Preek: Lukas 9:43-45
In die kerklike jaar beweeg ons nou die lydenstyd in.
Oor enkele weke hoop ons weer Christus se kruisiging en opstanding te herdenk.
In ons teks is Jesus bewus besig om sy dissipels te begin voorberei op wat voorlê.
Enkele verse verder – vers 51 – kan ons lees dat Jesus begin aan sy finale reis na Jerusalem.
Dit sou uiteindelik nie ‘n glorieryke reis word nie.
En dit sou ‘n tyd van toenemende ontnugtering word vir die dissipels.
Voor die glorieryke toekoms aanbreek, was dit God se wil dat Christus – en sy dissipels – deur ‘n diep dal moes gaan.
In die lydenstyd herdenk ons dit dankbaar, hoe Christus hierdie dal van doodskaduwee gewillig betree het, en uiteindelik anderkant uitgekom het!
Tema: Voorlopig geen glorieryke toekoms, maar vernedering en oorlewering
1 Groot verwagtings
2 Nugter woorde
1 Groot verwagtings
Christus genees ‘n maansiek kind.
Hierdie wonder gaan vooraf aan Jesus se woorde in ons teks.
Hierdie wonder gebeur op ‘n stadium wat sy dissipels se agting vir Hom net toegeneem het.
Vroeër in die hoofstuk het Petrus onomwonde bely: U is die “Christus van God!” (Luk 9:20)
Daarna het hulle verwagtinge net toegeneem toe Jesus genoem het:
“Ek sê vir julle met waarheid: Daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die koninkryk van God gesien het nie.” (vers 27)
Ongetwyfeld het die dissipels gedink: Dis seker ons!
Die hemelse koninkryk is nou naby!
Sodra Jesus in Jerusalem aankom, sal Hy die koningskap opeis!
En toe gebeur dit ook nog dat Jesus vir drie van sy dissipels (Petrus, Johannes en Jakobus) saamneem op ‘n berg, waar Hy verheerlik word – skiitterend wit het Hy gestraal.
Selfs sien die dissipels toe vir Moses en Elia.
En hulle hoor ‘n stem uit die wolk: “Dit is my geliefde Seun; luister na Hom!” (vers 35).
Hierdie dinge was verbluffend indrukwekkend.
In elk geval, hulle het groot dinge verwag!
En die genesing van die maansiek kind het hulle verwagtinge net nog verder aangehelp.
In die lig van hierdie konteks is Jesus se opmerking in ons teks nogal ontnugterend.
Hulle kon dit nie verstaan nie.
Dit het nie sin gemaak in hierdie prentjie wat hulle in hulle koppe begin kry het nie, naamlik:
Jesus gekroon op die troon in Jerusalem, en hulle aan sy regter- en linkerhand as ministers ...
Groot dinge wat hulle te wagte staan.
Hoekom dan nou hierdie opmerking van Jesus?
Dit maak nie sin nie.
Maar op daardie stadium was hulle te bang om Hom iets daaroor te vra.
In elk geval, na die verheerliking op die berg begin die mense se verwagtings en Jesus se eie planne al hoe verder uitmekaar loop.
Voortaan ontmoet Jesus steeds meer onbegrip oor waarheen Hy oppad is en wat Hy besig is om te preek.
Die verheerliking op die berg was soort van ‘n keerpunt.
Opvallend wat daar staan, dat Moses en Elia daar op die berg met Hom gepraat het oor sy uitgang, oftewel sy uittog, staan daar in die 2020-Vertaling:
Hulle het met Hom gepraat “oor sy uittog, wat Hy in Jerusalem tot vervulling sou bring.” (vers 31)
Wat word eintlik daarmee bedoel?
Uitgang, uittog – mens kan dit sien as ‘n aanduiding van sy sterwe, wat voor die deur gelê het.
Moses en Elia was skynbaar al op die hoogte van hierdie Goddelike plan, hulle het Jesus se lewensdoel al verstaan.
Die dissipels egter nog nie, al het Jesus dit ook al met soveel woorde vir hulle gesê, het hulle dit nog nie gesnap nie (Luk 9:22)
Gemeente, Christus openbaar Homself hier as ‘n egte leier.
Hy is bereid om in die hede onbegrip te verduur, omdat Hy ‘n groter doel voor oë het.
Sulke leiers is skaars.
Leiers wat bereid is om hulle eie gewildheid opsy te skuif, omdat hulle diensbaar is aan ‘n hoër doel.
Toe hulle af die berg is, wag daar ‘n nuwe verheerliking vir Hom.
Daar staan: ‘n Groot skare het Hom al tegemoet gekom.
Hulle kon nie wag om Hom weer te sien nie.
Hulle het Hom hoogs bewonder, vereer.
Maar Jesus het dit nie kop toe gevat nie.
Ja, Hy verrig spektakulêre wonders, maar wel met die oë gerig op sy lewensdoel.
En feit is, hierdie was ‘n spektakulêre wonder.
‘n Seun, die enigste kind van sy pa, wat deur ‘n bose gees keer op keer beetgepak is, wat hom dan laat stuiptrekkings kry met skuim om die mond.
En, opvallend wat die pa hier sê, hy het Jesus se dissipels gesmeek om die bose gees uit te dryf, maar hulle kon nie.
Hoekom nie?
Was hierdie dan ‘n ekstra sterk bose gees?
Die ander evangeliste, Mattheüs en Markus, verwys na die belang van gebed en vas; en na die dissipels se ongeloof.
Mens kan ook noem dat die dissipels moontlik te veel van hulleself begin dink het.
Want hier word daar nie melding gemaak van Jesus se Naam nie.
Elke keer lees ons dat die dissipels dit moes doen in Jesus se Naam.
Byvoorbeeld vers 49: “Meester, ons het iemand gesien wat in u Naam die duiwels uitdryf”.
Of 10:17: “En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.”
Het die dissipels oormoedig geraak?
Wel, hulle het.
Net na ons teks moes Jesus hulle vermaan, toe hulle met mekaar begin redekawel oor wie die belangrikste is.
Moontlik was dit die agtergrond hoekom hulle nie die bose gees uit die seun kon uitdryf nie.
Hulle hoogmoed was in die pad.
Baie bewus trek Jesus ‘n kindjie nader.
Onthou, wie die kleinste onder julle almal is, hy sal groot wees!
Christus lei sy dissipels nie op om wonderdokters, laat staan ministers te word nie.
Hy berei hulle voor om sy kudde te wei, sy skape te versamel – tot die geringste lammetjie soos hierdie kind.
Laat hulle tog nie dink hulle is te belangrik vir ‘n kind nie.
En laat hulle nie dink hulle is die enigstes wat belangrik genoeg is om sy dissipels te wees nie.
Daar is ander wat ook duiwels uitdryf – vers 49 – maar let wel: in die Naam van Jesus.
Daar waar Christus se Naam klink, daar is Hy aanwesig.
Waar twee of drie in my Naam bymekaarkom, daar sal Hy wees (Matt 18:20).
Eintlik ironies, want waaroor die dissipels nou praat, is die omgekeerde van wat Jesus hulle op die hart druk.
Bewaar hierdie woorde – knoop dit in julle ore ... sê Jesus.
Maar pleks van oor Jesus se aanstaande lydensweg te praat, en die implikasie daarvan ook vir hulle loopbaan te oorweeg, filosofeer hulle eerder oor die moontlike bevordering wat daar vir hulle wag, en wie van hulle die meeste bevordering sal kry.
Gemeente, bevordering en voorspoed is nie ‘n gegewe in die Christen se lewe nie.
Maar goed, wat die dissipels nie kon regkry nie, dit doen Jesus wel.
Hy bestraf die onreine gees en gee die seun gesond aan sy pa terug.
Daar is al baie verklarings gegee oor watter siekte hierdie seun eintlik gehad het.
Sommige simptome stem ooreen met epilepsie: Hy kry stuiptrekkings en word neergegooi op die grond.
Hy kry skuim om die mond.
Hy kners met sy tande (Mark 9:18).
Maar daar is ook simptome wat nie met epilepsie gepaard gaan nie.
Soos: Die seun kan nie praat nie, en hy’s ook doof – so kan mens in Markus 9 lees (Mark 9:17,25).
Dis nie altyd maklik om siektes uit die oudheid, soos wat hier beskryf word, te vereenselwig met siektes soos ons dit vandag ken nie.
Maansiek was waarskynlik ‘n breër kategorie as wat deesdae as epilepsie beskryf word.
Daar kom by dat hier oor ‘n onreine gees gepraat word, wat hom dikwels selfs in die vuur en water gedryf het (Mark 9:22).
Ek het al in eerdere preke hieraan aandag geskenk, dat siektes ‘n liggaamlike en ook ‘n geestelike komponent het.
Die geestelike of psigiese komponent word deesdae baie onderbelig, omdat die sekulêre Weste nie meer in geeste glo nie.
Bose geeste is inderdaad onsigbaar, maar dit wat hulle veroorsaak, hulle bose werke, is wel sigbaar.
Net soos die Heilige Gees onsigbaar is, maar sy werke is wel sigbaar.
Dus gemeente, sonder om te poog om ‘n presiese diagnose te maak in vandag se terme, kan ons vol dankbaarheid en verwondering uit hierdie gebeurtenis leer dat Jesus kan genees.
Hy kan liggaamlike siektes genees, Hy kan geestelike siektes genees, en watter kombinasie dit ook al is.
Hy maak duidelik: In sy koninkryk is daar geen plek vir siektes of gestremdhede van watter aard ook al nie!
En Hy roep die verbondsvolk op tot geloof.
Glo in die Messias wat julle God gestuur het!
Dis ‘n hartseer konstatering wat Jesus maak: “o Ongelowige en verdraaide geslag, hoe lank sal Ek by julle wees en julle verdra?”
Hierdie toestand – ongeloof – is erger as dit wat die seun gehad het.
En juis dit was sy eerste doel op aarde, om die oorsaak hoekom mense in ongeloof verval het, weg te neem.
En daarom geniet Hy nie nou van alle bewondering nie.
Inteendeel, Hy kies koers na lyde en dood.
Hy sal oorgelewer word in die hande van mense.
Nou dra die mense Hom op die hande.
Later sou daardie selfde hande gebald in die lug swaai, terwyl dieselfde mense sal skreeu: Kruisig Hom, kruisig Hom!
Ja eers verraai deur Judas, toe oorgelewer deur die Jode aan die Romeine, en toe deur Pilatus om gekruisig te word.
Hy het dit geweet, Hy het dit toegelaat.
2 Nugter woorde
Ja, Jesus het nie net gekom as ‘n Wonderdokter nie.
Die hoofagendapunt in sy lewe was nie die heeltyd genesings nie.
Hy was oppad na ‘n nog groter taak.
Daarop wys Hy sy dissipels in ons teks.
Maar die dissipels verstaan dit nog nie.
Hulle is nog in die ban van al die wonders.
Sê nou maar dit sou Jesus se enigste taak wees hoekom Hy aarde toe gekom het.
Dat Hy as Wonderdokter so sou voortgaan om mense te genees.
En Hy het inderdaad ongelooflik baie mense genees.
Johannes skryf dat al sy genesings nie in die Evangelie opgeskryf kon word nie, dit was te veel (Joh 20:30; 21:25).
Tog het daar nog steeds mense ook in Jesus se tyd op aarde aan siektes gesterf.
En in al die ander lande waar Jesus nie uitgekom het nie, ja selfs ook nog in Israel het daar steeds siekes gesterf.
Selfs al sou Jesus in se menslike hoedanigheid ewig voortgeleef het op aarde tot vandag toe, en steeds oor die wêreld sou toer om siekes gesond te maak, nog steeds sou – hoe ‘n groot Wonderdokter Hy ook sou wees – sy impak relatief gewees het …
Maar Christus het ‘n groter doel voor oë gehad.
Die Vader het Hom gestuur met ‘n groter opdrag.
Hy het gekom om die oorsaak weg te neem hoekom mense siek word.
Die genesing van hierdie maansieke kind was van tydelike aard.
Hy het later ook te sterwe gekom, moontlik eers as ‘n ou man, maar nietemin.
Christus het sy dissipels begin voorberei op wat Hom te wagte staan.
Toe Jesus as ‘t ware op die hoogtepunt van sy roem is, bewonder deur die mense – daar staan dat almal verslae was oor die majesteit van God soos dit in Jesus na hulle toegekom het – juis toe temper Jesus hulle verwagtinge:
“Luister goed na hierdie woorde: Die Seun van die Mens gaan in die hande van mense oorgelewer word.” (2020-Vertaling)
Bewaar hierdie woorde in julle ore; oftewel: Knoop dit in jule ore.
Nogal ‘n sterk uitspraak van Christus.
Juis noudat die dissipels al hoe meer begin dink dat niks hulle Messias gaan kan terughou nie, dat die hemelse koninkryk basies om die draai is, juis nou bring Jesus hulle af aarde toe.
Daar is nog ‘n moeilike pad om te loop, ‘n lydensweg.
Voorlopig is daar geen glorieryke toekoms nie, maar vernedering en oorlewering.
Op daardie stadium het hulle sy woorde nie verstaan nie.
Dit was vir hulle bedek, die 2020-Vertaling sê: “Die betekenis daarvan was vir hulle verborge”.
Dinge het nie sin gemaak nie.
Dit het nie in hulle prentjie gepas nie.
Ook was hulle skynbaar bang op daardie stadium om Hom nader daaroor uit te vra.
Maar Jesus het baie bewus daardie prentjie wat hulle in hulle koppe begin vorm het van ‘n glorieryke toekoms, binnekort in Jerusalem, begin afbreek.
Meerdere kere kondig Hy sy lyde aan.
Nou gebruik Hy ‘n kindjie om hulle weer af aarde toe te bring.
Maar, sê die teks, die betekenis daarvan was vir hulle steeds verborge.
Daar was nog ‘n waas voor hulle oë – oor hulle verstand.
Aan die een kant deur hulle eie sondige ambisies, aan die ander kant volgens God se plan, waarvolgens hulle oë eers na die opstanding sou oopgaan, en dinge toe eers vir hulle sou sin maak.
Gemeente, ook vandag is daar mense, kerke, wat beweer dat die glorieryke toekoms reeds op aarde is.
Hulle ‘claim’ dat hulle net soos Jesus siekes gesond kan maak, bose geeste kan uitdryf, net deur hulle verbaal te beveel.
Laat ons nugter en eerlik wees, dis nie die waarheid nie.
En kerklike groeperings wat dit beweer en sogenaamd praktiseer, loop vroeër of later hulle rieme styf.
Ek moet dink aan die destyds beroemde Brother Joshua.
‘n Paar dekades gelede was hy sogenaamd die profeet van sy tyd, wat wonders verrig het.
Christene het na hom gereis na waar hy ‘n groot kompleks opgebou het in Nigerië.
Mense uit Europa, Amerika, Suid-Afrika.
Na sy dood, enkele jare gelede, het egter uitgekom dat sy wonders glad nie wonders was nie, maar bedrog.
Pleks van mense beter te maak, het hy dikwels mense seksueel misbruik.
In Christus se tyd was daar inderdaad mense met volmag om siekes op bevel te genees.
Dit was aan die begin van die nuwe bedeling.
Maar latere generasies het nie daardie volmag meer van Christus gekry nie.
Soos ons kan aflei, reeds in die tyd van die Nuwe Testament, die eerste eeu het dinge al verander.
Paulus het daardie volmag gehad, Timotheüs en Titus nie meer nie.
Laat ons dus nie met ‘n oppervlakkige toepassing van die Nuwe Testament, ‘claim’ dat Christene vandag – altans sommige Christene – daardie volmag steeds het nie.
Wie dit ‘claim’, moet dit waarmaak.
En dit lei keer op keer tot oneerlike toestande.
Ek beweer nie dat God vandag geen wonders meer doen nie.
Ons mag ook vrymoedig daarvoor bid.
Maar ons kan dit nie ‘claim’ nie.
Die glorieryke toekoms wag ons nog af.
Soos die dissipels, moet ons leer om ons kruis te dra, op pad, ja op die smal pad, rigting die glorieryke toekoms.
Dis ‘n pad wat dikwels met trane gepaard gaan.
Terselfdertyd, te midde van gesondheid en siekte, rykdom en armoede, voor- en teenspoed, tog stap ons hierdie pad met ‘n vreugde in ons lewe wat die verstand te bowe gaan.
In Christus het ons die vaste hoop op die herstel van alle dinge.
Hy is die anker van ons hoop.
Dikwels moet ons worstel om vrede te maak met sy wil in ons lewe.
Vir die dissipels was dit ‘n steil leerkurwe om te besef en te aanvaar dat daar ‘n lydensweg voorgelê het, en nie ‘n glorieryke weg nie.
Pleks van ministers aan sy regter- en linkerhand in Jerusalem te wees, sal hulle almal verstrooi word en op die vlug slaan.
Tog is God se raadsplan steeds op koers.
Vandag ook nog, gemeente.
Al duur dit lank, al gaan die pad deur doodsvalleie.
Die HERE vertraag nie sy beloftes nie, maar Hy is geduldig, Hy wil nie hê dat sommiges moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom (2 Pet 3:9).
In die komende weke gaan ons weer meer spesifiek stilstaan by die lydenstyd.
Oor ‘n paar weke hoop ons weer Christus se kruisiging en opstanding te herdenk.
Dit is ‘n tyd wat gepaard gaan met verootmoediging.
Stil wees voor God, met groot sondebesef.
Terselfdertyd diep dankbaar vir sy raadsplan soos dit in Christus se lydensweg ontvou het.
“Jesus, dit wat U moes ly,
bly in my gedagte –
so maak U van sonde vry,
vry van bose magte.
Deur u bloed is ons verlos;
word ons skuld vergewe.
Angs en dood het dit gekos,
Jesus, Bron van lewe.”
(Ges 115:1)
Amen.
Votum
Seën
Ps 138:3,4
Wet
Ps 131:1-3
Gebed
Skriflesing: Lukas 9:28-50
Ps 71:4-6
Teks: Lukas 9:43-45
Preek
Sb 7:8-10
Gebed
Kollekte
Sb 33:1-3
Seën