Dank God vir die ampsdraers wat Hy skenk

Predikant: 
Ds PG Boon
Gemeente: 
Maranata
Datum: 
2025-11-16
Teks: 
2 Timotheüs 1:3-7
Preek Inhoud: 

Preek: 2 Timotheüs 1:3-7

 

Paulus het Timotheüs die hande opgelê toe hy ‘n jong man was.

Dit wil sê, hy het hom in die amp bevestig.

Is dit wel reg om manne wat nog maar jonk is, te bevestig as ampsdraers?

Watter ouderdom behoort die afsnypunt te wees?

Maak ons dit nie onnodig moeilik vir die ou mense in die gemeente nie?

Hulle moet nou luister na iemand wat minder as die helfte hulle ouderdom is.

En, veroorsaak mens nie onnodig onsekerheid, dalk ‘n minderwaardigheidsgevoel, by sulke jong manne, wat skielik sonder ervaring hulle skoene moet volstaan as ampsdraer nie?

 

Tema: Dank God vir die ampsdraers wat Hy skenk.

 

Gemeente, Timotheüs was ook in so ‘n situasie.

Hy was jonk.

Hy was onseker.

Paulus moes hom aanmoedig:

“Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees 'n voorbeeld vir die gelowiges”.

Hy moes gewoon voortgaan om ‘n voorbeeld te wees vir die gemeente:

“in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid.” (1 Tim 4:12)

 

Maar, gemeente, al was Timotheüs jonk, hy was nie ‘n pasbekeerde nie.

Paulus waarsku juis daarvoor om pasbekeerdes in die amp te sit:

“Moenie haastig iemand die hande oplê nie” (1 Tim 5:22).

En 1 Timotheüs 3:6: “Hy moet nie 'n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word ... nie.”

 

Was Timotheüs ’n nuweling?

Gemeente, hy was jonk, maar hy was nie ’n nuweling nie.

En die antwoord hierop het te make ons jaartema:

Die gesin as bousteen van die kerk.

Timotheüs het naamlik opgegroei in ’n Godvresende gesin.

Ons teks gee ’n pragtige getuienis oor sowel sy ma as sy ouma.

Die geloof is aan Timotheüs oorgedra tydens sy kinderjare.

Ons teks is ‘n voorbeeld van die oordrag van die geloof in die verbondslyn.

 

Paulus verwys ook daarna as dit oor homself gaan, vers 3:

“Ek dank God, wat ek van my voorouers af in ‘n rein gewete dien ...”

Paulus bedoel om te sê, soos die 2020-vertaling dit weergee:

“Ek is dankbaar teenoor God, wat ek, soos my voorouers, met ‘n skoon gewete dien.”

Die geloof in Paulus se lewe het ook ‘n duidelike oorsprong gehad.

Die Heilige Gees het naamlik Paulus se voorouers gebruik.

Hulle het hom voorgegaan in ‘n gelowige lewe.

Paulus mog dit van hulle oorneem.

Hulle het hom onderrig in die diens van die HERE.

Mooi dat Paulus hier die woord voorgeslagte gebruik.

Die woord verwys nie net na sy eie ouers nie, maar ook sy oupas en oumas, sy grootjies, ensovoort.

Want sy ouers het die geloof ontvang van hulle ouers, en die weer van hulle ouers.

Paulus was uit die stam van Benjamin (Fil 3:5), en deur sy ouers is hy as ‘n vrome en wetsgetroue Jood opgevoed.

 

So sien ons die seën van die HERE deur die geslagte heen.

Dat Hy sy belofte nakom, naamlik dat Hy sy barmhartigheid sal bewys aan die wat Hom liefhet en sy gebooie onderhou, tot in die duisende geslag – Exodus 20:6.

Hierdie belofte word in Psalm 105 herhaal: “Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte”.

Die geloofslyn in Paulus se voorgeslagte tot by hom is ‘n pragtige voorbeeld hiervan.

En al is die voorgeslagte reeds oorlede, het Paulus, wat op daardie stadium op aarde gelewe het, die geloof voorgesit.

Hy het God met ‘n rein gewete gedien.

 

‘n Wesenlike onderdeel van hierdie diens aan die HERE is die gebed.

Paulus bid onophoudelik, nag en dag.

Dit is sy geloofsgewoonte.

En spesifiek in die konteks van hierdie brief, gaan sy gebed oor Timotheüs, sy geestelike kind.

Soos ouers in byna al hulle gebede aan hulle kinders sal dink, so Paulus ook met sy geestelike kind, Timotheüs.

Paulus verlang om hom weer te sien.

Hy sit gevange in Rome en hy het heimwee na hom.

Hy dink terug aan die vorige keer wat hulle bymekaar was.

Paulus skryf: as ek aan jou trane dink.

Timotheüs het waarskynlik trane in sy oë gehad met die vorige afskeid.

Paulus verlang na die blye dag as hulle weer sal kan ontmoet.

 

En dan, wat hom veral met blydskap vervul, is as hy dink aan Timotheüs se ongeveinsde geloof.

Mens kan ook vertaal: opregte geloof.

Dit was nie net ‘n leë tradisie nie, dit was nie met bymotiewe nie.

Sy geloof was opreg, ‘n jongman wat sy lewe opreg aan die HERE gewy het.

En ook in Timotheüs se geval het die geloof ‘n duidelike oorsprong gehad.

Ook in sy geval het die Heilige Gees sy voorouers gebruik om die geloof in Timotheüs se lewe te bring.

Ook in sy geval was die gesin die bousteen.

Paulus trek ‘n parallel tussen sy lewe en die van Timotheüs.

Hulle het beide die voorreg gehad om van kindsbeen af in die verbond op te groei.

In Timotheüs se geval verwys Paulus spesifiek na die vroulike voorgeslag.

Hierdie opregte geloof, skryf hy, het eers gewoon in jou grootmoeder, jou ouma Loïs, en toe ook in jou ma Eunice.

Skynbaar het Paulus Timotheüs se ma en ouma geken.

En dan, skryf hy, ek is oortuig dat hierdie opregte geloof ook in jou is.

 

Nou hoekom sonder Paulus hier spesifiek die vroulike lyn uit?

Om ‘n antwoord hierop te vind, moet ons bietjie nader ingaan op wie Timotheüs presies was.

Ons lees op meer plekke in die Nuwe Testament oor hom, en daaruit kry ons ‘n prentjie van wie hy was en vanwaar hy afkomstig was.

Vanaf sy tweede sendingsreis het Paulus vir Timotheüs begin saamvat.

Vanaf toe het hy met Paulus begin saamwerk tot aan die einde van Paulus se lewe.

En al was hulle nie altyd bymekaar nie, tog het hulle per brief kontak gehou.

Timotheüs was afkomstig uit die stad Listre, of dalk Derbe (Hand 16:12; 20:4), geleë in Klein-Asië.

Timotheüs se ma, Eunice, was ‘n Jodin.

Dit spreek vanself dat sy ouma, Loïs, dan ook ‘n Jodin was.

Soos ons weet het daar baie Jode in Klein-Asië gewoon, die Jode van die Diaspora.

Hulle was dikwels Godvresende Jode.

Timotheüs se pa was egter ‘n Griek (Hand 16:1,3).

Verder weet ons niks van sy pa nie.

Moontlik dat Timotheüs-hulle tot geloof gekom het tydens Paulus se eerste sendingsreis, want ook toe was Paulus, saam met Barnabas, in Listre en Derbe (Hand 14:6-21).

Die feit dat Paulus hom sy seun noem, en dit meer as een keer in die Nuwe Testament (byvoorbeeld ook in 1 Kor 4:17 en 1 Tim 1:2), dui moontlik daarop dat deur Paulus se Evangelieprediking Timotheüs na die geloof in Christus gelei is.

Wel is Timotheüs deur sy Joodse ma en ouma al van jongsaf opgevoed in die kennis van die heilige Skrifte.

Dit lees ons in hoofstuk 3:15.

Sy ma en ouma het van jongsaf hom onderrig in die Ou Testament.

En danksy Paulus se prediking het hulle oë daarvoor oopgegaan dat die Ou Testament in Christus vervul is.

Paulus noem dit as hy skryf: dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus.

Die Ou Testament, ja heel die Skrif, is dus nog steeds onmisbaar ook vir die nuwe verbond (2 Tim 3:14-16).

Paulus roep hom op om te bly by dit wat hy van jongsaf geleer het.

Hier sien ons die kontinuïteit tussen ou en nuwe verbond.

Dit wat in Godvresende gesinne in die ou verbond gebeur het, het waarde ook in die nuwe verbond.

Timotheüs hoef sy Joodse opvoeding, sy kennis van die Ou Testament, nie te vergeet nie, hy moet dit juis nou gebruik as hy Christus preek!

 

Broers, julle moet ook nie julle Godvresende opvoeding vergeet nie.

Of dit kort of lank gelede was, dit bly die fondament waarop jy jou ampswerk gaan bou.

Dalk is jou ouers al oorlede, of grootouers, dalk leef hulle nog.

Maar ons dink vandag dankbaar terug aan die opvoeding wat ons van hulle ontvang het.

‘n Godvresende opvoeding is ‘n baie sterk fondament waarop jy nou jou ampswerk kan verrig.

 

Gemeente, op sy tweede sendingsreis besluit Paulus toe om Timotheüs saam te vat.

Aanleiding hiervoor kon gewees het dat die broeders in Listre en Ikonium ‘n goeie getuienis oor hom gegee het.

Handelinge 16:2 “Hy het goeie getuienis gehad van die broeders in Listre en Ikonium.”

Ook was daar profesieë met betrekking tot Timotheüs uitgespreek – 1 Timotheüs 1:18.

Skynbaar is die gawes om ‘n dienaar van die Woord te word, al vroeg in hom raakgesien.

Paulus verwys daarna terug as hy Timotheüs aanspoor: “Verwaarloos nie die genadegawe wat in jou is nie, wat jou gegee is deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge.” – 1 Timotheüs 4:14.

 

Verder weet ons, omdat sy pa ‘n Griek was, dat hy nie besny was nie.

Paulus het hom toe besny.

Timotheüs was geregtig op die Joodse besnydenis, omdat sy ma ‘n Jodin was.

Paulus het dit gedoen, nie omdat dit verplig in die nuwe verbond is nie, maar vir die geval dat die Jode aanstoot sou neem.

Hy het alles gedoen om nie ‘n struikelblok in die Jode se pad te lê nie, ‘n struikelblok wat die Jode moontlik as verskoning kon gebruik om nie na die Evangelie van Christus te luister nie.

 

Soos ek genoem het, het Timotheüs baie jare saam met Paulus gewerk.

Onder andere het hulle saam gearbei in Filippi, Thessalonika, Berea, Korinthe en Efese.

Veral in Efese was Timotheüs vir ‘n geruime tyd.

En later, toe Paulus in Rome was, was Timotheüs ook by hom.

Hoe dit verder met Timotheüs se lewe gegaan het, lees ons nie in die Nuwe Testament nie.

Net dat hy nog in die gevangenis was, maar ook weer losgelaat is.

In Hebreërs 13:23 staan: “Julle moet weet dat die broeder Timotheüs vrygelaat is, saam met wie ek julle sal sien as hy spoedig kom.”

Volgens die oorlewering in die kerkgeskiedenis het Timotheüs in later jare weer gearbei in Efese, en is hy daar oorlede tydens ‘n volksoproer.

 

Om saam te vat, gemeente, Timotheüs het nie ‘n maklike lewe gehad nie, maar wel ‘n pragtige lewe in diens van die Evangelie.

Of hy self getroud was en kinders gekry het, weet ons nie.

As dit so was, kan ons daarvan uitgaan dat hy die kosbare skat van die geloof ook weer aan hulle oorgdra het.

 

Broers, as ampsdraers gaan julle nie altyd ‘n maklike taak hê nie.

Tog spoor Christus julle aan: “hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering” (2 Tim 4:2).

En Hy verseker jou: Die Here sal jou bystaan en jou krag gee, Hy sal jou verlos van elke bose werk en red om in sy hemelse koninkryk in te gaan – 2 Timotheüs 4:17-18.

Ja ook op julle pad gaan daar bose werke kom.

Dit gaan julle seermaak.

Gemeentelede respekteer nie altyd hulle ampsdraers nie.

Soms sal hulle jou naam swart smeer.

En die duiwel weet, as hy ‘n ampsdraer in sy beheer kry, doen hy skade aan die hele gemeente.

En dan is daar nog jou eie ou sondige self, waarteen jy daagliks moet stry.

Maar, Timotheüs kry die belofte, en so ook julle:

“Die Here sal jou bystaan en jou krag gee”.

 

Die gesin as bousteen van die gemeente – ons jaartema.

Soos ons weet, is die anker van elke gesin die vrou, die ma.

En so is dit ook in ons teks.

Moenie dink die susters het nie ‘n taak in die gemeente nie.

Hulle taak is onmisbaar.

Laat ons eerlik wees: Watter een van die broeders wat hier voor in die kerk sit om vandag in die amp bevestig te word, watter een sou hier gewees het as dit nie vir hulle ma’s was nie?

Natuurlik, die Here kan ‘n ongelowige roep, sy lewe omdraai dat hy hom bekeer, dat hy lid word van die kerk, dat hy later as hy geloofservaring opgedoen het, ook in die amp bevestig kan word.

In ons sendingsgemeentes is daar voorbeelde daarvan.

Broers wat tans sendeling, of predikant, of ouderling is, wie se ma’s nie ‘n geloofsvoorbeeld was nie, wat verslaaf was aan drank, of dobbel, wat die voorouers vereer het.

God is daartoe in staat en Hy doen dit.

Maar dit neem nie weg nie watter ongelooflike voorreg dit is as iemand wel opgegroei het by ‘n Godvresende ma.

En dit word veral sigbaar as ‘n jongman in die amp bevestig word, soos dit by Timotheüs die geval was.

 

So ons kan nie die amp van moeders in die opvoeding van hulle kinders ooit oorbeklemtoon nie.

Ons tyd fokus so dikwels net daarop dat die vrou skynbaar agtergestel is, omdat sy byvoorbeeld nie in die besondere ampte dien nie.

Maar haar amp in die opvoeding van haar kinders, dit word so dikwels oor die hoof gesien.

Ek is maar net ‘n huisvrou ... hoor mens ma’s soms sê.

Verskoon my – maar net?

Moenie soos die wêreld praat nie.

Jy beklee ‘n eervolle, en ‘n hoogs invloedryke posisie!

 

Die goeie lewe in diens van die HERE mag ‘n verbondskind van geboorte af by sy ma leer.

Daardie eerste jare is die mees deurslaggewende jare.

Nie verniet nie skryf Paulus dat Timotheüs al van kleins af die Skrifte geken het.

Sy ma Eunice het hier ‘n onmisbare rol gespeel.

Sy het op haar beurt gedoen wat háár ma, Loïs, ook gedoen het toe sy klein was.

Daarom die oproep aan alle ma’s en ouma’s vandag:

Maak tyd om jou kind op te voed.

En pa’s, spreek julle waardering uit vir al die ure wat julle vroue tuis besig is om jou kinders te vorm.

Dit is nie vanselfsprekend dat jou kinders in die geloof opgroei, dat hulle as hulle groot is, belydenis van geloof aflê, dat hulle ook op ‘n dag soos vandag in die amp bevestig word nie, en dat die meisies op ‘n dag die amp van ma en huisvrou omhels nie.

Daaraan ten grondslag lê vele ure, ja jare se liefdevolle toewyding, dat jou vrou daar was vir jou kinders.

En uiteindelik kom die eer aan God toe.

Want dit is nie ons as ouers se prestasie nie, want Hy het die geloof ook in ons gewerk, en ook weer in ons ouers, en oupas en oumas.

Dis net genade as geslagte lank mense in die verbond mag lewe.

 

En dit is nog iets wat ons uit die teks kan leer.

Dis nie so dat dinge in die Nuwe Testament anders werk as in die Ou Testament nie.

Paulus noem in ons teks een voorbeeld uit die Ou, en een uit die Nuwe Testament.

As hy na sy eie voorouers verwys, dan gaan dit oor die Ou Testament.

Meeste van hulle het gelewe voor die Here Jesus se werk op aarde.

Paulus se voorgeslagte was nie Christene nie, maar wel gelowige Jode.

Hulle het in die ou verbond gelewe, en die geloof is van geslag tot geslag oorgedra.

Die tweede voorbeeld in ons teks kom  uit die nuwe verbond.

Eunice en Loïs was ook Jode, maar hulle het Christene geword.

Maar duidelik het die oordrag van die geloof in die nuwe verbond nie verander nie.

Ook in die Nuwe Testamentiese tyd is geloofsopvoeding van geslag op geslag ‘n baie belangrike middel wat Christus gebruik om sy kerk te vergader en te onderhou.

Dus nie net sending en evangelisasie nie.

Net so wesenlik is die verbondsonderrig aan die jeug binne die kerk.

Laat ons daarom hierdie middel koester, nie suinig wees met ons tyd en geld om die jeug te onderrig en te laat onderrig nie.

Want daarop rus so ‘n ryke seën van die Here!

 

Ons mag DV volgende week weer nagmaal vier.

Hoe ‘n groot voorreg is dit nie as ou en jong mense saam aan tafel sit, in sommige gevalle selfs kleinkinders saam met hulle ouers en grootouers.

Laat ons hierdie week weer daarna uitsien.

En ampsdraers – die oues en nuwes – moedig die gemeente aan om ernstig te wees oor die nagmaal, oor hulle kerkgang, elke Sondag weer.

Moenie as ampsdraer vreesagtig wees, onseker, al is jy jonk nie.

God het sy Heilige Gees aan jou gegee.

Hy werk in jou die vrugte van krag en liefde en selfbeheersing (vers 7).

 

En gemeente, moenie vergeet om vir julle ampsdraers te bid nie.

Respekteer hulle, al is hulle jonk.

En dank God elke keer as julle aan hulle dink!

 

Amen.

 

Liturgie: 

 

Votum

Seën

Ps 145:2,3

Wet

Ps 103:6,7

Gebed

Skriflesing: 2 Timotheüs 1

Ps 22:4

Teks: 2 Timotheüs 1:3-7

Preek

Ps 105:5

Bevestiging ampsdraers

Seën op ampsdraers

Oproep aan ouderlinge; aan diakens; aan gemeente

Ps 134:4

Gebed

Kollekte

Ps 115:8,9

Seën