Jesus Christus sorg dat die blye boodskap van die koninkryk uitgaan

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2026-01-04
Teks: 
Lukas 9:1-6
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 9:1-6

 

Ons is bymekaar op die eerste Sondag van die nuwe jaar.

Afgelope Woensdag het ons op Oujaarsaand gebid vir die HERE se seën oor die nuwe jaar.

Ons het ook teruggekyk na die eerste 25 jaar van die nuwe eeu, selfs van die nuwe millenium.

Hoewel dit nie maklike jare was in ons land nie, het die HERE tog so goed vir ons gesorg.

As ons nou vooruitkyk met dit in gedagte, kan ons vertrou dat ons verseker kan wees van sy seën as ons verder die 21ste eeu inbeweeg.

En op hierdie eerste Sondag vra ons onsself af:

Noudat ons weet dat die HERE ons sal seën, wat gaan ons met sy seën doen?

Sy seën was en is en sal veelomvattend wees.

Nie net materieel nie, ook skenk Hy ons so baie gesondheid, Hy skenk ons baie tyd – danksy die mediese sorg leef ons gemiddeld langer as die vorige geslagte.

Dink ook aan sy seën in die vorm van vryheid van godsdiens.

Niks keer ons om elke Sondag kerk toe te kom nie.

Hy seën ons met soveel moontlikhede om te groei in ons geloof.

Behalwe op Sondag is daar Bybelstudies, kerkkampe, daar is selfs Gereformeerde skole in ons omgewing.

Kortom, ons lewe onder ons voorsienige God se veelsydige seën.

En weer eens die vraag, wat gaan ons daarmee doen?

Waarvoor gaan jy jou tyd en geld en gesondheid gebruik in die nuwe jaar?

Hoe gaan ons die HERE met oorgawe dien in 2026?

 

Tema: Jesus Christus sorg dat die blye boodskap van die koninkryk uitgaan

1 Die twaalf besoek al die dorpe en stede in Israel

2 Mense wat dankbaar daartoe bydra

3 Christus sal sorg dat die res van die wêreld ook bereik word

 

1 Die twaalf besoek al die dorpe en stede in Israel

In ons teks stuur Jesus sy apostels uit om van dorp tot dorp te gaan om oral die Evangelie te verkondig en siekes gesond te maak.

Lukas gebruik die woord koninkryk.

In hoofstuk 8:1 lees ons: die Evangelie van die koninkryk.

Die blye boodskap dat die Messias gekom het en sy koninkryk nou op hande is!

Hierdie blye boodskap moes die dissipels gaan uitdra oor die lengte en breedte van die land.

 

Nou het hierdie opdrag nie uit die bloute gekom nie, dit was presies wat Jesus self besig was om te doen, en waaraan sy dissipels nou al aan gewoond geraak het, soos wat hulle Hom gevolg het.

 

Tussen hakies, dit is belangrik om die onderskeid in die Evangelies raak te sien tussen die verskillende kategorieë van dissipels wat Jesus gehad het.

Eerstens was daar in die algemeen sy dissipels.

In Grieks is dissipel gewoon die woord vir ‘n leerling.

Dit was duisende mense wat na sy prediking kom luister het, wat Hom soms tydelik, soms meer permanent gevolg het.

Dan was daar ‘n groep wat die sewentig genoem is – sien Lukas 10.

Ook hulle het Jesus later aangestel om twee-twee in elke dorp en plek waarheen Hy oppad was, sy koms solank voor te berei.

En dan was daar die groep van twaalf, sy dissipels wat ook apostels genoem is.

Ek wys op hierdie onderskeid, want mens kan nie hierdie verskillende groepe elke keer oor een kam skeer nie.

Die opdrag om van dorp tot dorp en stad tot stad te gaan, gee Jesus nie aan alle dissipels in die algemeen nie, maar in ons teks spesifiek aan die twaalf.

En die mag en gesag om siektes te genees en duiwels uit te dryf, het Jesus nie aan ieder en elke dissipel geskenk wat Hom gevolg het nie, maar spesifiek aan die twaalf en later die sewentig.

 

Daarom kan ons ons teks nie net een-op-een toepas nie.

Daar is charismatiese groeperings wat dit doen, en daar was in die verlede in die kerkgeskiedenis ook mense wat dit baie letterlik een-op-een toegepas het.

Wat redeneer dat jy eers ‘n ware volgeling van Jesus is, as jy jou werk en familie opgee en begin reis van stad tot stad en land tot land om die Evangelie te verkondig.

So moet ons hierdie gedeelte nie toepas nie.

 

In elk geval, Christus skenk hier die opdrag spesifiek aan die twaalf.

En Hy het hulle ook al ‘n in-diens-opleiding gegee.

Ons lees byvoorbeeld in Lukas 8:1 dat Jesus dit self gedoen het:

“En daarna het Hy die een stad en dorp ná die ander deurgereis en gepreek en die evangelie van die koninkryk van God verkondig; en die twaalf was saam met Hom”.

Dit staan daar eksplisiet.

Jesus het dus nie net gesit en wag dat die mense na Hom toe kom nie.

Natuurlik het die mense soms na Hom toegestroom (bv. Luk 6:17-18).

Maar net soveel het Hy aktief die mense gaan opsoek.

Hy het baie kilometers afgelê.

Die een stad na die ander, die een sinagoge na die ander, het sy gesig gesien.

Sommige plekke het Hy langer gebly.

In ander dorpe nie, maar het Hy en sy dissipels die stof van hulle voete afgeskud.

Dis opvallend hoe dikwels die Evangelies melding maak van hoe Jesus deur die land rondgereis het.

Om enkele voorbeelde te noem, en ek beperk my nou slegs tot die Lukasevangelie:

“Hy het in hulle sinagoges geleer” – Lukas 4:15.

En Lukas 4:43: “Maar Hy het vir hulle gesê: Ek moet aan die ander stede ook die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur. En Hy het verder in die sinagoges van Galilea gepreek.”

Lukas 5:12: “En terwyl Hy in een van die stede was ...”

Lukas 13:22: “En onderwyl Hy geleer het en op reis was na Jerusalem, het Hy stede en dorpe deurgegaan.”

Verskeie kere lees ons dit in Lukas.

Inderdaad baie kilometers afgelê, baie plekke, baie dorpe en stede besoek.

En in die verlengde hiervan ontvang die twaalf nou die opdrag om nog verder te gaan.

En dit het hulle inderdaad gedoen.

Hulle het die land van een dorpie na die ander deurgereis om die blye berig van die koninkryk van God te bring.

 

 

2 Mense wat dankbaar daartoe bydra

Mens kan jouself afvra, en daarna kyk ons in die tweede plek, hoe het Jesus en sy dissipels dit alles kon bekostig?

Want die dissipels was voltyds by Hom.

Hulle kon nie meer hulle beroep – visvang – beoefen nie.

Christus het hulle geroep om vissers van mense te wees.

Maar hulle kon nie net van die wind lewe nie.

Jesus het self ook ‘n liggaam van vlees en bloed gehad.

Hy het kos nodig gehad, en klere, en so ook sy dissipels.

In Lukas 8:2-3 lees ons dat daar mense was wat Jesus onderhou het:

Maria Magdalena, “en Johanna, die vrou van Gusa, ‘n bestuurder van Herodes, en Susanna en baie ander wat Hom almal met hulle besittings gedien het.”

Besittings dui hier algemeen op al hulle besit, geldelik, onroerend ensovoorts.

Johanna wie se man, Gusa, ‘n bestuurder van Herodes was, was waarskynlik ‘n ryk man.

Bestuurder was iets soos die rentmeester of boekhouer van Herodes.

En behalwe vir haar en Susanna was daar, skryf Lukas, nog baie mense wat Hom en die dissipels finansieel onderhou het.

Onthou, Christus se reisgeselskap was omvangryk.

Daar was ‘n behoorlike begroting nodig vir daaglikse voedsel en onderdak.

Maar hierdie vroue het met liefde van harte daaraan bygedra.

Dit was vroue wat, skryf Lukas, genees was van bose geeste en siektes (Luk 8:2).

Daar was groot dankbaarheid in hulle harte.

Jesus het nie vir hulle beveel om Hom te onderhou nie.

Hulle het vrywillig en uit groot dankbaarheid die Heiland met hulle besittings gedien.

Net soos die sondares waaroor Lukas in hoofstuk 7 geskryf het, wat ‘n uiters duur albaste fles met salf gebring het om Jesus se voete te salf.

Groot dankbaarheid!

 

Maar, gemeente, in ons teks kom daar nou ‘n aspek by.

Hoewel Christus deur bogenoemde mense finansieel onderhou is, het Hy nie vir die mense aan wie Hy die Evangelie verkondig het in al die stede en dorpe, en die mense wie Hy genees het, enige geld gevra nie.

In die sin was sy bediening gratis.

Maar noudat Hy sy 12 dissipels uitstuur, lees ons iets nuuts.

Want behalwe vir bogenoemde ondersteuning deur Maria en Johanna en Susanna en baie ander, mag die twaalf nou ook aanspraak maak op die versorging van hulle wat hulle prediking gaan hoor, en diegene wat by hulle genesings gaan baat vind.

Juis daarom moet hulle geen kos, geld of ekstra klere saamvat nie.

Vers 3 (2020-Vertaling): “Moet niks vir die pad saamneem nie, nie ‘n wandelstok of ‘n reissak of brood of geld of twee kledingstukke nie.”

Laasgenoemde – twee kledingstukke – sou ‘n voorsorgsmaatreël wees vir as die dissipels dalk buite moes oornag, in die geval niemand hulle slaapplek aangebied het nie.

Ons sou vandag sê: vat vir die sekerheid ook ‘n warm trui of jas saam.

Maar dis nie nodig nie, sê Jesus, julle moet daarvan uitgaan dat daar vir julle gasvrye onderdak sal wees.

Wie die Evangelie van julle ontvang en dit aanneem, moet ook bereid wees om daarvoor te offer.

Om die wat dit gebring het, goedgesind te wees.

Uit dankbaarheid, en om te sorg vir die verdere verkondiging daarvan.

Die apostels het reg op onderdak en onderhoud, maak Jesus duidelik.

 

Hierdie is natuurlik nie moeilik om op vandag toe te pas nie.

Ook vandag is daar broeders wat geroep word om voltyds die Evangelie te verkondig, in die gemeentes, of om as sendelinge en evangeliste van stad tot stad en land tot land te gaan om die koninkryk van God te verkondig.

 

Paulus, as sogenaamde tentemaker, was in die Bybel wat dit betref die uitsondering.

Die reël was dat, soos hy aan Timotheüs geskryf het, die dorsende os nie gemuilband is nie.

Christus en sy dissipels was voltyds in diens van die Evangelie.

En God het dit so gelei dat dit vir hulle moontlik was, dat daar mense was wat dankbaar hulle gawes daarvoor beskikbaar gestel het.

 

(Tema: Jesus Christus sorg dat die blye boodskap van die koninkryk uitgaan

1 Die twaalf besoek al die dorpe en stede in Israel

2 Mense wat dankbaar daartoe bydra)

 

 

3 Christus sorg dat die res van die wêreld ook bereik word

 

So het Christus sy taak op aarde uitgevoer.

En van die begin van sy bediening af het Hy ook ander aangestel om Hom hierin na te volg.

Verskillende groepe.

Die twaalf, wat Hy permanent aangestel het om vissers van mense te word.

Die sewentig, wat Hy uitgestuur het om van dorp tot dorp sy koms voor te berei.

En ook al sy dissipels, wat die lig van die Evangelie nie onder ‘n maatemmer moes sit nie, maar in hulle omgewing laat skyn.

 

So het Jesus begin om aan die ou verbondsvolk die blye boodskap te bring, oor die lengte en breedte van die land.

Net met uitsondering het Hy ‘n dorp van die heidene besoek.

Maar Hy het seker gemaak dat in elke Joodse stad of dorp die goeie nuus aangekom het.

Sy fokus was op die Jode, in Galilea, in Judea.

Hierdie taak het Hy met groot toewyding vervul.

Maar terselfdertyd was dit te gering vir God om net die voormalige twaalf stamme van Israel met die Evangelie te bereik (Jes 49:6 & Hand 13:47-48).

Dit was die volgende stap.

Daarom gee Hy by sy hemelvaart aan sy dissipels die opdrag om bekering en vergewing van sondes in sy Naam te verkondig aan al die nasies, van Jerusalem af en verder, skryf Lukas aan die einde van sy boek (Luk 24:47).

Dink aan Christus se bekende woorde in Handelinge 1:8: “julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot aan die uiterste van die aarde.”

 

Broer, suster, waarvoor gaan jy 2026 gebruik?

Waarvoor gaan jy jou tyd en geld en gesondheid gebruik in die nuwe jaar?

Gaan die groot uitgawe wees wat jy beplan om te maak ‘n nuwe motor wees, dalk daardie begeerlike Prado of Land Cruiser?

Gaan jy die stap sit om ‘n vakansiehuis te koop, ‘n wegbreekplek, ‘n plaas of ‘n plot?

Gaan jy jou tyd gebruik om al daardie plekke te besoek wat nog op jou wenslysie is?

Verstaan my goed, hierdie dinge is nie verkeerd nie.

Dit gaan veral oor die balans in jou lewe.

Is hierdie dinge die swaartepunt in jou lewe, soos vir so baie mense in die samelewing rondom ons?

Dat die grootste deel van jou begroting en van jou tyd gespandeer gaan word aan tydelike plesiere, en veral aan jouself?

 

Soos ek genoem het, Jesus se opdrag aan die twaalf apostels, of aan die sewentig in Lukas 10, kan ons nie een-op-een toepas op my en jou lewe nie.

Maar ons kan dit wel toepas.

Die groot lyne is onverminderd aktueel.

Steeds is daar ‘n wêreld wat dreig om verlore te gaan.

Daar is in ons land, en ek noem nog nie eers die res van Afrika nie, nog soveel mense wat in duisternis lewe.

Wie gaan jy ryk maak met jou oorskotte?

Oorskotte in tyd, in geld, ensovoorts?

Wie gaan jy ryk maak met die Evangelie van die koninkryk?

 

Christus het nie net gesit en wag vir die mense om na Hom te kom nie.

Hy het baie pro-aktief die een stad en dorp na die ander deurgereis en gepreek en die Evangelie verkondig.

So het Hy ook die twaalf en die sewentig beveel om te doen.

Net so kan ons nie net ‘n afwagtende houding aanneem nie.

 

Laat ons uitgaan, in 2026, om die Evangelie van dorp tot dorp te verkondig, van stad tot stad, van provinsie tot provinsie, van land tot land.

En laat ons siekes gesond maak.

En weer eens, ons is nie die twaalf apostels nie.

Ek en jy word geroep om hier waar ons woon ons arbeid trou te verrig en meelewende kerklidmate te wees, en toegewyd te wees in ons gesinne.

Hierin is ons opvolgers van al die skare dissipels, gelowiges, in Jesus se tyd op aarde.

Terselfdertyd kan ons dit moontlik maak, net soos Maria Magdalena en Johanna en Susanna om bedienaars in staat te stel om die Evangelie verder te dra.

Daar is teologiese studente, proponente, wat gereed staan om uitgestuur te word.

Gaan ons in 2026 hierdie manne, hierdie geskenke van God, gebruik?

Christus het die twaalf uitgestuur.

Hulle moes voltyds die Evangelie gaan verkondig.

Dit moes nie vir hulle noodsaaklik wees om ook deeltyds te werk om vir ‘n inkomste te sorg nie.

Nee, sonder staf of reissak of brood of geld.

Christus sou sorg dat daar vir hulle voorsien word.

Die dorsende os moet jy nie muilband nie, het Paulus later vir die jong predikant Timotheüs geskryf (1 Timotheüs 5:18).

Laat ons dit moontlik maak dat hierdie manne kan uitgaan, voltyds, om in ons land en dalk verder die Evangelie te bring in 2026 en gedurende die verdere verloop van hierdie eeu.

Hierin mag ons opvolgers wees van die welgestelde Johanna en haar man Gusa, en Maria Magdalena en Susanna en baie ander wat in daardie tyd vir Jesus en die apostels met hulle besittings gedien het.

 

En ook word ons geroep tot diakonale barmhartigheid.

Ons as dissipels vandag het nie die mag en gesag gekry om op bevel, sonder enige mediese opleiding, siekes gesond te maak nie.

Dit is ‘n bevoegdheid wat die apostels ontvang het.

Daarna lees ons nie meer daaroor in die Bybel nie.

Oor byvoorbeeld die opvolgers van die apostels, mense soos Timotheüs en Titus, lees ons nie meer dat hulle ook die mag en gesag gehad het om siektes te genees nie.

Tog het die opdrag om goed te doen aan die siekes en die wat swaarkry, nie opgehou nie.

Dis nog steeds ‘n integrale deel van die gelowiges se lewensstyl.

Daarom kan ons hierdie woorde uit ons teks ook toepas.

Om met bewoëndheid uit te reik na hulle wat swaarkry.

Ons geld en besittings nie net te spandeer op ons eie welvaart nie, maar as gelowiges bekend te staan vir ons mededeelsaamheid.

 

Al met al meer as genoeg om ons in 2026 mee besig te hou.

Die blye Evangelie van die koninkryk moet bly klink.

En moenie vergeet nie:

Die geloof gaan nie net oor aksie nie.

Al hierdie baie noodsaaklike dinge moet gewortel wees in jou opregte persoonlike liefde vir die HERE.

Moenie dit afskeep in die nuwe jaar nie.

Lei ‘n biddende lewe in die nuwe jaar, en maak elke dag sy Woord oop.

 

Christus sorg dat die blye boodskap van die koninkryk uitgaan, ook in ons tyd.

Destyds het die twaalf al die stede en dorpe in Israel besoek.

Daarna het die apostels verder gegaan, volgens Christus se bevel, vanaf Judea na Samaria en rigting die uiterste van die aarde.

En steeds was daar mense wat met dankbare harte daartoe bygedra het.

Ons is deel van hierdie groot sending, oppad na die koninkryk, wat in al sy glorie sal verskyn as Christus weerkom, hopelik in hierdie jaar!

 

Amen.

 

 

Liturgie: 

Votum: Ps 121:1

Seën

Ps 147:1-3

Wet

Sb 28:1-4

Gebed

Skriflesings: Lukas 8:1-3; 9:1-6; 10:1-24

Ps 121:2-4

Teks: Lukas 9:1-6

Preek

Ps 145:6-12

Gebed

Kollekte

Sb 17:1-6

Seën