Christus se werk in die van duiwels besete Maria Magdalena

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2026-02-01
Teks: 
Lukas 8:2
Preek Inhoud: 

Preek: Lukas 8:2

 

Aan die begin van die jaar het ek reeds in ‘n preek aan ons teks ‘n bietjie aandag geskenk.

Dit het gegaan oor Maria Magdalena, en ander vroue, wat Jesus met hulle besittings gedien het.

Vandag kyk ons nader na hierdie teks, maar wel met ‘n ander fokus.

Daar staan naamlik hier oor Maria Magdalena: Daar het sewe duiwels uit haar uitgegaan.

En ook oor die ander vroue staan daar dat hulle genees was van bose geeste en siektes.

Ons gaan vandag nader hierop in.

Soos u kan onthou, die afgelope weke kyk ons na die werklikheid van die duiwel, bose geeste, demone.

Hoewel vandag se samelewing dink en leef asof hulle nie bestaan nie, openbaar die Skrif dat hulle ‘n bittere werklikheid is.

Net in die Lukasevangelie kom die woord duiwel 29 al keer voor, Satan 6 keer, bose of onreine geeste 12 keer – in die 2020-Vertaling ook wel demone genoem.

 

Maria Magdalena het dus sewe duiwels, demone in haar gehad.

Wat beteken hierdie eintlik verskriklike opmerking in ons teks?

 

Tema: Christus se werk in die van duiwels besete Maria Magdalena

 

Watter demone, duiwels het Maria Magdalena gehad?

Moet ons dit verstaan in die sin dat daar bose geeste in haar kop was en haar kop deurmekaar gemaak het?

Moet ons dit verstaan as ’n soort – wat ons vandag noem – psigiese aandoening wat sy gehad het.

Of, soos in plat Afrikaans, dat sy mal was?

Dat sy by wyse van spreke met onversorgde hare en vuil klere deur die strate geloop en skel het?

Wel, dis moontlik dat sy ’n psigiese aandoening gehad het.

Dis ook moontlik dat sy ’n baie sondige lewe gelei het.

Dalk was sy vroeër ’n prostituut?

Dalk was sy verslaaf aan drank?

Verslawings en gevolglike psigiese aandoenings gaan ook dikwels saam op.

 

Lukas brei nie uit oor die details van hierdie sewe duiwels wat Maria Magdalena se lewe oorgeneem het nie.

Daar is uitleggers wat beweer dat hierdie slegs ’n simboliese getal is, ’n hiperbool – bietjie oordrywing.

Daar is egter geen aanleiding in die teks self om te dink dat hierdie slegs simbolies en nie werklik was nie.

 

Maria Magdalena is bevry van sewe duiwels.

Haar lewe het weer rustig geraak, blydskap het teruggekeer.

En veral ook dankbaarheid.

Ons lees dat sy, saam met ander vroue en nog meer mense, vir Jesus met hulle besittings gedien het.

Ons weet dat Johanna, die vrou van Gusa, wat ook hier genoem word, waarskynlik welvarend was.

Hoe ryk Maria Magdalena was, weet ons nie.

Sy kon dalk soos die sondares wees, oor wie ons in die vorige hoofstuk gelees het.

Sy wat Jesus se voete met baie duur reukolie gesalf het.

Daar is selfs uitleggers wat meen dat hierdie sondares in Lukas 7 Maria Magdalena was.

Maar dankbaarheid het nou in haar lewe die botoon gevoer.

Sy het haar lewe in diens gestel van haar Heiland.

Die vrugte van die Heilige Gees vervang steeds meer die gifappels van die bose geeste.

Liefde, vreugde, vrede, vriendelikheid, geduld, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.

Ons kan hieraan byvoeg: vrygewigheid.

Soos ons gesien het, sy het vir Jesus en die uitbreiding van sy koninkryk met haar besittings gedien.

En haar getrouheid het geblyk uit die feit dat sy Jesus trou bly volg het, tot die einde.

Toe die dissipels reeds gevlug het met Jesus se inhegtenisneming, het sy gebly.

Toe Jesus aan die kruis gehang het – staan daar in Mattheüs 27:55-56 – was daar “baie vroue wat dit van ver af aanskou het, wat vir Jesus van Galilea af gevolg en Hom gedien het. Onder hulle was daar Maria Magdalena ...”

Daardie sewe duiwels het nie meer vat op haar gehad nie.

Sy het na Christus gekyk, en dit het haar beskerm.

Toe Josef van Arimathea Jesus se liggaam gaan begrawe het, het sy saam met ander vroue hom vergesel en gesien in watter graf Hy gelê is (Luk 24:55).

En sy was ook een van die vroue wat baie vroeg op die eerste dag van die week na die graf gegaan, maar dit leeg gevind het (Luk 24:10).

Hulle het dit aan die dissipels gaan vertel, maar dié wou hulle nie glo nie (Luk 24:11; Joh 20:18).

Opvallend eintlik, hoe meer genade iemand ontvang het, hoe meer geneig is daardie persoon om te glo.

Maria Magdalena het ‘n duister verlede gehad – daar was sewe duiwels in haar – maar aan haar is baie genade bewys.

Sy was nou vinniger bereid om die Evangelie van die opstanding te glo as die dissipels.

 

Dink ook aan wat Jesus gesê het oor die sondares in Lukas 7: “Haar sondes wat baie is, is vergewe ... maar hy vir wie weinig vergewe is, het weinig lief.”

Dit het Jesus gesê na die gelykenis wat Hy vertel het:

“’n Sekere geldskieter het twee skuldenaars gehad; die een het vyfhonderd pennings geskuld en die ander een vyftig; en omdat hulle niks gehad het om te betaal nie, het hy dit aan altwee geskenk. Sê nou, wie van hulle sal hom die meeste liefhê? En Simon [dis nou die Fariseër by wie Jesus geëet het] antwood en sê: Ek veronderstel die een aan wie hy die meeste geskenk het.” (Luk 7:41-43)

 

Maria Magdalena word een van die eerste ooggetuies van Christus se opstanding.

Vir die kerk van alle eeue speel sy belangrike rol.

Sy is soos Ragab van Jerigo, wat hoewel ‘n sondares, tog ‘n stammoeder geword het in Israel.

 

Sewe duiwels ...

Gemeente, wat moet ons konkreet ons hierby voorstel?

Tradisioneel is daar in die kerkgeskiedenis sewe sondes genoem, sondes wat tot jou dood sal lei, sondes waarteen ‘n Christen moet stry en vervang met die vrugte van die Gees.

Daardie sewe is:

Wellus

Vraatsug

Hebsug

Luiheid

Woede

Jaloersheid

Trots.

 

Eerstens dus: wellus.

Wie nie sy seksuele passies kan beheer nie, grawe sy eie graf.

Lees maar die Spreukeboek hoe indringend dit daar beskyrf word.

Tweedens: vraatsug.

Wie te veel eet of drink, bespoedig sy eie dood.

Hoeveel studies bewys dit nie deesdae nie, dat te veel alkohol jou gesondheid aantas.

Dink aan die uitdrukking: Hy het ‘n drankduiwel.

Die HAT skryf daaroor: “Drankmisbruik as ’n bose gees voorgestel”.

Baie van u het waarskynlik al met ’n dronk persoon te make gekry.

As so iemand kwaad raak, is dit nie moeilik om te sien dat ’n duiwel in hom gevaar het nie.

En verder verloor ’n dronk mens ook alle inhibisies.

Verslaaf wees aan verslawende middels kan ook onder vraatsug geklassifiseer word.

Derdens: hebsug.

Wie nie tevrede is met wat hy het en altyd net meer en meer wil hê.

Hy word maklik verlei tot diefstal of ander oneerlike praktyke.

Vierdens: Luiheid.

“Nog 'n bietjie slaap, nog 'n bietjie sluimer, nog 'n bietjie hande-vou om uit te rus!” sê Salomo – Spreuke 6:10.

Vyfdens: Woede.

Wie vinnig uitbars in woedebuie, bring sy eie en ander se lewe in gevaar.

Hoeveel voorbeelde daarvan is daar nie in ons land nie, hoe vinnig mense hulle vuurwapens uitpluk as hulle kwaad is, veral as dit nog gepaard gaan met drank.

Sesdens: Jaloersheid.

Wie nie tevrede is nie, wie jaloers is op die huis van ‘n ander, of die werk van ‘n ander, of wat ook al van die ander – so iemand maak homself net ongelukkig.

Wie tevrede en gelukkig is, ervaar soveel minder stress.

“[G]ee my nie armoede of rykdom nie, laat my geniet die brood wat vir my bestem is” – Spreuke 30:8.

En laastens: Trots.

Wie hardkoppig is, wie sy nek styf hou, die nek sal gebreek word.

Ons almal moet veg daarteen.

Hoe goed is dit om elke keer maar opnuut te besef hoe ’n groot sondaar ek en jy is.

Ons is en het niks maar ook niks waarmee ons onsself bo ’n ander kan verhef nie.

Alles wat ons is en het behoort aan die Here.

 

Samevattend, sewe sondes wat tot jou ondergang lei.

Kan mens daaraan toevoeg: Dit is sewe duiwels?

Gemeente, wat belangrik is vir ons om te besef, veral vir ons in ons kultuur, is dat hierdie nie net iets abstrak is, iets wat net in daardie Bybelse tyd gebeur het, of dat dit dalk maar net persepsies is wat mense toe gehad het nie.

Vandag en toe se werklikheid is nie verskillend nie.

Die gevare waaraan die mense destyds blootgestel was, daardie selfde gevare bedreig ons.

En dit is, soos die Kategismus dit baie kort saamvat: Die duiwel, die sondige wêreld, en ons eie sondige self.

En veral hierdie drie in kombinasie, as hulle saamwerk, kan ’n dodelike mengsel word.

Daarom, pas op vir die drankduiwel.

Pasop vir die skinderduiwel.

Pasop vir die vraatsugduiwel.

Pasop vir die haatdraende duiwel wat mense rassiste maak.

Pasop vir die bose gees wat jou gaan trots maak.

Pasop vir ‘n ondankbare gees van jaloersheid.

Pasop vir die demoon wat jou in slaap sus en jou lui maak.

En, pasop vir die demoon wat jou in woede laat ontvlam.

 

Ja hierdie drie doodsvyande werk meestal saam.

Hulle vorm ‘n bondgenootskap as hulle jou aanval.

Die duiwel, die sondige wêreld, jou eie sondige ou mens.

Juis hierdie kombinasie kan dit soms moeilik maak om te onderskei – wat kom nou van wie af?

In ons hedendaagse samelewing word die bestaan van die geesteswêreld ontken.

Alle siektes en aandoenings het ‘n puur somatiese – liggaamlike – oorsprong.

Moenie aankom met stories oor die duiwel en bose geeste nie.

Dit is die eng Westers sekulêre wêreldbeskouing.

Daarenteen is daar ander kulture wat dalk weer te veel aandag skenk aan die bose geeste.

Soos die ou Afrikakultuur.

Daar word amper alles aan die werk van bose geeste, of die geeste van die oorlede voorvaders, toegeskryf.

Maar beide is eensydig.

Beide kulture – sowel die blanke as die swart – benodig ‘n noodsaaklike korreksie in hulle opvattings oor die duiwel en sy bose geeste.

‘n Korreksie vanuit die Skrif.

 

Die Skrif maak ons oë oop.

Hierdie dinge is ‘n werklikheid.

En boonop, die feit dat ons drie doodsvyande dikwels in bondgenootskap optree, sal ons ekstra versigtig maak.

Ons is nie in staat om die oorsaak van elke aandoening en siekte presies te beskryf nie.

Ons ken nie al die details nie.

Ons weet ons liggame het sterflik geword, aangetas deur die sonde.

Vanaf ongeveer jou 40ste jaar begin die liggaam stelselmatig agteruit te gaan.

Maar ook mense jonger as 40 jaar kan ernstig siek word.

En behalwe vir die algemene sterflikheid van die menslike liggaam, en genetiese degenerasie soos wat jy ouer word, is daar ons eie sondige lewe, en ‘n sondige wêreld om ons wat ons tot siekmakende dinge verlei, en dan nog die duiwel en sy demone wat ons probeer beetpak.

‘n Giftige mengsel.

En net soos verskillende pille wat jy in dieselfde glas water oplos en dit een vloeistof word en jy die pille nie meer van mekaar kan onderskei nie, so kan jy agteraf nie altyd presies bepaal wat wie se skuld was nie – die duiwel, die wêreld of jou ou mens ...

Maar tesame dus ‘n dodelike mengsel.

 

Gemeete, wat leer ons uit dit alles?

Ja, die duiwel, die bose geeste het mag, en is hulle onsigbaar, maar hoe hulle dinge stukkend maak is wel goed sigbaar.

Die Heilige Gees is soos die wind, jy sien die wind nie, maar wel die effek van die wind.

So ook die bose geeste.

Hulle domein is hierdie wêreld, wat hulle afvallig wil maak.

 

Maar, gemeente, hierdie is nie ‘n bangmaakpreek nie.

Want Christus regeer.

Aan Hom is gegee alle mag in hemel en op aarde.

Die duiwel en die demone kan hulle nie roer of beweeg sonder sy wil nie.

Hou vas aan hierdie wete!

Nie dat ons God se voorsienigheid, en sy raadsplan, sal verstaan nie.

As ons siek word, as iets ergs ons tref, is ons geneig om God kwalik te neem.

Hoekom gryp Hy nie in nie?

Laat ons nederig onsself verootmoedig.

Want dit is die werk van die doodsvyande, waarvan ekself – my ou mens – een is.

Ek verdien nie om te leef nie, dis net genade.

 

En dan, gemeente, moenie neerkyk op mense wat van duiwels bevry is nie.

Moenie skinder oor hulle wat in die verlede ‘n alkoholis was, of ‘n verslaafde, of wat moes trou, of om watter rede ook al nie.

Want, hulle wat veel vergewe is, hulle het baie lief.

Hulle sal julle voorgaan in die koninkryk van die hemel.

 

Dis nie jou en my verdienste dat ons ‘n goeie lewe kan lei nie.

Dis net genade dat sy Heilige Gees in my woon.

Soos daar ‘n hoë muur om Jerusalem was, so is daar ‘n muur van vuur rondom my en jou, rondom Christus se gemeente.

Dit is die Gees.

Hy hou die bose geeste op ‘n afstand.

Mense wat ‘n gelowige opvoeding gehad het, in die kerk opgegroei het, hulle lewe is net soveel meer beskerm teen die bose geeste.

Daarbuite gaan dit rof.

Kinders wat nie ‘n gelowige pa of ma het nie.

Kinders wat die prooi van misbruik is.

Kinders wat op straat moet leef en aan alle gevare en verleidings blootgestel is.

Die Heilige Gees met sy Woord, sy gebooie, is ‘n beskermende heining om ons lewe.

Dit hou die duiwel en demone op afstand.

 

Nadat Maria Magdelena bevry is van die bose geeste, het sy nie ‘n sondelose mens geword nie.

Daarom sal ons haar nie as ‘n heilige vereer nie.

Oor haar is daar deur die eeue baie gespekuleer.

Daar is selfs in die tweede eeu ‘n apokriewe Evangelie van Maria geskryf, wat handel oor Maria Magdalena, en oor dinge wat Jesus skynbaar aan haar geopenbaar het, en nie aan die apostels nie.

Sover gaan ons nie.

Nee, sy het ‘n sondares gebly, maar wel een aan wie genade bewys is, en wie se lewe voortaan onder die beskerming van die Heilige Gees gestaan het.

Haar lewe het rustig geword, veilig naby haar Heiland.

Daardie sewe demone het nie meer gedurf om naby te kom nie.

Maar heeltemal bevry van die doodsvyande was ook sy nog nie.

 

En so geld dit ook vir ons, ook al het jy, in teenstelling tot haar, dalk ‘n onbesproke verlede.

Laat ons bly onthou, geen mens, geen Fariseeër, geen dominee of ouderling, is uit homself beter nie.

Dis Christus se genade wat ons elke keer weer red, want al is ons verbondskinders, wil ons telkens weer afdwaal.

Laat ons nie vergeet hoe groot genade aan ons bewys is en word nie.

Laat ons nie minder onder die indruk van daardie genade wees, minder as mense soos Maria Magdalena wat menslikerwys uit die rioolput gered moes word nie.

Ons is niks beter nie.

Uit onsself stink ons net so.

 

Laat ons nie minder elke dag na die Geneesheer gaan om gewas te word van ons sondes nie.

Dit was Christus se primêre missie na die aarde.

Sy Middelaarswerk om die kernoorsaak van al ons honger en kommer, ons siekte en sterflikheid, ons vatbaarheid vir die bose geeste aan te spreek, naamik ons opstand en sonde.

Hy het gekom om dit weg te neem.

Soos Johannes dit noem in sy brief: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1 Joh 3:8).
 

Christus het ‘n groot werk gedoen in die lewe van die van duiwels besete Maria Magdalena.

Nie minder groot is sy werk in jou en my nie.

En die beste is nog op koms:

Gemeente, sien uit na sy tweede koms na die aarde, sy wederkoms, want dan gaan Hy wel elke siekte wegneem, gaan geen duiwel of demoon meer naby ons kan kom nie.

Dan sal Hy al die trane van ons oë afvee, en sal daar geen dood meer wees nie, of droefheid of geween of moeite (Openb 20:4).

Dit is die Evangelieboodskap: Siekte, van watter aard ook, is nie deel van sy koninkryk wat op koms is nie.

Laat staan die duiwel en sy demone!

 

Amen.

 

Liturgie: 

Votum

Seën

Ps 31:1-4

Wet

Sb 49:1,4-7

Gebed

Skriflesing: Lukas 7:36-8:3

Sb 39:3-5

Teks: Lukas 8:2

Preek

Ps 27:3,4,6

Gebed

Kollekte

Ps 124:1-4

Seën