou lewe kan transformeer, sodat jou lewe meer en meer Geesvervuld raak.

Dink wat dit betref aan die vrugte van die Gees.

Dink wat dit betref aan die bereidheid om die Evangelie te bly uitdra.

 

Gemeente, ek het al verskeie kere genoem: Ons lewe in ’n wêreld wat die bestaan van bose geeste ontken, ook die bestaan van die duiwel.

Wie dit doen, moet vroeër of later ook die bestaan van God ontken.

Want hulle is almal vir ons onsigbaar.

As Christene beweer ons nie dat hulle vir ons wel sigbaar is nie.

Maar die Woord leer ons om hulle werke op aarde raak te sien.

Al is hulle onsigbaar, die werke van die duiwel en sy bose geeste is baie sigbaar.

Hulle veroorsaak siektes, en oorloë, en wantroue, vernietiging van die skepping, en uiteindelik: ongeloof en opstand teen God.

Maar, gelukkig, die werke van die Heilige Gees is ook net so sigbaar.

Die feit dat die kerk daar is, wat lewe uit die Woord.

Die feit dat daar gelowiges is, wat alles wat hulle is en het toewy aan die koninkryk van Christus.

Die feit dat gelowiges se lewens steeds meer die Gees se vrugte dra:

Liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing, ensovoorts.

Hierdie vrugte maak lewens gesond, maak  gesinne en families gesond, maak samelewings gesond.

Die huis word netjies.

Dit is Christus se werk, deur sy Gees.

Hy dryf die demone en die duiwel ver weg, wat van die lewenshuis ’n varkhok maak.

Christus dryf deur sy Gees die demone uit, staan daar in Mattheüs 12:28.

Dit moet ons nie opvat in die sin van ’n pastoor wat voor in die kerk skreeu by iemand wat geknield voor hom sit, om sodoende ’n bose gees uit hom uit te dryf nie.

As ek preek, skreeu ek nie die heeltyd nie vanaf die preekstoel, om die bose geeste uit te dryf en julle met die Gees te vervul nie.

Maar die Woord word toegewyd bedien, dis hoe die Gees, die sterk Man, werk.

Die Gees dryf demone uit as die Woord hande en voete kry in jou lewe.

In hierdie erediens dryf die Heilige Gees demone uit, omdat die Woord bedien word.

Die werk van die Gees is soos die wind.

Jy sien nie die wind nie, maar jy sien wel deeglik die effek van die wind.

Die werk van Christus se Gees is dat die huis skoon word.

So is die werke van die Gees duidelik sigbaar.

En wie dit nie sien nie, wil dit nie sien nie.

Soos die Fariseërs destyds.

Dan sondig hulle teen die Heilige Gees.

Om aspris dit wat goed is, sleg te noem.

Om nie krediet te gee vir die goeie dinge wat Hy doen nie, maar dit verdag te maak.

So ’n houding in die lewe sal swaar gestraf word.

Maar elkeen wat Geesvervuld lewe, kry die pragtige belofte:

SALIG is hulle wat die Woord van God hoor.

SALIG is jy as jy sy Woord op waarde skat.

SALIG is jy as jy dit bewaar.

Salig, dit wil sê gelukkig, geseënd, vir ewig gered.

Ook vir die tyd waarin ons leef, staan hierdie belofte.

 

‘n Lewe met bose geeste teenoor ‘n Geesvervulde lewe ...

Dit is die tema.

Is die huis wel bewoon, en soja deur wie?

En bly die huis ook bewoond, naamlik deur die sterk Man?

Gemeente, ’n lewe met bose geeste – dan moet ons nie net dink aan toestande daar diep in Afrika nie.

Juis hier waar ons woon, is daar netjiese aan kant gemaakte huise wat al hoe meer begin leegstaan.

Laat ons, daarenteen, ’n Geesvervulde lewe lei.

Dan bedoel ek nie die goedkoop opsie van charismatiese bewegings, wat hulle hande in die lug swaai tydens eredienste, en in tongetaal praat, ensovoorts nie.

Maar ’n Geesvervulde lewe is wanneer iemand na die Woord van God luister en dit bewaar (vers 28). Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 27:2

Gebed

Skriflesing: Lukas 11:14-32

Ps 143:8-10

Teks: Lukas 11:24-26

Preek

Sb 40:4-7

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Sb 14:1,2

Seën