Christus is ons Voorspraak

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2026-02-15
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 26
Preek Inhoud: 

 

In vanaand se leerprediking fokus ons op ‘n artikel uit die NGB wat mooi by die boodskap van die nagmaal aansluit.

Die feit dat Christus ons Voorspraak is.

Hy kan vir ons Borg staan, omdat Hy ons skuld volledig betaal het, selfs sonder om enige terugbetaling te verlang.

Op grond van daardie terugbetaling van al ons skuld is sy Voorspraak by die Vader nie net ‘n goeie woordjie nie, maar oneindig veel meer as dit!

 

Tema: Christus is ons Voorspraak

  • Vergeet van alle ander voorsprake
  • Rig jou aandag op die enigste werklike Voorspraak
  • Vra die Vader alles in sy Naam

 

  • Vergeet van alle ander voorsprake

Dit is waaroor NGB art. 26 handel, as samevatting van die geweldige Evangelie in die Bybel wat Christus as ons Voorspraak openbaar.

Die NGB benadruk dat daar geen ander toegang tot God is nie as slegs deur Jesus Christus.

Sonder sy regverdigheid sou die toegang tot die hemslse Vader vir ons gesluit gewees het.

Wat baie mooi is, wat die NGB ook noem, is dat dit nie so is dat God die Vader wreed of ongenaakbaar is en niks met ons te make wil hê, terwyl slegs Jesus ons Vriend is nie.

Nee, die Vader self het sy Seun as Middelaar aangestel en Hy het Hom na die aarde gestuur.

Dit is God se raadsplan wat vir ons onbegryplik is, hoe tussen die persone van die Drieëenheid hierdie plan ontstaan het.

Dis juis die liefde van die Vader wat die oorsprong is van die reddingsplan.

 

Die NGB gaan verder deur te verduidelik dat ons nie bang vir Christus hoef te wees nie.

Juis om tussen mense te kom woon, het Hy sy hemelse heerlikheid afgelê en soos ons geword.

En as ons nog enigsins sou twyfel aan sy goedgesindheid, het sy liefde onteenseglik geblyk toe Hy vir ons gesterf het.

Die NGB ryg die een na die ander Bybelteks aanmekaar.

Dit het Hy gedoen, vir ons gesterf, op ‘n moment toe ons nog sy vyande was – Rom 5:8,10.

Daar hoef vir ons dus geen enkele behoefte wees om ‘n ander Middelaar te soek nie.

Die NGB noem dit in die konteks van die Roomse gewoonte om ook mense, sogenaamde heiliges uit die verlede te vereer.

Om hulle te beskou as tussenpersone tussen hulle en God.

Dink aan die gewoonte om Maria, Jesus se moeder, aan te roep.

Die NGB sê: In feite vereer hulle dan nie hierdie gelowiges uit die verlede nie, maar onteer hulle!

Bowendien toon dit ‘n gebrek aan vertroue in Christus.

 

Nou speel heiliges nie meer ‘n rol in ons Gereformeerde lewe nie.

Maar dit neem nie weg dat ons, vanuit ons sondige en onstabiele gemoed, nog steeds die neiging het om nie genoeg op Christus te vertrou nie.

Is Christus groot in jou lewe, so groot dat jy alles in hede en toekoms van Hom verwag?

Bring jy die dinge wat jou elke dag besighou na Christus toe in jou gebed?

Hou jou sondeskuld voor God jou ook elke dag besig?

Dit is die belangrikste waarop Christus die antwoord is.

Want alle ander ellende en teenslae in jou lewe kan uiteindelik daarheen terug herlei word, al kan ons nie altyd die oorsaaklike verband lê nie.

 

Dus, al gebruik ons nie meer die heiliges as voorspraak tussen ons en God nie, moet ons nie te gou ons koppe skud asof Roomse mense so stupid is nie.

Dikwels kom sulke gedrag naamlik ook by ons voor.

Jy gebruik miskien nie die heilige Maria, of Fransicus, of moeder Theresa nie.

Maar in jou lewe speel jou ouers dalk so ‘n rol.

Jy gaan kerk toe net omdat jou ouers dit wil hê.

Jy ontwikkel nie ‘n hegte band met Christus in jou lewe nie, maar in feite laat jy jou godsdienstige lewe aan jou ouers oor.

Hulle moet maar ‘n voorspraak wees tussen jou en God.

As ‘n baba nog klein is, is dit verstaanbaar.

Vir hulle saligheid het die ouers ‘n geweldige verantwoordelikheid gekry.

Maar hoe ouer ‘n kind word, hoe meer moet jy groei in ‘n persoonlike band met jou Verlosser en Saligmaker.

As jy geloofsbelydenis doen, terwyl jy nog nie ‘n hegte band met Christus het nie, is Hy dan werklik jou enigste Voorspraak?

 

Ook kan jy jou dominee of ouderling misbruik as voorspraak tussen jou en God.

As jy deur die week nie ‘n aktiewe gebedslewe het nie.

As jy dit net aan die dominee oorlaat, om op Sondag namens jou te bid en vir jou vergewing van jou sondes van die afgelope week te vra.

 

En dan is daar nog ‘n voorspraak wat die NGB die nek omdraai.

Glo dit of nie, maar elke mens het ‘n oerneiging om homself tot voorspraak te verhef tussen hom en God.

Ons lees: Daar is geen sprake van dat ons voor God kan verskyn op grond van die waardigheid van ons gebede nie.

Is jou godsdienstige lewe goed genoeg?

Bid jy goed genoeg?

Is jou aandag wel by jou gebed as jy bid?

Bid jy wel vanuit jou hart?

Bid jy wel gevoelvol genoeg?

Dis vrae wat soms in ons rondspook.

Maar, geliefde broers en susters, aan die einde van die dag is jy dan besig om jouself as voorspraak voor God te verhef.

Moenie dit doen nie!

Ek sê nie hierdie dinge is nie belangrik nie, maar dit op sig gaan jou nie vir God aanvaarbaar maak nie.

Al wat die Evangelie van ons vra is om al ons aandag op Jesus Christus te vestig.

Moenie met jou siel in jouself vroetel nie.

Rig jou aandag op Hom.

As jy dit doen, dan sal jou gebed deur Hom voor God waardig gemaak word.

As jy op Hom fokus, dan sal die dankbaarheid in jou lewe die oorhand kry.

Dan sal die twyfel verdwyn, dan sal daar vreugde en sekerheid kom.

 

Dit bring ons by die tweede punt.

 

 

  • Rig jou aandag op die enigste werklike Voorspraak

Die Skrif rig ons aandag op die enigste werklike Voorspraak.

Neem ‘n vers soos Hebreërs 4:15-16:

“ons het nie ‘n hoëpriester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde.

Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry”.

En dink aan Johannes 14:6: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.”

 

Hierdie teks kom uit ‘n pragtige hoofstuk, wat deel is van Jesus se laaste onderwys aan sy dissipels.

Daardie onderwys was een groot poging om die dissipels se onsekerheid te oorwin.

Kom ek noem ‘n paar punte uit sy onderwys, wat elkeen direk verband hou met Jesus se posisie as Voorspraak:

  • In die huis van my Vader is daar baie wonings. As dit nie so wat nie, sou Ek vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.

Dus: Moenie vir die toekoms bang wees nie. Selfs nie vir die toekoms na die dood nie!

  • Dan sê Jesus: Ek kom weer. Ek sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.

Dus: Daar is ‘n toekoms vir almal wat aan Hom behoort. Hierdie aarde se toekoms is nie duister en onseker nie, want Hy kom weer!

  • Dan volg Jesus se uitspraak wat die NGB ook aangehaal het. Dit was in antwoord op Thomas se twyfel: Ek is die weg en die waarheid en die lewe.

Konkreet: Tydens Jesus se lewe op aarde het Hy uitvoerig God aan hulle geopenbaar as hulle Vader. In die Ou Testament lees ons mondjiesmaat oor God as Vader. Maar Jesus se onderwys loop daarvan oor! Filippus het gesê: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg. Jesus het daarop geantwoord: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. Dus kan die dissipels, en ook ons, met reg sê: Ons ken nou die hemelse Vader!

  • Vervolgens verseker Jesus hulle: Wat julle ook al in my Naam vra, dit sal Ek doen. Jesus sê dit tweemaal, sodat hulle Hom nie kan misverstaan nie.
  • En dan spandeer Jesus die tweede deel van hierdie hoofstuk om sy dissipels voor te berei op die koms van die Trooster, die Heilige Gees: Ek sal die Vader bid, en Hy sal julle ‘n ander Trooster gee om by julle te bly tot in ewigheid. Ook dit het met Jesus se posisie as Voorspraak te make. Wanneer die Gees kom, sal Hy die gelowiges se aandag steeds bly rig op die verhoogde Heiland. Hy sal in die gelowiges bly werk, sodat hulle steeds hulle harte verhef tot sy hemelse troon. Dat hulle geloofsoë steeds gefokus sal bly op Hom wat oor die heelal regeer, in wie se Naam hulle direk toegang het tot die hemelse Vader.

 

Waarom sal ons ‘n ander voorspraak soek?

Ja, ons sondige siel het die behoefte om dit te doen.

Laat ons as kerkmense ons nie verhef bo enigiemand anders nie.

Ook ons soek vastigheid vir die toekoms.

Mense soek dit by heiliges, of by familielede, of by die wetenskap – dat dit dalk in die toekoms ver genoeg gevorderd sal wees om al die probleme op aarde op te los ...

Selfs verhef ons onsself tot voorspraak, ons vrome lewenswyse en gebed ...

Breek af hierdie neiging, en rig jou aandag slegs en alleen op Christus.

Hou jou daagliks besig met sy Woord, want dan bly jou aandag op Christus.

Soos Johannes 16:23: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.”

 

 

  • Vra die Vader alles in sy Naam

Ek wil nog vir ‘n oomblik stilstaan by die teks waarmee NGB art. 26 afsluit: Johannes 16:23:

“Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee.”

Dit klink amper te goed om waar te wees.

Dit klink soos ‘n pa wat ‘n biljoenêr is.

As sy kind vir hom ‘n mooi rok vra, sal hy dit gee.

As sy kind vir hom ‘n Ferrari vra, sal hy dit gee.

As sy kind vir hom ‘n huis vra, sal hy dit gee.

Werk dit by die hemelse Vader ook so?

Dat alles wat ons van Hom vra, enkel met die verstandhouding dat ons dit in Jesus se Naam vra, dat Hy dit sal gee?

As dit so was, dan kom ons uit by ‘n voorspoedsteologie.

Dan gaan ons as mense nie net vergewing van sondes vra nie, maar dan gaan ons alles vra wat ons hart hier op aarde begeer.

Nou om weg te bly van hierdie dwaling, waarmee die voorspoedsteologie kom, moet ons aandag skenk aan wat die Naam van Christus beteken, wat dit inhou.

Want ons moet alles in die Naam van Jesus vra.

Christus se Naam staan nie vir ‘n soort ‘kersfeesvader’ nie.

Christus se Naam staan nie vir ‘n biljoenêr wat links en regs uitdeel nie.

Jesus Christus se Naam beteken Redder en Gesalfde.

Die Evangelie is duidelik dat Hy ons red van ons diepste ellende, ons sonde, ons erfsonde.

Die Evangelie is ook duidelik dat in hierdie lewe Christus se Naam nie inhou dat gelowiges geen armoede sal ken nie, geen siekte, geen teenspoed nie.

Christus se Naam hou wel die belofte in van die herstel van alle dinge, die herskepping van hierdie totale onder die sonde en opstand sugtende moederaarde.

Die Evangelie is duidelik dat hierdie geskenke veel en veel meer werd is as enigiets anders wat ons hartjie hier op aarde begeer.

Dit is geskenke wat blywend is: Vergewing van sondes, die Trooster – dit is die heilige Gees, asook die gemeenskap van die heiliges, asook die belofte dat ons by ons sterwe onmiddelik by Hom sal wees, die belofte van die opstanding van die liggaam uit die graf.

Dit is geskenke wat blywend is.

Dit alles is ongekende ongeëwenaarde skatte van rykdom.

En dit alles mag ons van die Vader vra in sy Naam.

En dan kom daarby, al is hierdie lewe nie ‘n rustige vaart nie, dat Hy ons tog in hierdie lewe, in gesondheid en in siekte, in rykdom en armoede, in vrugbare en onvrugbare jare, in reën en droogte, dat Hy tog aan ons ‘n vreugde sal gee wat alle verstand te bowe gaan.

Ook dit mag ons van die hemelse Vader in sy Naam vra, en ons sal dit ontvang!

 

Nou is daar in hierdie teks nog een onduidelikheid.

Hierdie teks klink naamlik teenstrydig as mens dit van die begin af lees.

Voordat Jesus sê dat hulle in sy Naam alles van die Vader mag vra, sê Hy: in daardie dag sal julle My niks vra nie.

Hoe werk dit?

Dit klink baie teenstrydig.

 

Gemeente, wat ons hier op ‘n verkeerde spoor plaas, is dat beide sinne hier in dieselfde teks staan, vers 23.

Maar soos u weet, die versnommering in die Bybel is nie oorspronklik nie.

Dit is eers in die Middeleeue bygevoeg.

In feite het ons in vers 23 die einde van een paragraaf en die begin van ‘n nuwe paragraaf.

Die dubbele “Voorwaar, voorwaar” – in Grieks Amen, amen, dui aan dat Jesus met ‘n nuwe deel in sy onderwys begin.

As Jesus sê: “En in daardie dag sal julle My niks vra nie”, is dit ‘n afsluiting van die vorige paragraaf.

Daarin het Hy met sy dissipels gepraat oor sy wederkoms.

As Hy terugkom, as alles herstel en herskape sal word, dan sal alles volmaak wees.

Dan sal die gelowiges geen enkele behoefte meer hê om nog enigiets te vra nie.

Dan sal hulle niks meer nodig hê nie.

Dan het die volmaaktheid in alle opsigte aangebreek.

 

Dan vervolgens, in die volgende paragraaf – dis nou die tweede helfte van vers 23 – gaan Jesus weer terug na die hede.

En met baie klem sê Hy: Amen, amen – vir die hede geld, dat alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, dit sal Hy julle gee.

Hierdie sluit aan by Jesus se tema in dieselfde hoofstuk, dat Hy sy dissipels nie alleen sal laat nie.

Wat hulle deur sy bemiddeling aan die Vader vra, sal hulle kry.

In die verlede het die dissipels alles van Hom gevra.

Nou rig Jesus hulle aandag op die Vader.

Hulle kan alles van Hom vra.

En Jesus waarborg gebedsverhoring deur die sleutel van sy Naam.

Sy Naam gee toegang tot die hart van die Vader.

Hoe sou God ‘n versoek afwys, wat sy eie geliefde volmaakte Seun aan Hom voorlê?

Hy sal dit skenk asof Hy dit aan sy eie Seun skenk!

 

Ek sluit af.

Die NGB vra ons aandag vir wat die Skrif ons leer oor Christus as ons Voorspraak.

Dit is nodig, want van nature krap ons om elke hoek en draai ‘n ander voorspraak uit.

Gestorwe heiliges, jou pa of ma, jou dominee of ouderling, selfs jouself.

Vergeet van alle ander voorsprake!

Rig jou aandag slegs en alleen op die enigste werklike Voorspraak.

Die nagmaal prent dit by jou ekstra in: Sy liggaam en bloed is genoeg!

En weet, jy mag die Vader alles vra in sy Naam!

Sy Naam waarborg dat jy alles sal ontvang op jou reis deur die lewe, op pad na die ewige volmaaktheid.

Dit waarborg ons Voorspraak ons, Hy wat op die hemelse troon sit, Hy wat sal terugkom in majesteit.

Dan sal die ewige geluk aanbreek.

In daardie dag sal ons niks meer tekort kom nie.

Dan sal ons geen rede of behoefte meer hê om enigstes te vra nie.

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Sb 18:1-4

Gebed

Nagmaalsformulier

Gebed

Sb 28:1-4

1e Tafel: Skriflesing: Johannes 16; Ps 33:11

Lofverheffing & Dankgebed

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 26

Preek

Ps 66:8,9

Gebed

Apostoliese Geloofsbelydenis (sing)

Kollekte

Ps 134:1-3

Seën