Buig voor die Seun en Gees, want Hulle is God

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2026-01-11
Teks: 
Nederlandse Geloofsbelydenis Artikels 10 & 11
Preek Inhoud: 

Net soos deur die eeue, is daar vandag ook mense wat die godheid ontken, òf van Jesus Christus, òf van die Heilige Gees, òf van beide.

Bekende voorbeelde is Mohammed en die Islam, wat dit as ‘n belediging teenoor Allah ag dat Jesus en die Heilige Gees ook God sou wees.

Daar is die Jehovah Getuies, wat ook die godheid van Jesus en die Heilige Gees ontken.

In die verlede was daar Paulus van Samosata – hy word in artikel 9 genoem as Samosatenus – wat ontken het dat die Heilige Gees ‘n aparte persoon is.

Sulke mense is daar vandag ook nog.

Die Drieëenheid sou ‘n Roomse oorblyfsel wees, net soos die geloofsbelydenisse – die Apostoliese, Nicea en Athanasius.

Die kerk het dit uitgevind en die kerkleiers druk dit deur die kele van onwetende en goedgelowige mense.

 

Nou in artikel 10 en 11 neem ons as Gereformeerdes standpunt in oor hierdie saak.

Wat moet ons glo oor die godheid van die Seun en die Heilige Gees?

Die skrywer van die NGB gee hier nie sy eie mening weer nie, maar trek die verskillende gegewens hieroor uit die Bybel bymekaar.

Die woorde en sinsnedes in hierdie twee artikels is deurspek van Bybelgedeeltes.

En net so gaan ons in vanaand se preek doen.

Die NGB lei ons na die Bybel, sodat ons in God se Woord op hierdie vrae ‘n antwoord vind.

Is die Seun, Jesus Christus, God?

Is die Heilige Gees God?

Ons gaan steeds na beide kyk, en vergelyk wat oor beide in die Skrif staan.

 

Maar vooraf die vraag, broer, suster, is jy bereid om te luister?

Is jy bereid om jou deur die Woord te laat onderrig?

Is hierdie onderwerp dalk ver van jou bed af?

Ek kom van tyd tot tyd agter dat mense nie werklik omgee oor die Bybelse leer, tot die dag waarop hulle in aanraking kom met iemand wat anders dink.

Op universiteit, of dalk iemand wat saam met jou werk, of dalk ‘n familielid, of dalk iemand waarop ‘n jongmens verlief raak.

En dan skielik word dit werklikheid, en dan vra so ‘n gemeentelid homself af:

Is dit wel nodig om dit te glo?

Is dit nie OK om ‘n ander siening te hê nie?

Hoekom doen ons moeilik hieroor?

Hoekom ‘n belydenisgeskrif hieroor?

So daarom die vraag, of dit nou naby jou bed is of nie, gemeente, is jy  bereid om te luister, jouself weerbaar te maak?

Guido de Brès was bereid om vir hierdie belydenis wat hy geskryf het te sterf.

Hoe staan dit met jou?

 

Tema: Buig voor die Seun en Gees, want Hulle is God

  • Goddelike name
  • Goddelike eienskappe

 

  • Goddelike name

Ons mense is deesdae nie meer gewoond om te buig nie.

Ons het eerder die houding dat ons ons deur niks en niemand sal laat voorskryf nie.

Vroeër het mense dikwels gekniel.

Dis ‘n gewoonte wat in onbruik geraak het.

Tog is dit so noodsaaklik, dat ons verstand kniel voor God se heilige Woord, en dit wat daarin staan oor die Seun en die Gees.

 

In die eerste plek is dit ‘n feit dat die Skrif vir Jesus gewoonweg God noem.

Niks meer, niks minder nie.

Die evangelis Johannes begin sy Evangelie met: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.” (Joh 1:1)

Verder, in die twintigste hoofstuk noteer Johannes wat Thomas se belydenis was, toe hy oog in oog met die opgestane Here Jesus Christus te staan gekom het:
“En Thomas antwoord en sê vir Hom: My Here en my God!”

Jesus het Thomas nie hieroor bestraf nie, Jesus het hierdie belydenis aanvaar, en gesê:

“Omdat jy My gesien het, Thomas, het jy geglo; salig is die wat nie gesien het nie en tog geglo het.” (Joh 20:28-29)

Ook in die Romeinebrief word Jesus reguit God genoem: “Christus ... Hy wat oor alles is, God, lofwaardig tot in ewigheid!” (Rom 9:5)

 

Toe die engel die geboorte van Jesus aankondig, het hy gesê:

“Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word” (Luk 1:32).

Aan die herders het die engel gesê: “dat vir julle vandag in die stad van Dawid gebore is die Saligmaker wat Christus, die Here, is.”

Die Engel gee hier verskillende name vir Jesus:

  • Christus,
  • Here,
  • Seun van die Allerhoogste,
  • Saligmaker.

Dit is name wat te pretensieus vir ‘n mens is.

Neem byvoorbeeld die naam: Seun van die Allerhoogste.

Hierdie einste benaming was die rede hoekom die Joodse Raad vir Jesus ter dood veroordeel het.

Die Joodse Raad het gesukkel om ‘n beskuldiging teen Hom te vind wat die doodstraf verdien.

Mattheüs skryf: “En die owerpriesters en die ouderlinge en die hele Raad het valse getuienis teen Jesus gesoek om Hom dood te maak, en niks gevind nie. En alhoewel daar baie valse getuies gekom het, het hulle niks gevind nie.”

Jesus het toe self ‘n aanklag hulle in die skoot gewerp.

Die hoëpriester het Hom gevra: “Ek besweer U by die lewende God dat U vir ons sê of U die Christus, die Seun van God, is?”

Jesus het toe positief daarop geantwoord.

Ja, Hy is die Seun van God!

En Hy het toegevoeg dat hulle Hom sal sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.

Die hoëpriester was toe geweldig geskok oor hierdie woorde.

Hy het sy klere geskeur en geroep: “Hy het godslastering gespreek”.

Inderdaad, dit is godslastering as iemand homself aan God gelykstel, en beweer dat Hy langs God sal sit.

Maar dit is presies wat Jesus gedoen het.

As Jesus net ‘n mens was, sou dit absolute grootheidswaansin en godslastering gewees het.

Maar Jesus het Homself nie geskaam vir wie Hy is nie.

Hy is gevonnis vir wie Hy was – naamlik gelyk aan God, ja God self.

 

En so is daar nog meer name in die Bybel wat totaal onvanpas is om aan ‘n mens te gee.

Neem byvoorbeeld wat daar in Openbaring 1:5 staan:

Hy is die “Owerste oor die konings van die aarde!”

Iemand het ‘n keer geskryf: Òf Jesus was ‘n mens met ‘n geweldige afwyking van grootheidswaansin; òf Jesus is inderdaad alles wat daar oor Hom in die Bybel staan.

As kerk van Christus bely ons natuurlik die laaste.

Hy IS God, Here, Messias, Seun van die Allerhoogste, Saligmaker, Owerste oor alle konings van die aarde!

Ja dit is wat Hy is.

Hy noem Homself selfs die Almagtige – Openbaring 1:8:

“Ek is die Alfa en die Omega, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.”

Is dit Goddelik of nie, gemeente?

 

Christus is Wonderbaar, Raadsman, Eersgeborene uit die dode, Allerhoogste, Owerste oor die konings van die aarde, Saligmaker, Here, Sterke God.

Elkeen van hierdie name staan in die Bybel, en nie toevallig nie.

Aan Hom kom toe, ja Hy verdien die eer en prys en roem in verlede hede en toekoms.

Hy is God self, die Alfa en Omega, Ewige Vader en Vredevors.

Hy is die blink môrester (Open 22:16).

Ons sien uit na sy wederkoms.

Ja kom, Jesus, almagtige God, Maranata!

 

Tot sover ‘n paar tekste uit die Bybel waardeur ons vinnig gegaan het.

Enigiemand wat Jesus se Godheid ontken, het ‘n groot probleem met die Bybel, want dit spreek duidelike taal.

 

En dan vervolgens, saam met art. 11 van die NGB bely die kerk ook dat die Heilige Gees God is.

En soos u in u Psalmboekie kan sien, is daar heelwat Bybeltekste onderaan hierdie artikel.

Alles wat in hierdie artikel staan, is ontleen aan die Bybel self.

Die Skrif openbaar naamlik op verskillende wyses die Godheid van die Heilige Gees.

 

Die Bybel gee ook Goddelike name aan die Heilige Gees.

Sien byvoorbeeld Handelinge 5, waar die Heilige Gees God genoem word.

Petrus spreek daar vir Ananias aan, wat saam met sy vrou Saffira ‘n leuen vertel het:

“Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? As dit nie verkoop was nie, het dit nie joue gebly nie? En toe dit verkoop is, was dit nie in jou mag nie? Waarom is dit dat jy hierdie saak in jou hart voorgeneem het? Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” (Hand 5:3-4)

Ananias het dus vir God gelieg, vir God die Heilige Gees.

 

Nou is daar mense wat ‘n stappie verder gaan.

Hulle trek die teks van die Bybel as sulks in twyfel.

As daar byvoorbeeld in Johannes 1:1 staan dat Christus God is – “die Woord was God”, dan beweer hulle dat dit nie die oorspronklike Griekse teks is nie.

Die Jehovah Getuies het selfs gegaan en die Griekse teks verander.

Maar in die ou Griekse manuskripte staan duidelik soos in die Bybel vertaal is.

En net so geld dit ook vir Handelinge 5, waar die Heilige Gees God genoem word.

Dit staan gewoon daar, in al die ou Griekse manuskripte.

Jy kan dit nie miskyk nie.

Aan jou en my en elke mens net die vraag: Aanvaar jy dit nou ook?

 

Geliefde gemeente, ek weet, ek hoef u nie meer te oortuig van Christus en die Heilige Gees se Godheid nie.

As u nie daarin geglo het nie, sou u nie belydenis in hierdie kerk kon gedoen het nie, òf sou u nou besig wees om daardie geloof te verloën.

Maar, feit bly dat die Satan aanhoudend besig is om te knibbel aan dit wat ons glo.

En as hy sommiges in sy greep gekry het, kan daardie mense ons ook dalk aan die twyfel bring.

Daarom is dit goed om vandag in hierdie erediens weer spesifiek stil te staan by wat die Skrif werklik sê.

 

Nou is daar mense wat sê dat die Heilige Gees maar baie min in die Bybel God genoem word, baie minder as Jesus byvoorbeeld.

Asof dit ‘n verskil sou maak ...

Maar, en daarna gaan ons in die tweede punt kyk, die Skrif openbaar nie net aan ons Goddelike name nie, maar ook Goddelike eienskappe, en dit sowel van die Seun en van die Gees.

Behalwe vir name, is daar dus nog meer Skrifgetuienis.

 

 

  • Goddelike eienskappe

Een so ‘n eienskap is dat Jesus almagtig is.

“Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde”, sê Hy self (Matt 18:18).

In Openbaring 1:5 lees ons dat Christus die Owerste oor die konings van die aarde is.

Hierdie is ‘n eienskap wat nie pas by ‘n mens nie.

Die woord almagtig beteken dat iemand mag oor alles het.

Dit is wat die Skrif sonder omhaal van woorde aan Jesus toeskryf: alle mag in hemel en op aarde!

 

Ook is Christus ewig – nog ‘n Goddelike eienskap.

As daar iets eie aan ‘n mens is, is dit dat hy tydelik is.

En vir elke mens geld dat sy aardse bestaan tydelik is.

Die allersterkstes word ouer as 100 jaar, maar nie veel meer nie.

Daarenteen is daar verskeie Bybelgedeeltes wat Christus se ewigheid nie onder stoele of banke steek nie.

Christus getuig self daarvan: Voorwaar, voorwaar, ek sê vir julle, voordat Abraham was, is Ek (Joh 8:58).

Met hierdie uitspraak maak Jesus duidelik dat Hy al bestaan het, selfs nog voordat Abraham gebore was.

Dink ook hoe die Bybelboek Openbaring begin en eindig, waar Christus sê: Ek is die Alfa en die Omega (Open 1 & 22).

En ten oorvloede, nog ‘n vers: In Kolossense 1:17 skryf Paulus: Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand.

Dit wil sê, voor alle dinge ontstaan het, was Hy al daar.

 

Maar, net soos Christus, het die Heilige Gees ook Goddelike eienskappe.

Ons lees in die Bybel oor eienskappe wat spesifiek verband hou met die werk waarmee die Gees besig is.

So is Hy byvoorbeeld alomteenwoordig.

Die Gees se werk is naamlik om die binneste van ‘n mens te deursoek.

Hy kan tot in elke skuilhoek van ‘n mens se hart kyk.

Niks is verborge vir Hom nie.

Soos ons in Psalm 139 sing:

“Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou.” (Ps 139:7-10).

 

Die Heilige Gees is orals en sien orals.

En saam met sy alomteenwoordigheid kom ook sy alwetendheid.

Paulus skryf: “die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.” (1 Kor 2:10)

As dit waar is, as Hy al die dieptes van God ken, hoeveel te meer deursoek Hy nie ‘n mens, wat maar ‘n skepsel is wat Hy geskape het nie?

 

God se Gees deurskou my geheel en al.

Hy leer my ook wat sonde is (Joh 16:8).

Hy vorm my gewete.

Dikwels is dit naamlik so, dat ons God of ons naaste seermaak met dit wat ons doen, dink of sê, maar dan besef ons dit nie eers nie.

Maar die Heilige Gees stap met ons ‘n pad.

Hy leer ons wat God se wil is.

Hy leer ons dinge raaksien wat ons voorheen nie besef het nie.

Hy leer ons, nie net om nie te sondig nie, maar ook om die regte ding te doen: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing (Gal 5:22-23).

Nie vir niks word hierdie die vrugte van die Heilige Gees genoem nie.

So werk die Heilige Gees in die gelowiges.

Hy kan dit alles tegelykertyd doen, want Hy is alomteenwoordig en alwetend.

 

En gemeente, die Skrif leer ons ook hoe ons tot God Drieënig moet bid.

Die voorbeelde in die Skrif wys dat ‘n gelowige bid tot die Vader, en dit in die Naam van – oftewel deur die bemiddeling van Jesus Christus, en dit aangevuur deur die Gees wat in ons werk.

Oftewel, die Gees bid saam met ons, Hy leer ons bid.

Die feit dat ons gebed direk gerig is tot die Vader – dink aan die Onse Vader wat Christus ons geleer het – dit maak van Jesus en die Gees nie minder God nie.

Dis nie verkeerd om van tyd tot tyd eksplisiet tot die Seun en die Gees te bid – Hulle in jou gebed aan te spreek nie.

Maar vir ons gebede van elke dag is dit ‘n gesonde patroon wat die Skrif aan ons voorhou – bid tot die Vader, in die Naam van die Seun, deur die werking van die Gees.

Ons het toegang tot die Vader deur die bemiddeling van Jesus, en deur die krag en intrede van die Gees (Ef 3:14; 1 Tim 2:5; Rom 8:15,26).

 

‘n Mooi voorbeeld wat die werking van die Gees verduidelik, is in Romeine 8:

Die Gees kom ons swakhede te hulp, “want ons weet nie reg wat ons moet bid nie, maar die Gees self tree vir ons in met onuitspreeklike sugtinge.”

Die Gees wat in ons werk leer ons dus hoe en wat om te bid.

En dan lees ons verder: “En Hy wat die harte deursoek, weet wat die bedoeling van die Gees is, omdat Hy ooreenkomstig die wil van God vir die heiliges intree.” (Rom 8:26-27)

Die Een wat die harte deursoek, is hier Christus.

En Hy weet wat die bedoeling van die Gees is.

Die Gees werk in ons dat ons ooreenkomstig die wil van God bid en leef.

Dit doen Hy, dit werk Hy, natuurlik eerstens deur die Woord.

 

Gemeente, die Bybelgedeeltes wat in hierdie preek aan die orde gekom het, dra vir ons ‘n boodskap oor.

Naamlik dat Jesus Christus en die Heilige Gees God is.

Die Bybel gee vir hulle Goddelike name.

En die Bybel beskryf Goddelike eienskappe wat hulle het.

En as iemand nog nie tevrede is nie, sou ek sê:

Kom volgende week weer kerk toe, want dan gaan ons verder kyk na wat die Skrif openbaar oor Christus en die Gees se Godheid.

Daar is naamlik nog meer Skrifgetuienis.

Maar aan die einde van die dag is wat die verskil gaan maak tussen geloof en ongeloof: Aanvaar jy nou die boodskap wat in die Bybel tot jou kom, of verwerp jy dit, of soek jy na ‘n alternatiewe Bybel waarin die dinge wat jy graag wil hoor, staan?

 

Want die woord spreek duidelike taal:

En dit vir albei die Seun en die Gees.

Wie dit nie in die Bybel raaksien nie, is blind of wil dit nie raaksien nie – siende blind noem Jesus dit.

 

Tog is dit so dat die Gees minder aandag kry in die Skrif.

Hoekom?

Iemand het dit ‘n keer vergelyk met ‘n skynwerper en ‘n gebou.

Die skynwerper verlig die gebou in die nag.

Niemand kyk na die skynwerper nie, maar danksy die skynwerper kyk almal na die gebou.

So is die verhouding tussen die Gees en Christus.

Die Gees is die skynwerper, Christus die gebou.

Die Gees se werk is om alle aandag op Christus te vestig.

Die Gees werk in ons sodat ons hoe langer hoe meer Christus volg, ons oë op Hom gerig hou.

Dis hoekom Christus in die Bybel telkens in die middelpunt staan.

En die Heilige Gees sorg daarvoor!

 

Verbind jouself weer tot ‘n opregte en kinderlike geloof in dit wat die Skrif openbaar.

Die belydenis, soos die NGB, help ons daarby, maar uiteindelik gaan dit oor die Skrif.

Dit is die toetsteen en fondament van die waarheid.

Dit is waarmee die Heilige Gees die geloof werk.

 

Broer, suster, loof saam met my die Seun en die Gees.

Want hulle is saam met die Vader, Drieënig God.

Ons verstand verstaan dit nie.

Maar nederig buig, kniel ons voor die Skrif se getuienis.

 

Amen.

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 33:3

Gebed

Skriflesing: Johannes 1:1-4, 8:57-58, 20:26-31

Ps 139:3-5

Skriflesing: Hand 5:1-4; Rom 8:25-30, 9:1-5

Ps 104:17-18

Teks: Nav Nederlandse Geloofsbelydenis Artikels 10 & 11

Preek

Sb 43:4-6

Gebed

Geloofsbelydenis van Nicea

Ps 143:8

Kollekte

Sb 24:2,5,7

Seën