Preek: Lukas 4:31-37
In verlede week se preek het ons na die duiwel gekyk, hoe hy die Here Jesus versoek het.
In vandag se tyd, veral in die Westerse samelewing, word nie meer rekening gehou met die duiwel en die realiteit van bose geeste nie.
Die Skrif openbaar egter baie duidelik dat die duiwel daar is, en ook bose geeste, ook wel genoem demone.
Soos ek laasweek genoem het, die woord duiwel kom in die Lukasevangelie 29 keer voor.
Die woord Satan kom 6 keer voor.
12 keer lees ons oor bose geeste.
Hulle word soms ook onreine geeste genoem, of demone (2020-Vertaling).
Duidelik is die wêreld van die duiwel en bose geeste in die Bybel ‘n realiteit.
Ook vandag gaan ek nie oor die duiwel of oor die bose geeste preek nie, die preek sal oor ons Here Jesus Christus gaan.
Maar ook vandag is die bedoeling dat ons oë meer oopgaan vir die realiteit van die duiwel en sy volgelinge, en hoe hulle ‘n groot invloed het op aarde, en elke dag soek om ook in ons lewe invloed te kry.
Maar ons het ‘n sterk Heer om op te vertrou!
Kapérnaüm
Tema: Jesus Christus leer en genees met gesag!
Ons teks vind plaas in die sinagoge, terwyl Jesus besig is om te preek.
Skielik begin iemand te skreeu.
U kan invoel hoe geskok almal moes gewees het.
As iemand skielik hier tydens die erediens begin te skreeu ... dink net.
Hierdie man was duidelik nie goed by sinne nie.
“Ha! wat het U met ons te doen, Jesus, Nasarener?”
Jesus het nounet van Nasaret afgekom, nou is Hy in die sinagoge van Kapernaüm.
Was daar onmin tussen die twee dorpe?
Het Jesus dalk al tydens eerdere besoeke harde woorde gepraat in Kapérnaüm?
Ons weet Hy sou later wel.
Dink aan die volgende uitspraak:
“En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word.” (Luk 10:15)
Duidelik het die besetene ‘n probleem met hierdie man uit die buurdorp.
In elk geval, hy probeer ‘n wig te dryf tussen Jesus en die ander hoorders in die sinagoge.
En ín hom, agter sy siekte, is duidelik die Satan besig.
Hy val vir Jesus aan, hy probeer om die erediens te ontwrig.
Is dit nie baie waar nie, gemeente, hoe dikwels Satan probeer om God se werk met siektes te probeer dwarsboom nie?
So probeer hy mense met baie energie en toewyding te vloer, of ou mense met baie lewenservaring en wysheid uit die weg te ruim.
Maar Jesus sien die mens raak, en Hy het medelye.
Jesus vergeld hier nie kwaad met kwaad nie, juis die omgekeerde.
Hy bewys dat die teendeel waar is.
Hy het nie gekom om te verdelg nie, maar om te red.
Hy het gekom om ‘n besetene vry te maak.
En so gebeur dit dus daardie dag in die sinagoge.
Toe Jesus die duiwel bestraf, gooi die duiwel die man op die grond – in Markus lees ons die man het ook nog stuiptrekkings gekry (Mark 1:26).
‘n Laaste poging om hom seer te maak, maar Jesus laat ook dit nie toe nie.
Nou was die man se lydensweg verby.
En die mense kon hulle oë nie glo nie!
Vers 36: “Toe kom daar verbaasdheid oor almal, en hulle praat met mekaar en sê: Wat vir ‘n woord is dit, dat Hy met gesag en mag die onreine geeste gebied, en hulle gaan uit!”
Nou wonder ons natuurlik watter siekte hierdie man gehad het?
Was dit ‘n soort epilepsie?
Ons weet nie.
Daar is ook uitleggers wat sê die man was net dwars, eiewys, opstandig.
Maar in elk geval, vir beide gevalle geld dat die duiwel die man baie ongelukkig gemaak het.
En so is dit vandag nog steeds.
Alle siektes is erg.
Met alle siektes probeer die duiwel ons ongelukkig te maak, aan die twyfel te bring.
En dikwels is dit nie maklik om die grens aan te wys tussen blote opstandigheid of hardkoppigheid, en moontlik ‘n onderliggende siekte nie.
En soms is ‘n siekte ook die gevolg van verkeerde gedrag – dink aan dwelm- of alkoholmisbruik wat tot mentale siektes kan lei.
Maar dis opvallend dat die mense uit daardie tyd wat volgens Lukas bose geeste in hulle gehad het, nie in ‘n aparte kategorie geplaas word, asof dit erger as die ander siektes sou wees nie.
‘n Mooi voorbeeld daarvan is Lukas 7:21, waar daar staan: “En in dieselfde uur het Hy baie mense genees van siektes en kwale en bose geeste, en aan baie blindes die gesig geskenk.”
Almal word oor dieselfde kam geskeer, en almal mag in Christus se genesing deel.
Dalk wonder u wat die besete man bedoel het, toe hy roep: “Ek ken U, wie U is: die Heilige van God!”
Lukas verduidelik dat dit die gees van die onreine duiwel was wat gebruik gemaak het van hierdie man se stem om dit te roep.
Maar, is dit dan nie waar wat hy geroep het nie?
Jesus is mos die Heilige van God ...?
Hoekom lê Jesus hom dan die swye op, terwyl dit waar is?
Dieselfde gebeur ook in vers 41: “duiwels het ook uit baie uitgegaan en geskreeu en gesê: U is die Christus, die Seun van God!”
Dis mos die waarheid, of nie?
Tog doen Jesus dit ook daar: Hy bestraf die duiwels en laat hulle nie toe om te praat nie.
‘n Uitlegger het dit soos volg verduidelik: Jesus het hulle getuienis nie nodig nie.
Die profete getuig van hom, en die mense wat Hy genees het, die sal van Hom getuig.
Die duiwels se getuienis het Hy nie nodig nie.
Die duiwel is die vader van die leuen.
En selfs met die waarheid kan hy mense seermaak.
Met die waarheid kan hy ook probeer om ‘n wig te dryf tussen die Heiland en diegene vir wie Hy gekom het, juis om hulle te genees.
Die duiwels wou die mense bang praat: Oppas vir Jesus, Hy kom van God af. Hy is baie magtig, Hy gaan julle straf en seermaak!
Nee dus, Jesus het gekom om die wat verlore is te soek, die wat siek is te genees, die wat gevange is in die kettings van die duiwel, in vryheid weg te stuur, ja om die aangename jaar van die Here aan te kondig – Lukas 4:19.
As die duiwel en sy demone dit wil dwarsboom, hetsy deur die leuen of selfs deur die waarheid, dan word hulle bestraf en nie toegelaat om te praat nie.
So lui Christus ‘n nuwe periode in die geskiedenis in.
Ja die aangename jaar van die Here!
‘n Blye boodskap vir ‘n wêreld in die mag van die Satan.
Want inderdaad, die duiwel het mag oor siektes.
In Job 2 kan mens lees dat God Satan die ruimte gegee om vir Job met siektes te teister (Job 2:6).
Die duiwel maak die liggaam stukkend met siektes.
‘n Kollega van my het ‘n paar jaar gelede ‘n kankergewas ontwikkel.
Dit is toe sjirurgies verwyder.
Na die operasie het die dokter vir hom die kankergewas gewys.
Hy het vir my vertel, toe hy dit sien, het dit hom dadelik aan die duiwel laat dink.
Ja, dit is ook vleis, maar dit is en lyk destruktief.
Ongeordend, chaoties, stinkend.
Dit in teenstelling met gesonde weefsel in ‘n mens se liggaam – spiere, organe ensovoorts.
‘n Kankergewas in destruktief.
Al groei dit in die liggaam, dit is nie dieselfde as die liggaam wat deur God geskape is nie.
Dit is iets wat duidelik foutgeloop het.
Nou moet u my nie verkeerd verstaan nie.
Beweer ek nou dat iemand met kanker die duiwel, of ‘n demoon, in hom het?
Wel, nie op ‘n bygelowige wyse nie.
Maar wel is en bly dit ‘n feit dat die duiwel – die Skrif praat ook oor die bose geeste in die lug (Ef 6:12), orals om ons is.
En hulle het ‘n invloed.
Hulle probeer steeds dinge stukkend maak.
Nie net in ons liggame nie, ook in ons huwelike, in ons gesinne, in ons gemeentes, in die land, in die wêreld, noem maar op.
En hulle het ‘n invloed.
As gevolg van ons sondigheid, ons ou mens wat steeds nog ‘n verbond met die duiwel en sy wêreld wil sluit, kan ons liggame nie die ewige lewe beërwe nie, altans nie in hulle huidige staat nie.
Slegs ‘n nuwe liggaam, soos Christus verwerf het toe Hy uit die graf opgestaan het, en wat Hy ook beloof aan die wat in Hom glo, sal weer ewig kan lewe.
Ons huidige liggaam gaan, vroeër of later, aangeval word.
Of deur ons eie sondige leefstyl, of deur die sondige gevolge van die wêreld om ons heen se optrede, of direk deur die duiwel en sy demone self, soos by Job die geval was.
Dis nie in ons hand om te besluit by wie en wanneer en by welke siekte dit gebeur nie, ons het nie insae in God se planne nie, net so min as wat Job gehad het.
Wat ons dus wel leer uit vandag se teks, is dat die werklikheid van die Satan en bose geeste daar is, en elke mens het daarmee te make.
En hulle is betrokke by elke mens se lewe.
Hulle sit soos aasvoëls en weet wanneer hulle kan toeslaan.
Soos u moontlik weet, aasvoëls het geweldige skerp oë.
Nie net vanuit die takke van dooie bome nie, maar selfs vanuit hoog in die lug waar hulle sweef, kan hulle presies die wye omgewing dophou en presies sien waar ‘n karkas lê.
En aasvoëls het dikwels ook ‘n baie skerp reuksintuig.
Hulle kan vrot vleis ruik, selfs waar dit onsigbaar onder ‘n boom lê.
So is die duiwel en sy demone soos aasvoëls.
Hulle is daar, hulle kom amper asof uit die niet te voorskyn, sodra daar ‘n kans is.
Nou is daar nog ‘n vraag wat mens dikwels hoor oor ons teks.
En dis of die mense in die Nuwe Testament wat van bose geeste verlos is, of hulle – wat ons vandag noem – psigiese siektes gehad het?
Was dit net die mense met psigiese kwale wat bose geeste in hulle gehad het?
Ek het eerder in die preek genoem dat die duiwel en sy magte invloed het, nie net op ons gees nie, ook op ons liggame.
Dis wel so dat psigiese kwale – waar mens dikwels niks aan die buitekant sien nie – makliker geassosieer word met bose geeste, vroeër en vandag is dit dikwels nog steeds so.
Mense met skisofrenie kan byvoorbeeld baie snaakse dinge sê.
Ook is ‘n siekte soos epilepsie baie keer geassosieer met ‘n bose gees wat besit van iemand neem.
So is daar gepraat, ook in die Bybelse tyd.
Hoe moet ons dit beoordeel?
Want vandag weet ons wel meer op mediese gebied.
Daar is soms duidelike liggaamlike oorsake agter psigiese siektes, wat dan met medisyne weggeneem kan word.
Dit geld nie – of dalk nog nie – vir alle psigiese siektes nie, maar wie weet word daar in die toekoms nog meer medisynes en behandelinge ontdek.
Dis dinge wat in die Nuwe Testamentiese tyd nog nie beskikbaar was nie.
Nie die mate van kennis wat ons het, ook nie die spesifieke medisynes nie.
Daarom dat mense hierdie op ‘n manier onsigbare aandoenings vinniger met bose geeste geassosieer het.
Maar dit neem nie weg nie dat alle siektes – ook die baie sigbare liggaamlike siektes – die gevolg is van die duiwel, van demone, van ons eie sondige geaardheid, hetsy deur ons eie leefstyl, hetsy deur ander se sondige optrede, hetsy oorgedra in ons gene van die voorgeslagte.
Christus is God, ook toe Hy as mens op aarde was, was Hy steeds God.
Hy het presies geweet wat fout is, sowel met liggaamlike en psigiese siektes.
Hy het beide genees.
Maar, ons noem dit in die teologie die leer van die akkomodasie, Christus het in sy aardse optrede aangesluit by die kultuur, die denke, die kennis, die gewoontes van daardie tyd.
Christus het nie – by wyse van spreke – ‘n klomp privaat hospitale opgerig om mense volgens die nuutste tegnologie vir epilepsie en ander psigiese aandoenings effektief te kan behandel nie.
Hoogs tegnologiese privaathospitale soos ons dit vandag ken, of dalk hospitale van die toekoms wat ons nog nie ken, en miskien nog beter gaan wees.
Nee, dis nie wat Christus kom doen het nie.
Lukas, die skrywer van hierdie Evangelie, was waarskynlik self ‘n dokter, en hy beskryf die verskillende siektes ooreenkomstig die mediese opvattings van daardie tyd.
So het die Bybel tot stand gekom in daardie tyd.
Terselfdertyd het Lukas goed besef dat die Heiland nie net ‘n gewone dokter soos hy was nie.
Sy genesings het anders plaasgevind.
Slegs met ‘n woord, slegs met ‘n bevel, het siektes en bose geeste verdwyn.
Soos daar byvoorbeeld in die gedeelte staan wat volg op ons teks.
Simon se skoonma het hewige koors gehad.
Jesus het die koors bestraf, en toe het dit opgehou.
Ja, bestraf, ‘n dokter wat bestraf, so was sy behandelwyse.
Soiets het iemand nog nooit gedoen nie – dit het Lukas en die mense toe goed besef.
Hulle was verslae.
Hy het ‘n gesag gehad wat mense nie het nie.
Toe nie, vandag ook nie, al is dit die simste mees gestudeerde dokter.
Hy is Heer van die skepping, alles luister na sy gesag!
Maar terselfdertyd het Christus se bediening in daardie tyd plaasgevind, aangepas aan die leefwêreld van daardie mense.
Dit alhoewel Christus die toekoms ken, Hy lei en bepaal die toekoms, tog het Hy aangepas – geakkomodeer – by daardie tyd.
Hy het wonders gedoen deur slegs ‘n woord te spreek, ‘n bevel te gee – Hy het hospitale nie nodig gehad nie.
Maar, en dis baie belangrik om te besef, sy eerste missie na die aarde was nie bedoel om alle siekes te genees nie.
Ja, Hy het duisende mense genees, maar nog lank nie almal in die wêreld van daardie tyd nie.
Sy genesingswonders was bedoel om die aandag te vestig op sy boodskap, sy prediking, sy Middelaarswerk.
So is dit ook in ons teks.
Hy het na Kapernaüm gekom om te leer – in die sinagoge onderrig te gee.
En, staan daar, die mense was verslae oor sy leer.
En toe, daarna, volg die genesingswonder van die man wat daar in die sinagoge was en hardop begin skreeu het.
Maar dit was dus Jesus se primêre missie: om die kernoorsaak van al ons honger en kommer, ons siekte en sterflikheid, aan te spreek, naamik ons opstand en sonde.
Hy het gekom om dit weg te neem.
Soos Johannes dit noem in sy brief: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” (1 Joh 3:8).
Ons sien nou uit na sy tweede koms na die aarde, sy wederkoms, want dan gaan Hy wel elke siekte wegneem.
Dan sal Hy al die trane van ons oë afvee, en sal daar geen dood meer wees nie, of droefheid of geween of moeite (Openb 20:4).
Dit is die Evangelieboodskap: Siekte, van watter aard ook, is nie deel van sy koninkryk wat op koms is nie.
Laat staan die duiwel en sy demone!
En dit bring ons by nog ‘n belangrike ding wat ons moet besef.
Die Bybel is nie bedoel as ‘n mediese handboek nie.
Christus het aangepas by daardie tyd, ook die spreekwyse en persepsies van daardie tyd.
Tog was Hy nie gebonde daaraan nie.
In sy Goddelikheid kon Hy steeds ‘n woord spreek en ‘n sieke genees.
Die bedoeling van die Bybel is om die Evangelie mee te deel, die goeie nuus te bring dat die sonde en dood, die duiwel sy bose geeste, oorwin is deur Christus se Middelaarswerk.
Op daardie fondament bou gelowiges hulle lewe, wetende dat die oorwinning in beginsel behaal is, die oorwinning oor die duiwel en sy ryk, oor siekte en dood; al sien ons nog uit na die finale herstel van alle dinge.
Destyds het mense van heinde en verre gekom op na Hom te luister, van hulle kwale genees te word, en die wat gekwel was deur onreine geeste, is ook genees (Luk 6:18).
Vandag nog steeds klink die Evangelie oor die lengte en breedte van die aarde.
En broer, suster, die dag wat jy gefel gaan word deur ‘n siekte, hetsy liggaamlik, hetsy psigies, of dalk ‘n familielid of vriend van jou, weet dat daar goeie hoop is.
Hy kan en wil en sal genees, selfs die dood is nie vir Hom skaakmat nie.
En laat ons as gelowiges bekend staan – net soos ons Heiland – as mense wat die welsyn van ander bevorder – liggaamlik en geestelik.
En dit in die lig van die groot verwagting wat ons het, dat die dag vir seker sal kom, waarop alles siektes van die aarde af sal verdwyn!
Amen.
Votum
Seën
Ps 71:12,13
Wet
Ps 6:1,2
Gebed
Skriflesing: Lukas 4:14-44
Sb 39:1,3,5
Teks: Lukas 4:31-37
Preek
Ps 30:1-3
Gebed
Kollekte
Ps 103:2,3
Seën