Gaan en doen jy net so!

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2026-03-15
Teks: 
Lukas 10:37b
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 10:37b

 

As jy op die parkeerterrein sien iemand probeer ’n motor steel, maar dit is nie jou motor nie, stap jy net aan asof jy dit nie gesien het nie?

Dink jy by jouself: Dit is nie my probleem nie ...?

Of dink jy: Sy probleem is ook my probleem, en jy bel die polisie of sekuriteitsmaatskappy?

Ons leef saam op God se aarde.

Hierdie lewenshouding leer die Here Jesus ons in die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Dat jy so ’n lewenshouding het: Jou probleem is ook my probleem.

Hierdie boodskap geld ook vir kerkmense, ons moet net so goed na hierdie gelykenis luister as ongelowige mense.

Vir kerkmense is dit ook dikwels moeilik om sonder aansien des persoons in die lewe te staan.

Hoe kry mens dit reg, om op hierdie punt te verander?

Hierdie gelykenis, veral as mens dit in die konteks plaas van waarmee ons Heiland besig was op daardie stadium, help ons verder.

Want dit gaan nie net oor, wat mens kan noem, filantropie, algemene medemenslikheid nie.

Filantropie is dikwels nog steeds baie egoïsties.

Hierdie gelykenis leer ons om in die eerste plek ’n verhouding met Christus te hê.

Jesus sê aan die einde van die gelykenis: Gaan en doen jy net so.

Maar net soos wie moet jy en ek gaan doen?

Dis hierdie vraag wat ons in die preek nader gaan bekyk.

 

Tema: Gaan en doen jy net so!

  1. Erken dit was die samaritaan
  2. Volg die Samaritaan

 

  1. Erken dit was die samaritaan

Jesus is hier in gesprek met ’n wetgeleerde, ‘n vooraanstaande man in die sinagoge; ’n man wat baie kennis van die Bybel gehad het.

Hierdie wetgeleerde vra ‘n vraag aan Jesus met die bedoeling om Hom te versoek.

Oppervlakkig gesien was daar niks fout met die vraag nie.

Maar die vraag het ’n lelike ondertoon gehad.

Die wetgeleerde wou met die vraag die naam van die Here Jesus skade berokken.

Hy het ’n bybedoeling gehad.

Hy wou Jesus laat struikel.

Hy het gevra: “Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?”

Hy het dit nie gevra omdat hy heilbegerig was nie.

Skynbaar onderdanig het hy Hom ook as Meester aangespreek.

Dan sien ons dat die Here Jesus in sy groot wysheid op die vraag ingaan.

Hoewel Jesus hom nie tot ’n dispuut wil laat verlei nie, alhoewel Hy goed besef het dat die wetgeleerde nie uit onkunde die vraag gevra het, maar omdat hy ’n probleem met Hom as persoon gehad het.

Ja met Jesus, wat vir die skare gesê het: Ek is die deur vir die skape.

En: Niemand kom tot die Vader behalwe deur My nie.

Dit is dus hoe jy die ewige lewe beërwe, deur Jesus.

Maar hiermee het die wetgeleerde ’n probleem gehad.

Dat Hy ook die ewige lewe moet beërwe deur Jesus.

 

Jesus beantwoord dan die vraag met ’n wedervraag.

Wat staan hieroor in die wet geskrywe?

Die wetgeleerde gee vervolgens ’n samevatting uit Deuteronium 6:5 en Levitikus 19:18: Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en jou hele siel en jou hele krag en jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.

Dis die mees kernagtige samevatting van al God se gebooie.

Met hierdie antwoord het Jesus uiteraard heeltemal saamgestem, en Hy gee die advies:

Jy het reg geantwoord; doen dit , en jy sal lewe.

 

Maar hiermee was die wetgeleerde nie tevrede nie.

Hy wou mos vir Jesus op ’n verkeerde woord betrap.

Sy poging het bietjie misluk, deurdat Jesus in sy wysheid direk na die Skrif terugverwys het.

As die wetgeleerde nou sou ophou vra, sou die mense dalk dink hy is baie dom.

En daarom vra hy nog ‘n vraag.

In vers 29 staan: Hy wou homself regverdig; oftewel: Hy wou homself handhaaf.

En daarom die tweede vraag: Wie is my naaste?

Hoekom vra hy dit eintlik?

Nie omdat hy self nie geweet het nie.

As wetgeleerde het hy baie goed geweet wie sy naaste was.

Hierdie was ook ’n strikvraag.

Hy wou natuurlik die mening van Jesus hoor.

Hy was op soek na ’n stok om Hom mee te kan slaan.

Maar Jesus vra weer ’n wedervraag.

Hy begin met die vertel van ’n gelykenis.

Nie net om inhoudelik die vraag te beantwoord nie, maar om by die kern uit te kom.

In sy gelykenis verander Hy eintlik die fokus van die vraag.

Dis nie meer soseer die vraag: Wie is my naaste nie?

Maar eerder: hoe word ek ’n naaste vir ’n ander?

 

Die gelykenis wat Hy vertel, was vir alle aanwesiges herkenbaar.

Almal het geweet dat die pad van Jerusalem na Jerigo onveilig was.

Dit het geloop deur ’n deel van Judea waar daar genoeg klowe en rotse was vir rowers om weg te kruip.

Die van u wat al in Israel was, sal weet dat hierdie pad ook steil ondertoe loop.

Jerusalem is ongeveer 800 meter bo seespieël, en Jerigo is 350m onder seespieël.

Dis vergelykbaar met die Prins Alfredpas tussen Knysna en Uniondale.

Jerigo lê naby die Dooie See, wat een van die diepste punte op aarde is.

Dus, vanaf Jerusalm na Jerigo daal mens met vir meer as ’n kilometer met ’n pas ondertoe.

 

Toe die rowers die man uitgeskud en halfdood agtergelaat het, het daar drie keer iemand verbygekom.

Die eerste was ’n priester, die tweede ’n Leviet, die derde ’n Samaritaan.

Die eerste twee het nie aan die slagoffer aandag gegee nie.

By die plek van onheil aangekom, het hulle aan die ander kant van die pad begin loop en hom sodoende op ’n afstand verbygesteek.

Maar die Samaritaanse reisiger het na hom toegegaan en aan hom eerstehulp verleen.

Hy het sy wonde met wyn skoongemaak.

Dit klink dalk snaaks, maar dit was ’n gewone behandeling toe.

Ook vandag word alkohol nog gebruik om wonde te reinig.

Verder het hy die wonde versag met olie.

By olie moet mens nie aan enjinolie dink nie, maar ’n soort olie wat gebruik is vir medisinale doeleindes – om siek mense mee te behandel.

Dink byvoorbeeld aan ’n Bybelteks uit Jakobus 5:14, waar daar staan:

“Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het.”

Hierdie met olie salf is nie ’n soort ritueel nie, maar ’n medisinale behandeling.

 

Daarna het die Samaritaan die slagoffer op sy pakdier gehelp en hom na ’n herberg geneem om hom verder te versorg.

Die volgende oggend, toe hy verder reis, het hy twee pennings vir die eienaar gegee.

Dit was ’n bedrag van ongeveer twee daglone, ’n behoorlike bedrag.

En, het die Samaritaan bygevoeg, enige onkoste wat jy nog meer mag hê, sal ek jou betaal as ek terugkom.

In feite het hy dus ’n blanko tjek agtergelaat.

Na hierdie gelykenis het Jesus toe aan die wetgeleerde gevra, wie van die drie – die priester, Leviet of Samaritaan, homself as ’n naaste teenoor die slagoffer gedra het.

En as die wetgeleerde dan antwoord, is dit eintlik raar dat hy nie eers die woord Samaritaan oor sy lippe kan kry nie.

Maar hy het tog wel erken, dat dit hy was wat aan die arme man barmhartigheid bewys het.

Hoe die wetgeleerde sy antwoord ook formuleer het, hy moes erken dat dit die Samaritaan was.

Ek vermoed dat die wetgeleerde die antwoord bietjie onduidelik gemompel het.

Maar vir Jesus was dit genoeg.

’n Goeie verstaander het ’n halwe woord nodig.

En al wat Jesus toe nog kon sê is: Gaan en doen jy net so!

En dit is die opdrag waarna ons in die tweede punt gaan kyk:

Gaan en doen jy net so!

Volg die Samaritaan!

 

(Tema: Gaan en doen jy net so!

1 Erken dit was die samaritaan)

 

 

  1. Volg die Samaritaan

Nou is dit belangrik om te onthou, soos ek in die inleiding gesê het, dat hierdie gelykenis meer is as net ’n filantropiese verhaal.

Meer as net die boodskap dat jy jou medemens moet help, dat jy altyd gereed moet staan vir ’n ander.

Dis natuurlik waar, maar hierdie gelykenis bied nog meer.

Dis nie net ’n boodskap om op jou eie krag medemenselikheid te bewys nie.

Want in hierdie gedeelte gaan dit veral oor die persoon van die Here Jesus.

Want die wetgeleerde het juis groot moeite gehad met die persoon van Jesus.

Die wetgeleerdes en Fariseërs wou nie aanvaar dat Hy deur God gestuur is nie.

Hulle het Hom gehaat.

Hulle het Hom selfs gespot, hulle het gesê Hy is ‘n Samaritaan.

Ja dis as ’n skeldwoord gebruik.

In Johannes 8:48 sê hulle laagdunkend:

“Sê ons nie met reg dat U ’n Samaritaan is en van die duiwel besete is nie?”

Samaritaan was ’n skeldwoord vir die Jode, soiets soos die k-woord vandag.

’n Samaritaan was eintlik ’n heiden, die Samaritane was nie deel van God se volk nie.

Hulle was minderwaardig.

Jesus was ’n Samaritaan, ’n vervloekte Samaritaan.

Hulle wou nie erken dat Jesus se prediking van God kom nie.

En hoeveel mense het Jesus nie gehelp nie?

Hoeveel siekes het Hy nie genees nie?

Hoeveel mense het Hy nie kos gegee nie?

Deur Jesus se voorbeeld het die volk by uitstek geleer wat dit is om ’n naaste te wees.

Maar die wetgeleerde wou dit nie erken nie.

Hy het sy oë toegeknyp vir al die goeie dinge wat Jesus gedoen het.

En saam met die ander wetgeleerdes het Hy geskel teen Jesus.

Jy is van die duiwel besete! Jy is ’n Samaritaan!

Dink maar aan Johannes 8, toe Jesus dit opgeneem het vir ’n sondares.

 

En, gemeente, juis hierdie skeldwoord – ’n Samaritaan – gebruik Jesus nou in sy gelykenis.

Dit het die wetgeleerde ongetwyfeld laat nadink.

Die Samaritaan was ’n naaste vir die slagoffer.

’n In sy oë veragtelike Samaritaan.

Maar in die lig van die feit dat hulle vir Jesus ’n veragtelike Samaritaan genoem het, gemeente, het hierdie gelykenis ’n dieper betekenis – eerstens vir die wetgeleerde, maar ook vir ons.

Want wie was hierdie Samaritaan eintlik, hierdie een in die gelykenis na wie Jesus verwys?

Inderdaad, dit was Hyself!

Hy is daardie Samaritaan!

Is dit nie Hy wat al soveel keer bewys het dat Hy ’n naaste is vir die siekes, veragtelikes, tollenaars en hoere en hongeriges nie?

Dus als Jesus aan die einde van die gelykenis die wetgeleerde oproep: Gaan en doen jy net so! dan roep Jesus hom in feite op om te doen soos Homself.

Want Hy is die goeie Samaritaan.

Die wetgeleerde moet Hom erken en navolg!

Dus, in sekere sin het Jesus se antwoord ’n dubbele bodem.

Eintlik roep Hy die wetgeleerde op: Kom en volg My.

Volg die Samaritaan met ’n hoofletter.

Leer van My hoe om ’n naaste te word.

Erken die goeie dinge wat Ek in julle midde verrig.

Erken my prediking dat dit van God kom.

Erken al die wondertekens wat daarmee gepaard gaan.

 

Gemeente, hoe pas ons hierdie gelykenis dan vandag toe op ons eie lewens?

Ek het begin met ’n voorbeeld, iemand se motor word gesteel op die parkeerterrein.

Nou is hierdie voorbeeld inderdaad ’n duidelike en praktiese toepassing van die gelykenis.

Jou probleem is ook my probleem.

Ons moet ‘n etiese besef hê.

Wat jy graag wil dat die mens aan jou moet doen, doen dit ook aan ander.

Maar tog, gemeente, wil ek u nog bietjie verder neem in die toepassing.

Want ons teks, “Gaan en doen jy net so” is nie net ’n uiting van algemene medemenslikheid nie.

Die Here Jesus gaan dieper.

Ek het verduidelik dat Hy met hierdie woorde ten dieptse die selfingenome wetgeleerde oproep om Hom na te volg.

Hom, die Messias, wat deur God na sy volk gestuur is.

Dat hulle sal Hom erken vir wie Hy is.

Dat hulle Hom sal navolg.

 

En hierdie selfde oproep moet dan vandag ook klink.

Erken die Messias, volg Hom, die Here Jesus, na.

Medemenslikheid in die algemeen is wel mooi.

Maar dit is oppervlakkig en kortstondig, dit kan skielik ook omslaan in egoïsme.

Hoekom?

Omdat dit nie diep wortels het nie.

Medemenslikheid word in ons samelewing natuurlik aangemoedig.

Jy mag die regte van jou medemens nie skend nie.

Maar, as algemene medemenslikheid nie diep wortels het nie, kan dit net so verdamp.

Hoe kom dit, dat in ons land wat skynbaar so ’n medemenslike en regverdige grondwet het, dat in ons land daar so baie geweld is?

Die regering sluit sy oë daarvoor.

Batho pele – is die slagspreuk: Mense eerste.

Maar in werklikheid het al hierdie medemenslikheid nie diep wortels nie, en sien ons in die praktyk weinig daarvan.

In reaksie raak blanke mense ook al hoe harder.

Ons sal self!

Ons sorg vir onsself!

Ons belange kom eerste!

Vandaar dat dit so belangrik is dat medemenslikheid veranker moet wees.

Dit moet veranker wees in ’n lewende verhouding met die Here Jesus Christus.

Veranker in die navolging van Christus.

Wie Hom navolg, kruisig sy eie ek, en is ook nie vatbaar vir alle invloede van die tyd, die mode van die dag nie.

Wie Hom navolg, is bereid om ook ’n Samaritaan te wees vir iemand wat nie van sy eie volksgroep is nie.

 

Nogmaals, ek sê niks verkeerd oor algemene medemenslikheid nie.

Maar feit is wel dat algemene menslikheid geen lang lewe het, as dit nie in God se Woord veranker is nie, as dit nie as bron die navoling van Christus het nie.

Laat ons eerlik wees, geen mens kan uit homself goed doen nie.

Laasweek behandel ek op katkisasie die vraag met die jeug: Wat is goeie werke?

Die definisie wat die Kategismus gee is ingrypend.

Drie dinge word genoem: Alleen daardie werke wat uit ’n ware geloof, volgens die wet van God, en tot sy eer gedoen word.

Wie hierdie definisie toepas op sy lewe, moet erken dat selfs sy beste werke nog met sonde bevlek is!

Dis slegs deur Christus, deur sy Gees, wat ons in staat is om werklik goed te doen vir ons naaste, sonder bymotiewe.

Daarom, leer die jeug om die Here Jesus te dien, Hom na te volg.

 

Dit is die primêre opdrag wat ons ampsdraers kry, ook die een wat vandag bevestig word.

Hier in die kerk leer ons vir mense nie ’n humanistiese medemenslikheid nie.

Deur die Evangelieverkondiging roep ons op om Christus na te volg.

Dat mense hulle lewens veranker in sy prediking, dit is die Woord van God.

Dit is ook die roeping van ’n ampsdraer.

Die ouderlinge sal julle oproep, in huisbesoeke of wanneer ook, nie net tot algemene medemenslikheid nie, maar in die eerste plek dat jou verhouding met Christus reg moet wees.

Dat elke gemeentelid sal kniel voor Hom, wat op die troon sit.

Leer die mense om Christus na te volg, in woord en daad.

Dit is net so die taak van elke diaken.

Deur hulle eie voorbeeld is hulle in die eerste plek Samaritane, volg hulle Christus na in sy opoffering en dienswerk.

En in die tweede plek spoor hulle u ook aan tot so ’n lewenswyse.

Ons lewe nie vir onsself nie, ons lewe vir Christus.

Wie op Hom vertrou, en dit van Hom verwag, sal deur sy Heilige Gees die gewilligheid ontvang en die krag om ook ’n goeie Samaritaan te wees.

Hy rus ons toe tot onbaatsugtige liefdediens.

Gaan en doen jy net so!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 20:1,2

Wet

Gebed

Skriflesing: Lukas 10:25-37

Ps 41:1

Teks: Lukas 10:37b

Preek

Ps 112:1-6

Bevestiging ouderling

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 146:5,6,7,8

Seën